Van klim en klouter na kliek (en kreun)

kinders-tegnologie-en-appsSó raak tegnologie elke deel van jou en jou kind se liggaam

Tegnologie het ʼn integrale deel van ons lewe geword. Ons lees ons nuus aanlyn, betaal ons rekeninge met ʼn selfoon en ontvang e-pos op ʼn tablet. Dis geen verrassing dat kinders ook entoesiastiese en vaardige gebruikers van tegnologie is nie – sommige van hulle is dikwels selfs vaardiger met die afstandbeheerder, speletjiekonsole of tablet as hul ouers; asof hulle instinktief dié nuwe manier van doen snap en dit nie hoef aan te leer nie.

Daar is nie net nadele hieraan nie. Aan die positiewe kant moet ʼn mens in gedagte hou dat tegnologie van kleins af kinders voorberei vir die “regte wêreld” waar hulle daagliks met tegnologie gaan werk. Kinders se ontwikkeling kan ook gestimuleer word deur hulle speletjies te laat speel wat die ontwikkeling van bepaalde vaardighede as doelwit het. Vir volwassenes maak tegnologie dit moontlik om makliker met mekaar en met hul werk in kontak te bly.

Ongelukkig is die nadele legio – veral uit ʼn fisieke oogpunt. Talle studies toon aan dat die oormatige gebruik van tegnologie vir kinders en volwassenes verskeie risiko’s inhou.

Argieffoto (Foto: snsforyou, Pixabay)

Gehoor

iPods en MP3-spelers hou ʼn groot risiko in vir kinders en volwassenes se gehoor. Volgens ʼn artikel op die Australiese webwerf My Body and Soul ly byna 70% van Australiese 18- tot 24-jariges en 72% van 25- tot 35-jariges aan tinnitus (ore wat sing); terwyl sowat 60% mense wat gereeld met oorfone musiek luister, die volume harder draai as wat veilig is.

Speel só veilig:

  • Beperk die hoeveelheid tyd wat jy en jou kinders aan baie harde geluide blootgestel word – nie net via tegnologie nie, maar ook by raserige konserte en klubs.
  • Wanneer jy oorfone gebruik om na musiek te luister, draai die volume só dat jy steeds iemand wat ʼn armlengte van jou af staan, kan hoor sonder om te skree.
  • Laat toets jou ore as jy vermoed dat jy reeds gehoorskade opgedoen het.

Argieffoto

Postuur

Ses tot agt uur per dag agter ʼn rekenaar kan veroorsaak dat ons ineengedoke en onbeweeglik raak. Dit kan skouer-, arm-, hand- en nekprobleme veroorsaak, en ook probleme met balans en koördinasie tot gevolg hê.

“Alles gaan oor balans,” sê Erna Kloppers, ʼn fisioterapeut van Centurion. “Kinders moenie langer as 20 minute op ʼn keer stilsit voor ʼn rekenaar of enige ander tegnologie nie. Dit moet ʼn lewenstyl word om elke 20 minute op te staan, ʼn draai te loop, ʼn glas water te drink, op ʼn trampolien te spring of ʼn paar bollemakiesies te maak en dan voort te gaan. Dit is ouers se verantwoordelikheid om dit van kleins af vir hul kinders te leer deur self die voorbeeld te stel. Maak ook die tyd wat aan tegnologie bestee mag word, deel van die huisreëls.”

Sommige navorsing reken selfs jou risiko om te sterf neem toe hoe meer krom en ineengedoke jou postuur ná sestig is: as jou liggaam ineengedoke is, word die hart en longe saamgepers, wat die vloei van suurstof en bloedtoevoer na die res van die liggaam benadeel.

Speel só veilig:

  • Handhaaf ʼn goeie postuur wanneer jy agter jou lessenaar sit. “Sit op ʼn goeie, ondersteunende stoel met jou rekenaar of tegnologie reguit voor jou,” sê Erna. “Jou nek moet in ʼn gemaklike, neutrale posisie wees. Jou rug en sitvlak moet teen die stoel se agterkant druk, en jy kan ʼn handdoek oprol en in die holte van jou rug plaas. Skouerblaaie na agter, skouers ontspanne en elmboë goed op die lessenaar ondersteun.”
  • Probeer om tydens middagete ʼn vinnige stappie te neem.
  • Staan minstens elke twintig minute op en stap deur die kantoor.
  • Stel vir kinders ʼn alarm om hulle te herinner om te beweeg. Maak dit kreatief en pret.
  • Sien ʼn fisio- of chiropraktisyn as jy vermoed dis nodig om jou postuur en ruggraat te laat assesseer.

Argieffoto

Moeë, branderige oë en hoofpyn is deesdae ʼn algemene werksverwante gesondheidsklagte. Wanneer jy voor ʼn rekenaarskerm sit, verminder die tempo waarteen jy jou oë knip, van 20 keer per minuut tot een of twee keer per minuut. Dit veroorsaak dat jou oë droog en krapperig raak.

