Verbruikersake: Hoop vir goedkoper skoolklere

skoolskoene-2

Argieffoto

Die meeste ouers moes weer hul begrotings mooi dophou toe hulle die afgelope paar weke skoolklere vir hul spruite moes aanskaf. Skoolklere is duur en die feit dat sommige skole se klere net by sekere winkels gekoop kan word, maak dit ook nie makliker nie. Die Mededingingskommissie het al ondersoek ingestel na niemededingende gedrag in die bedryf en het pas belowe dat ’n aankondiging binnekort gedoen gaan word oor skoolklere. Ina Opperman vertel meer.

Die Mededingingskommissie het skole aan die begin van die jaar weer gewaarsku dat hulle moet hou by die riglyne vir skoolklere wat deur die departement van onderwys ingestel is om nie-mededingende gedrag in die bedryf hok te slaan. Die bedryf moet voldoen aan die Wet op Mededinging en sorg dat skoolklere teen billike en bekostigbare pryse verkoop word.

Die kommissie se ondersoek na niemededingende gedrag by skole is vroeg verlede jaar voltooi en die kommissie het tydens die ondersoek bevind dat ’n aantal skole steeds net kontrakte met net een verskaffer het. Hierdie kontrakte is ook nie toegeken na ’n mededingende en deursigtige tenderproses nie.

Wanneer die kommissie bevind dat rolspelers in ’n bedryf nie mededingend optree nie, word hulle gewoonlik voor die Mededingingstribunaal gedaag en groot boetes opgelê, maar die kommissie wil nie die skole aan ’n lang regsproses blootstel wat gaan inmeng met skole se hoofdoelwit om kinders op te voed nie.

Die kommissie het egter met rolspelers, wat private skole, soos Curro, ADvTECH en Reddam House, verskaffers, beheerliggame en die regering insluit, gepraat en ooreengekom op die toepassing van die riglyne vir skoolklere wat deur die departement van onderwys uitgevaardig is. Daarna het die kommissie ’n ooreenkoms gesluit met die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat daarop gerig is om skole op te lei en aan te moedig om te voldoen aan die riglyne.

Die groep het die Mededingingstribunaal toe genader en sal op 6 Februarie die ooreenkoms bekendmaak. Die riglyne sluit in:

  • Skoolklere moet so generies as moontlik wees sodat ouers dit by soveel verskaffers as moontlik kan koop.
  • Eksklusiwiteit van skoolklere moet beperk word tot individuele dinge soos skoolwapens wat apart gekoop en op skoolklere vasgewerk kan word.
  • Skole moet ’n mededingende tenderproses volg om verskaffers aan te wys.
  • Meer as een verskaffer moet aangewys word sodat ouers meer opsies het.
  • Ooreenkomste met verskaffers moet ’n beperkte tydsduur hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

mad ·

ek glo vas daars n monopolie op skoolklere in SA.
n klein skoolhempie ( gedrukte kleure)
nuut R290.00 by ons skool. ?

Anel ·

Ek weet nie hoekom daar so gekla word oor skoolklere nie. Kinders trek dit elke dag aan, en vir lang tydperke. Maar hulle gee nie om om duur ontwerpersklere te koop wat miskien een of twee gedra word nie. Want onthou, die kinders moet in die mode bly. Dink weer voor daar oor skoolklere gekla word.

NS ·

Anel ek hoor wat jy se maar ek koop nie vir ‘n 6 jarige kind ontwerpersklere nie…die dag as sy die waarde van dit ken dan kan ons gesels, maar R520 vir ‘n 6 jarige vir ‘n rok is belaglik

Mike ·

Jip dink ook so. Dis belaglike pryse. Moes hoes teen my sin.

Moedeloos ·

Ja, skoolklere is vreeslik duur. By ons werk dit so R500 uit vir n hemp en broek vir die seuns. Dan nog die trui van R300 en die wintersbaadjie van so R500. Dis net somersklere want die winterbaadjie moet dien as n reënjas want jy mag nie ander baadjies dra nie. Winterklere is ons darem bietjie beter af want dis vir die seuns net n grys langbroek en wit langmou hemp met die skooldas. Maar ja, dit is vreeslik duur. O en dan nog die vrydag klere van R380.

honourable member ·

Die ander probleem is skole wat hulle slegs hulle eie skool klere en sport hemde en goed verkoop. Geen ander winkel hou dit aan nie en jy moet maar net betaal want waar anders gaan jy dit dan koop.

L ·

Ons kan net ons skoolklere by die skoolklere winkel koop. Dis so duur en die skool steur hulle nie aan die riglyne nie. By ons skool kan jy net bruin skoolskoene dra en dis enige iets van R450 en op, omdat die winkels soos Jet, Wollies, Bata en Pep nie bruin skoolskoene verkoop nie. Dan hou die skoen net 4 maande want hulle voete groei. Hulle kan kaalvoet gaan maar die groter kinders wil nie kaalvoet skool toe gaan nie. Gelukkig darem nog net 1 jaar in laerskool dan kan ons darem Swart skoene koop en grys broeke by ander winkels.

Genieve ·

Ek het een kind op skool ek was net jammer vir ouers wat nog 2-4 kinders op skool het skoolklere is verskriklik duur wat nog te se van skryfbehoeftes ja ek stem die skole moet by die riglyne hou maar ook darem nie ouers uitbyt nie veral as jy net by die skool die klere moet koop.

M M ·

In Suid Africa het ek altyd baie goeie 2dehandse klere gekoop vir spot goedkoop by die skool se klere bank. Ek kan dit vir enige een aanbeveel. Dit is nie nodig om altyd nuut te koop nie behalwe kouse en skoene!

NS ·

Ek het R520 betaal vir ‘n Gr 1 rokkie…nogal die kleinste nommer ook… dan nie gepraat van die R460 vir ‘n drimac nie… Belaglik duur.. en ek moes vir haar 3 rokkie koop, mens kan nie net 1 he nie. Skande!!!

Bernadette ·

Dis verskriklik. Ons het begin met Gr R en die pakkie wat 1 keer per week gedra word….was 400.00 en dan n spesifieke tas van 800.00 wat net by die skool se klere winkel gekoop kan word.

Dell ·

Twee hoerskool dogters het my ‘n R2700 gekos aan net die basiese skoolklere en dit is niks vir die winter wat kom ingesluit nie. En nee, my kinders dra nie ontwerpersklere nie, want ons kan dit nie bekostig nie. Min mense weet dat die mense met Sassa grants vir kinders niks vir skoolklere en skryfbehoeftes betaal nie. Dit kos ons belastingbetalers miljoene ‘n jaar. Ja, ek weet hulle sal nog minder R2700 kan bekostig, maar daar moet beslis ‘n goedkoper opsie wees.

Bernadette ·

Hoekom kan almal nie die wit en grys uitrusting dra en kry die wapen (wat opgestryk kan word) en dalk n das of serp in die skool se kleure vir die winter maande?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.