Vier redes waarom ouers tuisonderrig verkies

Kind_boeke_Ouerskap.jpg

Foto: neurodevelopmentcenter.com

[promosie-artikel]

deur Prof Rita Niemann

Die groeiende belangstelling in tuisonderrig in Suid-Afrika laat ’n mens wonder waarom ouers besluit om hul kinders self te onderrig.

In ’n studie deur dr Susette Brynard word die volgende hoofredes aangevoer:

Veiligheid

Geweld in skole en die mate waartoe leerders geboelie word, asook die lae morele en godsdienstige waardes van talle medeleerders, is die belangrikste oorweging.

Individuele aandag

Individuele aandag verleen soepelheid aan die onderrigtempo. Begaafde leerders kan vinniger werk, terwyl swakker leerders meer tyd aan werk kan afstaan totdat hulle dit bemeester.

Selfstandigheid

Leermateriaal word sodanig ontwerp dat dit selfleer bevorder. Só ontwikkel leerders selfstandigheid en verantwoordelikheid wat hulle voorberei om tydens hul studente- en volwasse lewe onafhanklik te kan werk, dink en redeneer. Dit kweek weer selfvertroue.

Gesonde leeromgewing

Die huis, as leefwêreld van die kind, skep ’n veilige omgewing waar kinders wetenskaplike ondersoeke kan onderneem en verbande tussen die akademie en hul direkte omgewing kan lê.

Tuisonderrig is ’n besondere voorreg omdat jy tyd saam met jou kinders spandeer, deel is van hulle leerproses en deel in hulle opwinding soos hulle die wêreld ontdek.

Artikel verskaf deur:  Impak  Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hein ·

En tog, alhoewel daar voordele is, is daar ook nadele. Kinders ervaar hulle ouers ook nie altyd as onderwysers nie, en om te hou by die oggend roetine en nie te verval in gou weg slip om die wasgoed/skottelgoed/ens. te doen terwyl die kinders bv. iets moet lees nie, is baie moeilik. Die ouers en kinders moet geweldige selfdissipline aan die dag lê om te hou by hulle akademiese program; en dit kan die verhouding of versterk of skade berokken met gestelde verwagtings en beskikbare vermoëns. Ouers moet ’n goeie ondersteuningsnetwerk hê om al die skoolwerk korrek te interpreteer en oordra, veral die Wiskunde en Wetenskap (veral eksperimente) raak moeilik in die hoër grade. Die kinders mis uit op die sosiale interaksie en sportgeleenthede saam met met maats en mis baie klein lewenslessies in hulle beskermde omgewing. Indien ouers ’n on-ingeligde keuse doen t.o.v. die kurrikulum voorsiener, kan die kind se universiteitstoelating in die slag bly.
Die voordele is natuurlik dat jy jou kind nie blootstel aan al die ongure elemente by die skole nie, en dat jy seggenskap het oor die inhoud wat aan jou kind voorgehou word; en so die snert in deesdae se Sosiale Wetenskappe reg kan verduidelik. Tydsbestuur kan baie meer effektief gedoen word. Kostes is ’n voordeel; omdat gewone klere baie goedkoper as skoolklere is, en daar nie elke dag na ’n skool toe gery moet word nie.

Benita ·

Die artikel is baie kort en gee hoegenaamd te min inligting oor tuisonderrig, maar ek glo dat dit wel van die hoof redes verskaf vir die nagenoeg 60 000 kinders in SA wat reeds tuis akademies en andersins opgevoed word. Die regdenkende en opgevoede mense in ons land, en die wat verantwoordelikheid vir hul eie lewens en die lewens van hul kinders op hulself neem, het ‘n paar dekades gelede begin om die regering af te sny en uit te sluit van die opvoedingstaak van hul kinders. En tereg ook so, want die regering regeer die land en onderhou die infrastruktuur, en is geensins bevoeg of instaat om die opvoedingstaak van die kinders te vervul nie. Ouers bring kinders in die lewe, lê beloftes af voor God (indien gelowig), onderneem dan minstens om die verantwoordelikheid van ouerskap op te neem, en is veronderstel om bereid te wees om die totale opvoeding van hul minderjarige kinders (0-21) te behartig. Tuisonderrig is geensins skool by die huis nie. Dit is baie baie meer as dit. En dit is geensins waar dat net ‘n skool sisteem vir ‘n minderjarige kind dissipline en gestruktureerde opvoeding kan verskaf nie. Die skole in SA kan slegs (en in meer male nie) akademies bydra tot die opvoeding van die kind, en dit is in alle opsigte net ‘n druppel in die emmer van die totale opvoeding van die kind as ‘n mens. Dit is waarom kinders die pad byster raak want oningeligte ouers en akademiese opvoeders dink akademie in ‘n formele skool omgewing waar van almal verwag word om dieselfde te dink en te leer, is genoeg om die kind as unieke mens te ontwikkel en op te voed. Dit is waaragtig ‘n leuen. Dit is ‘n skreiende skande dat ons nie almal die groot en ingewikkelde verantwoordelikheid van tuisonderrig opneem vir ons nageslag nie. Tuisonderrig bring families bymekaar en bring die kind op in die gebalanseerde omgewing waarna hy smag, akademie of nie. Die mense in die tuisonderrig groep wat nie formele kurrikulum gebruik as enigste bron van opvoeding nie (unschoolers), getuig van baie sukses in hul kinders se opvoeding, en daardie kinders ontwikkel fantastiese vermoeëns en vaardighede omdat niemand inmeng met hul natuurlike ontwikkeling en die menslike behoefte om te leer nie. Hul ouers tree op as fasiliteerders en daar word geleer van alles waarin die kind belangstel en waaraan hy/sy blootgestel word. Onderskei ook net asseblief van regdenkendes en nie-regdenkendes. Die eersgenoemde is verantwoordelik burgers wat geld genereer, werk verskaf en bydra tot die land se ekonomie. Die laasgenoemde is die parasiet wat onopgevoed is om mee te begin, en nie wil werk nie, en dan ook nie sy/haar kinders opvoed nie, en ook nie eers sy/haar kind na ‘n publieke skool stuur om akademiese opleiding te ontvang, indien hy/sy dit self nie kan behartig nie. Skool soos ons dit ken in SA, is by verre tweede beste wat die opvoeding van kinders betref. Baie tuisonderrig kinders doen nie die SA matriek nie, maar liewer Cambridge of die Amerikaanse GED, want daardie kwalifikasies word internasionaal erken en as ‘n aanvaarbare standaard beskou voordat die adolossent enige tersiêre opleiding kan ontvang. Kan ons dieselfde sê van ons SA matriek? Ongelukkig nie. Die slegte toestand van ons huidige publieke skole is die ware getuienis en weerspieëling van die chaos wat ons onverantwoordelike amptenare in die regering van die afgelope 20 jaar in ons land veroorsaak. Ons weet almal dit berokken ons en ons kinders baie skade.

Asjas ·

Alles goeie redes maar …
Kinders leer nie hoe om sosiaal te verkeer met ander mense nie. Hulle leer nie spanwerk of saamwerk nie. Word ook baie gekoester groot en mis uit op sport geleenthede. Hul wereld is in my opinie baie klein. Al hierdie dinge mag dit moeilik maak vir so kind om as groot mens die wye wilde wereld aan te pak en sin te maak daarvan. Kinders moet bewus wees en blootgestel word aan die realiteit.

Jaques ·

Asjas jy praat duidelik nie uit ondervinding uit nie. Kinders wat tuisonderrig ontvang word lankal nie meer van die buite wereld afgesny nie. Hulle verkeer dus wel sosiaal met volwassenes wat onderrig gee, ander kinders wat ook tuisonderrig ontvang en/of die bree publiek wanneer hulle deelneem aan buitemuurse aktiwiteite.

Ek is nie seker na watter sport geleenthede jy verwys nie, want my seun het tot dusver deelgeneem aan tennis, krieket en golf. Die enigste verskil is dat die persone by wie hy afrigting kry is nie onderwysers wat nou maar sport ook afrig nie, maar professionele mense wat eintlik weet waarvan hulle praat.

My kinders was wel op ