Vier die moeder in jou lewe

baba-voetjies-moederskap

Foto: Pixabay.com

Deur René Basson, bemarkingsredakteur: Intiem

Gister het ons weer Moedersdag gevier.

In soveel huise het dit ʼn gewoonte geword om deel te wees van die viering van die moeder van die huis omdat die gemeenskap dit aanmoedig, selfs in kerke word daar ʼn groot fokus op moeders geplaas.

As daar nou ʼn vrou is wat behoorlik verdien om gevier te word, is dit die ma in jou lewe. Dit is so dat jy eers werklik besef wat ʼn ma vir haar gesin doen wanneer jy self ʼn ma is. Daar lê soveel opgesluit in die woord Mamma – ʼn legio benamings is onlosmaaklik verbind hieraan: trooster, versorger, verpleegster en so hou die lys aan en aan.

Vra enige vrou wat sy in ruil vir goeie moederskap verwag en sy sal jou vertel sy verwag nie om oorlaai te word met geskenke nie, want die hart waarmee sy dit doen, dag ná dag, jaar ná jaar, is net so vol onvoorwaardelike liefde vir haar kinders dat dit haar vreugde bring en dít is vir haar genoeg.

Natuurlik is dit ʼn spesiale oomblik wanneer ʼn kind kom dankie sê, maar dit bepaal nie ʼn ma se toewyding aan haar gesin nie. Die beste wat enige kind vir ʼn ma kan doen, ongeag ouderdom, is om meer gereeld as net op Moedersdag liefde te bewys deur waardering, respek en erkenning; klein gebare wat deel kan en behoort te wees van ons kind-wees en mens-wees.

Moedersdag is die ideale dag waarop elke vrou wat die voorreg en vreugde van moederskap ken met ʼn hart vol dankbaarheid vir haar Here God kan dankie sê dat sy ʼn geseënde vrou is. Baie ma’s bid gereeld vir hul kinders, ongeag of hulle al self ouers is, maar hierdie dag is die gebed anders. Hierdie keer is die gebed nie vir die kinders nie, dit is ʼn dankbare hart wat lof bring aan die Een wat lewe gee.

Daarmee saam is daar die erkenning van afhanklikheid van God en die versoek om genade, wysheid, krag en leiding om die beste MA te wees wat Hy ʼn vrou gemaak het om te wees.

Nie elke ma ken die vreugde van geboorte gee nie, maar dit maak haar niks minder ʼn moeder nie. Elke vrou met ʼn moederhart vir die kinders wat aan haar toevertrou is, moet gevier word!

Vier die moeders in jou lewe, hulle is kosbaar en spesiaal. Moeders, vier jou moederskap met vreugde en dankbaarheid vir die voorreg van ma-wees.

Die mooiste naam waarby ʼn vrou geroep kan word, is Mamma!

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê Net ·

Kon dit nie beter stel! Voel presies net so. Sò dankbaar vir Ma-wees voorreg, n seën vir n leeftyd. Dankie MM vir opbouende plasings ook. SA het soveel slegte nuus, lekker om sulke goed ook te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.