Verminder suikergebruik só tydens swangerskap

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Elke swanger vrou hoor gereeld dat sy na komkommers, tamaties en ander gesonde kos moet gryp as die hongerpyne knaag, maar soms voel ʼn verwagtende mamma asof vrugte of groente net nie genoeg is nie.

Al wat sy dan wil hê, is ʼn groot stuk sjokolade, ʼn melkskommel of twee, pakke suikerlekkers of selfs brood, pasta en pizza – alles met ʼn hoë suikerinhoud.

Onthou, jy en jou baba sal niks oorkom as jy elke nou en dan ʼn sjokoladestafie verorber nie, maar om meer gereeld die gesonder opsie te kies, sal jou en jou baba se gesondheid bevorder en ook jou gewigstoename tydens jou swangerskap help beheer.

Nie net vererger hoë suikerinname jou swangerskapsimptome soos naarheid, sooibrand en buiveranderings nie, maar dit veroorsaak ook dat jou bloedsuikervlakke skielik styg en weer daal, wat jou uiters moeg kan laat voel.

Dit is ook belangrik om te onthou dat suiker in versnaperinge soos lekkergoed, koekies, koeke en koeldranke geen voedingswaarde bevat nie. Hierdie kosse behoort vervang te word met gesonder opsies soos volgraan, vrugte en groente wat natuurlike suiker bevat.

Jy is nie alleen as jy bekommerd is oor jou suikerinname tydens jou swangerskap nie. Suiker is noodsaaklik vir die liggaam en hoewel dit normaal is om ʼn soettand te hê tydens swangerkap, is daar wenke en alternatiewe wat jou lus vir ongesonde suiker kan blus en jou minder sal laat neig om na die lekkergoedkas te mik.

Beperk die hoeveelheid kossoorte wat jy eet wat suiker bevat. As dit onmoontlik is, probeer ten minste om dinge soos koek, roomys, fyngebak en ander versnaperinge wat suiker bevat te beperk of uit te sny.

Sluit soveel vrugte by jou dieet in as moontlik. As jy ʼn drang vir suiker het, eet vrugte soos mango, pynappel en aarbeie, maar vermy vrugtesap aangesien dit ʼn oormatige suikerinhoud het.

Vermy kunsmatige versoeters aangesien die skadelike effekte blywend is, selfs ná jou swangerskap. Gebruik eerder alternatiewe soos klappersuiker of heuning.

Skenk ook genoeg aandag aan die bestanddele in verpakte kos. Ontbytgraan, grondboontjiebotter en souse is voorbeelde van die verpakte kos wat versteekte suiker bevat. Kies eerder dié wat ʼn laer suikerinhoud het.

Moenie lekkergoed, roomys en koekies in die huis aanhou nie en koop dit slegs wanneer jy iets soets wil hê om te eet. Vermy dit ook om konfyt op jou brood te eet en gebruik slegs een lepel suiker in jou koffie of tee.

Sluit meer lae-glukemiese voedsel by jou daaglikse dieet, soos volgraan, bone, gort, hawermout, vrugte en groente, in. Dit neem langer om te verteer en voorkom dat jou bloedsuikervlakke die hoogtes in skiet.

Probiotika is lewende, maag-vriendelike bakterieë wat vertering bevorder. Natuurlike jogurt is een so ʼn probiotika, wat help om koolhidraatmetabolisme en bloedsuikervlakke te reguleer.

Onoplosbare vesel handhaaf spysverteringsgesondheid terwyl oplosbare vesel bloedsuikervlakke herstel. Hawermout en peulgewasse het die hoogste vlakke van oplosbare vesel terwyl onoplosbare vesel deur volgraankos verkry word. Vrugte en groente bevat albei soorte vesel.

Sluit meer proteïen soos neute, eiers en pluimvee by jou dieet in. Proteïen beheer die bloedsuikervlakke, hou jou versadig en verhoog die energievlakke. Gesonde vette word verkry deur neute, olyfolie en avokado’s en help om jou om minder lus te raak vir ongesonde kos.

Bron: Momjunction.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B ·

‘Suiker is noodsaaklik vir die liggaam’??

Suiker is NIE ‘n essensiële nutrient nie. (Vette is wel)

A ·

Dis hoekom hul se noodsaaklik en nie essensieel nie. Jy, jou liggaam kort suiker – nie coke suiker nie – maar natuurlike suikers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.