Kom ek val sommer weg met ’n belydenis: Ek het al in my slapende tiener se kamer ingesluip om te gaan loer wat heen en weer oor die luggolwe gestuur word, want ek het al rillers aan die hand van ander ouers se vertellings beleef. Sensuele boodskappies wat ’n mens laat bloos.
Wat ek toe gevind het, in plaas van gruwels, het my verlig en skaam gelaat: ’n Skadelose, liewe briefie van my kind se kêrel, afgesluit met ’n digitale drukkie. Dit kon anders gewees het. Die tweetjies het mekaar amper ’n jaar gelede ontmoet, en nie weer sedertdien meer as mekaar se agterkoppe in die kerk gesien nie, as ek die saak nou mooi verstaan nie. Maar dit klets aldag en heeldag met die duime.
Die pre-digitale dae was so anders: Ons het eers briefies in die klas aangestuur met veilige frases soos “Ek hou van jou”. Dan het ons gewaag om vinnig oogkontak te maak terwyl ons met drie rye skoolkinders tussen ons in teenoorgestelde rigtings tussen die Wiskunde- en Huishoudkundeklas by mekaar verbybeweeg. Sewe en twintig versigtige stappies en amper soveel maande later het die onskuldigste soentjie agter die tennishuisie na skool gevolg. Die agtergrondmusiek van ʼn bonsende hart was die klankbaan.
Vandag is dit nie so nie. Die tieners het ’n klankbaan van moderne musiek wat elke ledemaat en deel van die anatomie in twee tale besing, met die video wat ook nog daarmee saamgaan en met die aanhoor van die musiek soos ’n film aanhitsend in die tieners se agterkop draai. Of dalk is ek net outyds en benoud, en verbeel my dis wat gebeur? Met grepe uit stomende liefdesfilms as konteks, is dit geen wonder dat die teksboodskappe tussen tieners sommer dikwels die grense van ordentlikheid oorsteek nie, of hoe?
Met digitale toenadering is kinders onder mekaar se klere in sonder dat iemand skrik of bloos. Waar ons die knaap se hand sou wegklap, antwoord vandag se meisies ’n opmerking oor hulle bobene met ’n geel blosende gesiggie met pienk wangetjies. Die “nee” is stom. Wat die tieners nie besef nie, is dat hulle so met vingers op die knoppies al die grense oorsteek. Sit ’n mens dan die tweetjies vir die eerste keer langs mekaar in die donker, is al die toestemming reeds gevra en reeds gegee – so geluidloos digitaal en dodelik gevaarlik.
Ek sou seker my kinders se selfone in die agtertuin wou begrawe, as dit nie daarvoor was dat daar baie nodige digitale drukkies ook kan wees nie, soos die skaam gesiggie, die biddende handjies en die drukkie wat ek drie-in-’n-ry moes stuur toe ek te kwaai was met my tiener na ’n rampspoedige Wiskundetoets. Drie klein prentjies sê: “Ek is so skaam oor hoe ek opgetree het. Sal jy my asseblief vergewe? Kan ek jou nou maar weer liefhê?” En die digitale drukkie wat sy toe terugstuur gevolg deur ’n hele rits hartjies in baie kleure spreek ook woorde wat ons nie in persoon vir mekaar sou kon sê nie.
Nou neem ons maar die goed met die sleg, praat openlik oor die woorde wat ons nie sou sê nie en daarom nie mag tik nie, en wanneer ons by die plek kom waar woorde nie genoeg is nie, plak ons blommetjies, hartjies en emosie-gevreetjies op strepe omdat dit soms meer oordra as woorde en soos twee veilige arms ʼn digitale drukkie om ’n tiener- of ’n ouerhart kan vou.
- As jy meer wil lees oor hoe om hierdie moeilike gesprekke met jou tiener te voer en mediaweerbaarheid te kweek, lees gerus Hettie Brittz se nuutste ouerskapboek “Kweek Dissipline met Deernis.” Die alfabetiese inhoudsopgawe sal jou lei na temas soos “weerbaarheid”, “morele ontwikkeling”, “seksuele versoeking”, “tieners” en “selfone”.