Versorg jou kind se selfbeeld só

moeder-en-seun

Foto: Dreamstime.com

Liewe Susan,

Ons graad 2-seun tree op asof hy net nie in dieselfde huis as sy sussie grootword nie. Hy gee nie om waar hy wat ook al neersit en vergeet nie, en het sommer in die eerste week van verlede kwartaal sy skooltas met al sy nuwe goedjies vir die nuwe skooljaar net so buite die skoolhek laat staan en op die rugbyveld gaan speel terwyl hy vir sy ousus moes wag. Soms is hy so verstrooid soos die spreekwoordelike professor, doen dinge sonder logiese volgorde en ander kere sal hy ʼn sin begin sê en dit dan nie voltooi nie. Oor sy onderwyseres van verlede jaar se kommentaar wil ek nie eers praat nie, dit het ons eenvoudig net té seer gemaak. Maar ek verstaan ook dat dit seker vir haar moeilik was om hom in haar klas te hê. Ek weet mos hy is slordig en vergeetagtig en hy werk stadig.

Ons het intussen ʼn afspraak gemaak by ʼn opvoedkundige sielkundige, maar sy is so vol bespreek dat ons eers einde Mei by haar gaan uitkom. Hier is my eintlike kommer: Wat moet ons doen om hom te help sonder dat ons sy selfbeeld nog verder knou? Ek kan sien dat hy nie gelukkig is wanneer ons met hom raas nie en ek voel vrek skuldig na elke konfrontasie wat ek met hom het.

Help asseblief.

Onkundige Ma.

Liewe Onkundige Ma,

Moenie te hard op jouself wees nie. Kinders kom nie met ʼn instruksieboek soos ʼn nuwe skottelgoedwasser nie, en ervaring wat ons met een kind aanleer, is nie noodwendig op ander kinders van toepassing nie. Jy noem spesifiek dat jy bekommerd is oor sy selfbeeld. Kom ons praat daaroor.

Ons het almal ʼn element van bang- en/of skuldig- en/of nikswerd-selfbeelde in ons, en dit hang van ouers en onderwysers, en eintlik alle belangrike beïnvloeders af, of kinders volwassenheid gaan bereik met ʼn positiewe prentjie van hulself, of ʼn swak selfbeeld wat baie van hulle besluite negatief gaan beïnvloed, sê funksionele terapeut, dr. Bertie Hanekom.

In die geval van ʼn kind wat herhaaldelik op die verkeerde manier tereggewys word, kan hy ʼn prentjie van homself begin ontwikkel wat primêr óf bang (vir byvoorbeeld foute maak) óf skuldig, óf nikswerd (minderwaardig) of sommer al drie is. Dis dít wat ons as ouers en onderwysers moet poog om te voorkom. Hier is ʼn lys van foute wat ons moet vermy, sowel as maniere om jou kind se selfbeeld te versorg. Dit geld sommer vir ons almal, of ons kinders nou met probleem-gedrag vorendag kom, of sommer net alledaagse foute maak:

Optrede wat ouers moet vermy

  • Op so ʼn manier praat dat ons die kind verneder, of dit nou voor ander is, of wanneer jy en jou kind alleen is.
  • Die kind laat voel asof niks wat hy doen ooit goed genoeg sal wees nie.
  • Verkleinerende woorde gebruik soos byvoorbeeld “jou bobbejaan”, “sies vir jou”, “ou babatjie” ensovoorts.
  • Jou kind skuldig te laat voel deur te verwys na al die honger kindertjies in Afrika wanneer hy nie sy kos opeet nie.
  • Inkonsekwente eise aan die kind stel: Ouers kan nie vandag een vorm van gedrag afdwing en die volgende dag ʼn teenoorgestelde optrede goedkeur nie. Indien ons konsekwent is, sal die kind gou leer om die regte gewoonte aan te kweek en te hou by die huisreëls. Dit stel ook grense waarbinne die kind weet hy met veiligheid kan optree en dit gee hom sekuriteit.
  • Eise stel wat bokant die kind se “vuurmaakplek” is, deur byvoorbeeld nie sy ouderdom, temperament of vaardigheidsvlak in ag te neem nie.
  • ʼn Kind te straf indien hy nie aan sulke onbillike eise voldoen nie.
  • Die kind se kos wegneem en hom honger bed toe stuur net omdat hy nie tafelmaniere nakom nie.
  • Aanhoudende druk op die kind uitoefen; ʼn soort magstryd met die kind aangaan tot hy/sy ingee.
  • Op die kind skreeu; raas en skreeu en jou humeur verloor en/of die kamer uitstorm gaan net jou kind se gevoel van sekuriteit belemmer.
  • Die kind dom of hulpeloos laat voel deur ʼn taak van hom af weg te neem as dit lyk of hy sukkel.
  • Die kind kritiseer.

