Van Karoovlaktes tot stadsliggies – Annaré Jooste gesels oor ma-wees

Tobi Jooste en sy ma, Annaré. (Foto: Verskaf.)

Deur Elize Perrin

Ons sien hulle op die verhoog en alles lyk so glansryk en idillies. Dit is egter nie so maklik om die spreekwoordelike voet in die deur te kry in die kunste- en vermaaklikheidsbedryf nie. Elke droom het sy eie uitdagings. En wie sal die reis met sy op- en afdraandes beter ken en verstaan as ’n ma?

Annaré Jooste gesels uit die hart oor ma-wees vir ’n talentvolle kind met bondels vol drome.

Kleintyd

Mamma, waar was jy die dag toe ek gebore is?”, is een van die kosbare oomblikke wat Annaré Jooste uit haar seun, Tobi, se kleintyd onthou.

Annaré is die vrou wat geboorte geskenk het aan Tobi Jooste – sanger, skrywer, kosredakteur en sakeman. Sy onthou dat sy persoonlikheid kleintyd vinnig verander het.

“’n Mens kon hom amper as ’n ou siel beskryf,” sê sy. “Hy was baie volwasse op ’n jong ouderdom.” Sy vertel ook dat Tobi vanaf ’n vroeë ouderdom reeds ’n perfeksionis was.

“Ek onthou hoe hy sy speelgoed meer reggepak het as daarmee gespeel het.”

As ma wou Annaré graag aan haar twee seuns vryheid gee om te wees wie hulle is.

“’n Ma sal maar altyd twyfel of sy die regte waardes toegepas het, maar dit was belangrik vir my om my kinders te leer dat wie jy is, net genade is.”

Haar man, ’n boer, is nog al die jare betrokke by landbouorganisasies en die kinders is dus blootgestel aan verskeie hoëprofielpersone. Syself het egter ’n passie vir die man op straat en daarom was dit vir haar belangrik dat hulle moes leer dat jy nie beter as ’n ander persoon is nie.

“Jou karakter gaan wys deur hoe jy mense behandel wat nie noodwendig vir jou iets kan beteken nie,” glo sy.

Dit is vir haar belangrik dat haar kinders in hulself moet glo en dit moet uitleef, ongeag wat die wêreld daarbuite sê.

Annaré vertel sy en Tobi het ‘n besonderse band. (Foto: Verskaf.)

Loopbaan

“Ons familie het ’n lang geskiedenis van oudste seuns wat (moes) boer,” vertel Annaré.

“Tobi het ook al die familiename, maar ons het op ’n jong ouderdom gesien sy belangstelling en passie is nie by die boerdery nie.”

Dit was vir die Joostes belangrik om nie hul kinders in ’n rigting te forseer nie en elke kind sy roeping te laat uitleef. Dit was wel vir hulle ’n verrassing toe Tobi die Karoovlaktes vir Johannesburg se stadsliggies verruil het om sy drome te gaan uitleef. Vanaf die begin het hulle hom die vryheid van keuse gegee en ondersteun.

“Dis al hoe jy jou kind gelukkig gaan sien,” sê Annaré.

As ma het Annaré baie respek vir Tobi se integriteit as kunstenaar.

“Hy sal my soms bel en met frustrasie vertel hoe hy eerder weggestap het van geleenthede omdat dit teen sy beginsels is om sekere verwagtinge te ewenaar.”

Volgens haar handhaaf Tobi ’n goeie balans tussen kunstenaar en besigheidsman – iets waaroor hy en sy pa lank kan gesels. Sy vertel dat dinge vir Tobi “reg of weg is”; iets wat hy blykbaar by sy pa geërf het.

Annaré wys daarop dat Tobi daarvan hou om uiteenlopende uitdagings aan te pak; meestal dinge waarvan sy min weet.

“Daarom ondersteun ek hom op ’n emosionele vlak,” sê sy. “’n Ma hoef nie altyd te verstaan nie, maar net om te luister en dáár te wees vir jou kind, gee hom die selfvertroue om sy drome na te jaag.”

“Ek is ’n agter-die-skerm-ma,” sê sy. “Ek hou nie van die kollig of dat mense my Tobi-se-ma noem nie. Ek het my eie identiteit, nes hy.”

Sy erken dat dit altyd ’n trotse oomblik is wanneer sy in ’n vertoning die gehoor se waardering saam met hom ervaar. “Wat die meeste deur my kop gaan is: gaan die kind tog nie sy woorde vergeet nie!?” sê sy laggend.

Wanneer ’n mens se kind in die openbare oog is, is dit onvermydelik dat daar nie soms negatiewe kommentaar sal wees nie. Op ’n vraag hoe sy dit hanteer, gee Annaré toe dat dit nie lekker is om skindernuus oor jou kind te hoor nie.

“Dit maak tog maar seer, maar dit hang af hoe jy dit hanteer,” sê sy. “Ek het oor die jare geleer daar is ’n verskil tussen die waarheid en dit wat die media oordra. Die waarheid oorweldig altyd die geskinder. Ek het myself ook al hard gemaak teenoor wat die mense sal sê, want ek weet dit vorm deel van die proses om te groei tot volwassenheid.”

Dit maak haar trots om te weet dat Tobi doen wat hy doen omdat dit sy passie is en nie vir geld of roem nie.

“Sy passie is om met sy talent harte aan te raak,” sê sy.

Moederhart

Alhoewel ’n ma altyd die beste vir haar kind(ers) wil hê, is dit ook belangrik dat ouers nie hul eie drome deur hul kinders probeer leef nie. Volgens Annaré het sy ’n beginselbesluit geneem om altyd op die agtergrond te wees, maar hom ten volle te ondersteun.

“My gebed is dat sý drome tot vervulling sal kom, want dan het ek ’n gelukkige kind. En is dit nie wat elke ma na smag nie?” vra sy.

Vir Annaré is die grootste bederf wat Tobi haar kan gee, sy daaglikse telefoonoproepe.

“Ek het ’n passie vir die geestelike welstand van mense en om hulle te help,” vertel sy, “daarom is my fokus nie materialisties van aard nie. Ek glo dis ’n ouer se plig en voorreg om sy/haar kind onvoorwaardelike liefde te gee. In ruil daarvoor verwag ’n ouer net respek.”

Annaré en Tobi het ’n besondere band en sy vertel dat hy haar altyd met respek sal behandel. “Al gesels ons soms verby die punt van ma en seun, amper soos vriende,” sê sy,” sal hy nooit die lyn van respek teenoor my oortree nie.”

Ma-wees vir sulke talentvolle kinders is nie net ’n voorreg nie, maar ook ’n wonderlike uitdaging in die wêreld waarin ons leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.