“Enige volgehoue nabywerk veroorsaak mettertyd ʼn akkommodatiewe spasma, met die gevolg dat jou afstandsvisie verswak – dis hoekom ons deesdae so baie skoolkinders sien wat bril dra,” verduidelik Lizelle Nel, ʼn optometris van NelOptics oogkundige praktyk in Moreletapark.

Daar is egter ʼn ander, veel groter gevaar vir ons oë wat tegnologie inhou. “Daar word baie navorsing gedoen oor die effek van blou lig op ons oë, waaraan ons baie meer blootgestel word as gevolg van die digitale wêreld: 25 tot 35% van die lig wat deur LED-ligte en kompakte fluoresserende ligte uitgestraal word, is skadelike blou lig,” sê Lizelle. “Blou lig penetreer baie dieper in die oog as UV-lig, en die gevolg hiervan is ʼn verhoogde tempo van makulêre degenerasie: daar word beraam dat hierdie verkalking binne die oog met tot 50% in die bevolking sal toeneem teen 2020. Ons sien reeds dat die gemiddelde ouderdom waar degenerasie voorkom, van 70+ na 50+ verlaag.”

Die goeie nuus is dat leiers in die optieselens-bedryf reeds miljoene rande bestee het om ʼn nuwe anti-refleksielagie vir brillense te ontwikkel wat help om skadelike blou lig weg te keer van die oog af, terwyl die “goeie” blou lig wat nodig is vir wakker/slaap en algemene gesondheid, steeds deurgelaat word, sê Lizelle. Die slegte nuus is dat dié tegnologie nog nie ʼn opsie bied vir kontaklensgebruikers nie.

Speel só veilig:

  • As jou oë droog voel, kry oogdruppels wat die oë bevogtig.
  • Die ideale afstand vanaf jou rekenaarskerm: Hoe verder, hoe beter.
  • Neem gereelde breuke om skadelike spasmas in jou oë vir die korttermyn te verlig.

Argieffoto (Foto: TeroVesalainen, Pixabay)

Duime en vingers

Dis nie eintlik ʼn verrassing nie dat gesondheidswerkers ʼn toename sien in vinger- en duimbeserings wat veroorsaak word deur herhalende aksies met dieselfde liggaamsdele. Dis ʼn logiese gevolg van slimfone en tablette wat slegs met jou vingers en duime hanteer word, en natuurlik ook van ononderbroke sleutelbordgebruik. Een so ʼn tipe besering is karpaletonnelsindroom.

Verskeie studies toon aan dat die gebruik van handtoestelle soos selfone, rekenaars en die afstandbeheerders van rekenaarspeletjies ʼn fisieke “mutasie” in jongmense onder 25 tot gevolg het: jongmense se duime is deesdae die mees “gespierde” en veelsydige vingers, terwyl dit voorheen as die “domste” vingers aan die hand beskou is. Volgens dr. Sadie Plant, stigter van die Cybernetic Culture Research Unit aan die Warwick-universiteit in Engeland en navorser oor mense se gebruik van tegnologie, het dié tipe fisieke verandering baie vinnig gebeur, terwyl so ʼn verandering aan die funksies van die menslike liggaam voorheen oor generasies heen ontwikkel het.

Hoewel elektroniese toestelle meestal só ontwikkel word dat dit met al die vingers beheer kan word, kies jongmense onder 25 om die een of ander rede om hul duime te gebruik, eerder as ander vingers. In Japan, waar dié neiging veral sterk is, verwys jongmense na hulself as oya yubi sedai – die “duimgenerasie”, skryf Plant in haar navorsingsresultate. Sy het boonop gevind dat die “duimgenerasie” al hoe meer hul duime gebruik om take te verrig wat voorheen dié van ander vingers was, soos om na iets te wys of ʼn deurklokkie te lui.

Speel só veilig:

  • Neem gereelde breuke wanneer jy agter jou rekenaar sit en op jou sleutelbord besig is.
  • Laat rus jou arms op ʼn kussing vir ondersteuning.
  • Gebruik al jou vingers (nie net jou duime nie) wanneer jy met ʼn slimtoestel werk.

Argieffoto (Foto: FirmBee, Pixabay)

Konsentrasievermoë

Ons redeneer dikwels dat tegnologie soos ʼn slimfoon ons vermoë om veelvuldige take gelyk te verrig, verbeter. Navorsing wys egter dat dit glad nie die geval is nie. Tegnologie dwing ons om ons aandag tussen soveel verskillende kanale met inkomende inligting te verdeel dat nie een daarvan uiteindelik behoorlike aandag kry nie. By kinders lei dit tot ʼn onvermoë om te fokus en take af te handel. Boonop toon navorsing dat mense wat reken dat hulle goed is daarmee om veelvuldige take gelyk te verrig, se stresvlakke hoër is as dié van hul eweknieë wat op een ding op ʼn slag fokus, en dat hulle dit moeiliker vind om irrelevante inligting te ignoreer.

Speel só veilig:

  • Probeer om net een ding op ʼn slag te doen, selfs wanneer jy op jou rekenaar, tablet of slimfoon besig is. Lees jou e-pos klaar, al hoor jy ʼn SMS-boodskap inkom; of maak Facebook toe wanneer jy besig is met ʼn taak wat konsentrasie vereis, sodat kennisgewings nie gedurig jou konsentrasie verbreek (en jou nuuskierigheid prikkel) nie.
  • Moedig hierdie gewoontes by jou kinders aan.
  • Herinner jou kinders dat tegnologie nooit belangriker is as menslike interaksie nie. Om in die middel van ʼn gesprek met ʼn vriend na jou slimfoon te kyk wanneer jy ʼn boodskap te ontvang, is net sulke slegte maniere soos om iemand in die rede te val en uit die bloute met iemand anders te begin gesels. Leer hulle om te fokus op die menslike interaksie waarmee hulle reeds besig is, en hul tegnologie te ignoreer tot hulle weer alleen is.

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Sensoriese, motoriese en emosionele ontwikkeling

Kinders maak deesdae grootliks staat op tegnologie wanneer hulle speel. “Dit kan onder meer veroorsaak dat kinders minder aktief buite speel en passief raak,” sê Lauri Oosthuizen, ʼn arbeidsterapeut van Centurion. “Dit het tot gevolg dat kinders se posturele spiere nie voldoende ontwikkel nie, wat op sy beurt ʼn negatiewe effek het op vaardighede soos koördinasie, motoriese beplannings, balans, spierkrag ensovoorts. Dit het weer ʼn negatiewe uitwerking op skoolverwante vaardighede soos persepsie, werkspoed, konsentrasie, hand/oog-koördinasie ensovoorts.”

Wanneer daar nie genoegsame blootstelling aan sensoriese stimulasie is nie, kan die kind inligting wat hy ontvang, vanuit sy sensoriese sisteme verkeerd interpreteer, wat die prosessering daarvan beïnvloed. “Dit lei weer tot sensoriese integrasieprobleme,” verduidelik Lauri.

ʼn Skrikwekkende addisionele gevolg van kinders wat met tegnologie speel, is die feit dat dit menslike interaksie begin vervang. Wanneer ouers met hul kinders speel, of kinders met mekaar speel, vind daar belangrike emosionele ontwikkeling plaas as gevolg van die interaksie, konflik wat hanteer moet word ensovoorts. Ook die fisieke aanraking tussen veral ouers en hul kinders is uiters belangrik vir kinders se emosionele ontwikkeling. Jong kinders het tussen drie en vier uur per dag fisieke aktiwiteit en menslike aanraking nodig vir optimale ontwikkeling. Wanneer ʼn kind ʼn tablet in die hand gestop word om vir hom ʼn slaaptydstorie te lees, gaan daar kosbare potensiaal vir emosionele ontwikkeling by die kind verlore.

Die vlak van geweld wat rekenaarspeletjies dikwels kenmerk, is ʼn verdere negatiewe aspek daarvan. Kinders raak so gedesensitiseer deur die geweld wat hulle nie net sien nie, maar waaraan hulle ook deelneem, dat ernstige vlakke van geweld in speletjies én die regte lewe hulle later nie meer kan skok nie. Omdat hulle maats ook die speletjies speel, raak dit aanvaarbaar en “cool” om te hou van die idee dat jy ander mense doodmaak of skade aandoen – al is dit ook net op ʼn televisieskerm.

Argieffoto

Speel só veilig:

  • Maak fisieke spel vir ʼn sekere tydsduur ʼn voorvereiste voor kinders hulle met tegnologie mag besig hou.
  • Skep tuis ʼn omgewing waar dit vir jou kinders maklik en lekker is om fisiek besig te wees – skaf ʼn trampolien of klimraam aan en moedig hulle aan om boom te klim en fiets te ry.
  • Vestig ʼn roetine waarin menslike interaksie onvermydelik is, soos om saam aan tafel te eet of saam ʼn slaaptydstorie te lees.
  • Monitor jou kinders se gebruik van tegnologie – nie net hoeveel nie, maar ook wát. Wees byvoorbeeld bewus van watter rekenaarspeletjies hulle speel.
  • Skeduleer tyd om saam met jou kinders aktief te speel, om dit vir hulle lekker te maak.
  • Reël vir jou kinders speel-afsprake met maats, en stel vooraf die reël vas dat hulle met geen tegnologie mag speel nie.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Medihelp se Élan-tydskrif vir lede verskyn en word met vergunning op Maroela Media geherpubliseer.

Susan Lombaard

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Digitaal, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae