Verander die manier waarop jy studeer vir beter resultate

leerder-wat-moeg-is

Foto: Dreamstime.com

Goeiedag tannie Susan

My ma het gesê ek moet vir jou skryf. Ons bly in Oos-Londen. Ek is in Graad 10 en kry regtig swaar met elke eksamen. My maag trek sommer so op ʼn knop van die stres. Ek sukkel om aan die leer te kom en dan begin die tyd my inhaal. My punte lyk nie goed nie. My ma het my al laat toets, maar daar’s niks fout nie. Ek het groot drome vir my toekoms (ek wil regte studeer) maar sal my drome dalk moet begrawe as ek aanhou om so sleg te vaar.

Karin

Liewe Karin

Wat jy ookal doen, moenie jou drome begrawe nie. Party mense blom vroeg in hul lewens en ander later. Die “Koningin van die Andes” is ʼn kleinerige plant, maar wanneer dit uiteindelik blom, groei dit tot 12 meter hoog. Dalk het jy nodig om net ʼn paar dinge te verander om te begin blom.

Een van die grootste redes waarom leerders sukkel om te studeer, is ʼn gebrek aan konsentrasie. Wanneer jy wil studeer, is dit uiters belangrik dat jou gedagtes nie dwaal nie.

Daar is verskeie redes waarom jou gedagtes dwaal wanneer jy eintlik moet studeer:

  • Dinge wat jou aandag aflei en jou gedagtegang onderbreek: stemme, bewegings, ʼn telefoon wat lui, harde musiek, ensovoorts. Skakel dit uit!
  • Gebrek aan opleiding en oefening: konsentrasie is ʼn vaardigheid wat aangeleer en geoefen moet word.
  • Gebrek aan motivering en belangstelling: jy hou nie van die vak nie, vaar nie goed daarin nie en wil dit nie leer nie; sonder belangstelling sal jy nooit kan konsentreer nie.
  • Oorlading van jou brein: jy probeer te veel inligting in te min tyd leer.

As jy werklik goed wil konsentreer moet jy die volgende doen:

  • Verdeel jou werk in kleiner dele en moenie alles op een slag probeer leer nie.
  • Navorsing het bevind die beste tyd-resultate word verkry deur studietyd in gelyke dele te verdeel. Dié wat ʼn lang studeertyd met ʼn korte afwissel, sal minder onthou as dié wat hul tyd meer eweredig verdeel. Studeer dus vir so 30 minute, rus dan vir 10 minute en herhaal. Wanneer jy ʼn ruskansie benut, moet jy glad nie eens aan jou leerwerk dink nie.
  • Toets jouself kort-kort oor die werk wat jy reeds geleer het om seker te maak jy kan dit onthou. Selfs as jy by die punt kom waar jy alles kan onthou, sal verdere studie verseker dat jy nie môre of oormôre sekere dele van jou leerwerk vergeet nie. So gee jy jou brein die geleentheid om ʼn ruk te konsentreer en inligting in te neem en daarna te ontspan terwyl die inligting vasgelê word. Jy kan jou konsentrasie verder só verbeter:
  1. Rig vir jou ʼn aangename studieplek in, sonder enigiets wat jou konsentrasie kan verbreek en jou aandag aftrek. Maak nou ʼn gewoonte daarvan om al jou skoolwerk hier te doen.
  2. Sorg dat daar genoeg lug en lig is waar jy studeer.
  3. Skakel geraas en veral musiek uit wanneer jy studeer.
  4. Probeer belangstel in die vak wat jy leer.
  5. Stel vir jouself doelwitte wat jy moet bereik.
  6. Gebruik al jou sintuie: skryf dit sodat jy dit kan sien, sê dit hardop sodat jy dit kan hoor en gebruik jou liggaam, soos jou hande, om die woorde te versterk.

Volgende week gesels ons verder, dan deel ek met jou praktiese hulpmiddels om studeer makliker te maak.

Susan oor Skoolwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 530 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Bronne: Monnas.co.za; mieliestronk.co.za; Totale Geheue: Hoe om Alles Beter te Onthou deur Joan Minninger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.