Liefdevolle optrede

  • Konsentreer op die kind se positiewe gedrag, wys dat jy dit raaksien, komplimenteer hom en moedig dit aan.
  • Indien daar sommer heelwat is wat moet verbeter, begin met een ding en maak seker dit is goed vasgelê voordat jy met die volgende begin. Voorbeeld: begin met tafelmaniere en maak seker die kind se tafelgedrag is outomaties korrek voor jy begin met speelgoed optel of goeie maniere teenoor kuiergaste; wanneer goeie gedrag ge-outomatiseer is, onthou om dit te versterk deur hom so af en toe te prys of te beloon.
  • Hou die kind se ouderdom en vaardigheidvlakke in gedagte voordat jy vir hom nuwe gedrag wil aanleer.
  • Inoefening is belangrik; maak tyd en skep geleenthede waar jou kind rustig sy nuwe gedrag kan oefen. Doen dit speel-speel: dis nie veronderstel om straf te wees nie.
  • Jou voorbeeld moet getuig van kalmte en volwassenheid.
  • Indien jou kind sukkel om ’n reeks opdragte uit te voer, begin met een opdrag en vermeerder dit eers na twee opdragte indien hy een opdrag onmiddellik en korrek uitvoer.
  • Dis ook belangrik dat jou kind leer om onafhanklik op te tree; die versoeking om alles wat hy doen te kontroleer is moontlik sterk, maar los hom om self dinge te doen.
  • Eerlikheid en openheid tussen jou en jou kind is nie onderhandelbaar nie, en daarom moet jou kind nie bang wees vir jou nie. Hy/sy moet altyd die vrymoedigheid hê om eerlik teenoor jou te wees.
  • Voeding is belangrik. Maak seker jou kind eet gesonde kos en dat hy/sy fisiek gesond is.
  • Dis baie belangrik vir jou kind se selfbeeld om nie op skool akademies agter te raak by sy klasmaats nie; indien oueraande, huiswerk, take en rapporte vir jou ’n nagmerrie is, laat jou kind behoorlik toets en maak seker hy/sy kry die nodige hulp.
  • Baie liefde is baie belangrik; jou kind moet weet, maak nie saak wat hy doen of nie doen nie, jy het hom onvoorwaardelik lief en dit sal nooit verander nie.

Sterkte en geniet jou kinders,

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 480 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Kiepie ·

As ek mag, ons is deur dieselfde beproewing met ons een seun. Ons is deur die hele proses, toetse, terapeute, sielkundiges en elke denkbare medikasie en aanvulling en niks het gehelp nie. Tot een dag wat hy vir ons gevra het of daar dan “fout” is met hom omdat ons kom aanhoudend vir toetse stuur. Dit het ons geruk en eers toe het ons besef die impak wat ons “hulp” op hom het. Ons het onmiddelik besluit om hom te aanvaar vir wie hy is en om hom teen sy eie pas te laat ontwikkel. Ons is in die baie bevoorreg om ‘n besonderse klein plaasskooltjie in ons distrik te hê waar daar slegs 15 kinders per klas is en elke kind genoodsaak is om aan al die skoolaktiwiteite deel te neem aangesien hulle van elkeen se deelname afhanklik is. Die feit dat die skool en maats afhanklik is van elkeen se deelname maak dat niemand uitgesluit word nie en almal ondersteun en aangemoedig word. Hierdie betrokkenheid en samehorigheid het wondere vir sy selfbeeld gedoen. Hy vorder goed op skool en alhoewel hy nooit ‘n akademiese uitblinker sal wees nie is dit okey want hy het aanvaarding gevind en is gemaklik met homself. Hy het ander unieke eienskappe waarop hy kan bou om sy plek in die samelewing vol te staan.
Laat jou kind toe om homself te wees en kry of skep vir hom ‘n omgewing waar hy sy unieke menswees kan ontdek en ontwikkel.

Elizabeth ·

Liewe “Onkundige” Ma. Spaar jouself baie geld, hartseer en tyd en sit jou kind in ‘n Montessori skool. In die mainstream skole gaan jou kind 10 @ 1 op Ritalin eindig. Ek’s deur die selfde as jy waar die skoolhoof op ‘n stadium vir my gese het: “… maar Mevrou! 95% van die skool se kinders is op Ritalin/Concerta!” Die skoolfooie gaan dalk duur wees, maar jou kind gaan nie op medikasie/dwelms hoef te gaan nie en jy gaan nie ‘n fortuin hoef te bestee aan sielkundiges ens nie – sterkte

Ek weet ·

Dit is darem nou skeefgetrekte kommentaar en eintlik onsin Elizabeth. Ek weet nie waar jy jou inligting vandaan kry nie. Baie min kinders in die staatskole waar ek betrokke is in Gauteng gebruik die medikasie wat jy noem. Daar word baie moeite gedoen om kinders met spesiale behoeftes te akkommodeer en dit in moeilike omstandighede en met groot klasgroepe. Baie liefde, aandag en terugvoer en interaksie met ouers word gedoen. Al ignoreer sommige ouers hierdie interaksie geleenthede deur nie op te daag nie, nie hul kinders by te staan met huiswerk of ekstra werk of aanbevelings op te volg nie, gee die meeate opvoedkundiges nooit op met die onderwys van kinders wàt baie uitdagings lewer nie. Onderwysers laat weet ouers indien n kind professionele hulp nodig het sodat daar in sy belang opgetree kan word voordat hy so agter raak dat dat hy hulpeloos en uitgelewer voel. Indien n kind stadig ontwikkel is dit nodig om sy selfbeeld te beskerm waar psigterapie ook n belangrike rol speel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.