Video: Leer kinders die alfabet met dié oulike kletsrym

‘n Kind by Bredell se leesgroepie doen ‘n alfabet-aktwiteit. (Foto: Verskaf)

Greta Bredell (64), ʼn kopieskrywer van Jamestown, net buite Stellenbosch, het die ongeletterdheid onder die kinders in die Jamestown-gemeenskap opgemerk en besluit om ʼn kletsrym van die Afrikaanse alfabet te maak om hulle te help.

Een van die kinders by Bredell se leesgroepie doen ‘n woordsoek-aktiwiteit (Foto: Verskaf)

Bredell het ʼn ruk gelede van Pretoria af na Jamestown verhuis en gou die gevoel gekry dat sy die gemeenskap op ʼn manier wil help en by hulle inskakel.

“Ek het toe daaraan gedink om ʼn leesgroepie vir kinders te begin. Ek het gedink ons gaan sommer onder ʼn boom sit en saam-saam lees. Ek het ʼn klomp boeke, amper ʼn klein biblioteek by my huis, maar ek het agtergekom die kinders kan glad nie lees nie. Daar is kinders wat in gr.6 is, wat nog nie die woord ‘bal’ kan lees nie,” het sy aan Maroela Media gesê.

“Ek het besef daar is ʼn groot probleem en ek moet iets doen om die kinders te help.”

Bredell het eendag saam met ʼn paar graadeentjies by haar huis gesit en hulle het ʼn kletsrym begin sing wat hulle vreeslik geniet het.

“Maar die woorde van die kletsrym het gegaan oor verkragting en alkoholisme en ander slegte onderwerpe. Dit was vir my verskriklik om dit te hoor! Ek kon sien die kletsrym is vir hulle lekker, almal het saamgesing en gedans en hulle kon hulself daarmee vereenselwig,” het sy gesê.

“Ek het toe begin om ander woorde vir ʼn kletsrym te skryf, om hulle eerder op só ʼn manier die alfabet te leer. Dit was maar moeilik, want ek moes woorde gebruik wat lyk soos letters en dan moes dit boonop nog rym ook!”

Bredell het gesê al die kinders in haar leesgroepie het later die liedjie geleer en hulle kon almal saamsing. “Ek het die woorde op ʼn witbord geskryf en ons het sommer net op my stoep gesit en dit gesing en met houtlepels op koekblikke gekap om ʼn wysie te maak.”

Ná ʼn groot en lang gesukkel kon Bredell ʼn kletsrymer in die hande kry om die liedjie te sing, iemand om ʼn musiekvideo te maak én iemand om die animasiewerk vir die video te doen. Bredell en haar dogter het sommer self die visuele werk gedoen. Sy het ook alles uit haar eie sak betaal.

“Dit is regtig maar ʼn spoeg-en-plakwerk wat my ʼn goeie drie jaar gevat het om van die grond af te kry. Dit was baie harde werk, maar dis al die sweet en trane werd!” het sy gesê.

Greta Bredell het ‘n leesgroepie by haar huis in Jamestown begin waar sy kinders leer om te lees. (Foto: Verskaf)

Die video, wat onder “ABC Rap Afrikaans” op YouTube gelaai is, is tot dusver al amper 240 000 keer gekyk.

“Ek kan nie glo ons het gevorder van houtlepels op koekblikke slaan op my stoep tot soveel besoeke op YouTube nie! Dit is amazing! Daar kom gereeld groot groepe kinders na my huis toe, dan het almal van die leesgroepie hul maats gebring om die video te kom kyk. Die kinders is mal daaroor.”

Bredell vra partykeer vir die kinders hoeveel mense dink hulle het al na die video gekyk en dan raai hulle so 300 mense. “Ek dink nie eens die kinders begryp hoeveel 200 000 mense is nie!”

Bredell het nou ook begin om A4-grootte muurkaarte en flitskaarte te druk en sy verkoop dit saam met ʼn CD met die alfabet-kletsrym op. Sy verkoop dit aan mense wat dit dan aan minderbevoorregte skole kan skenk.

Om van dié alfabetpakkies te skenk of te bestel, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.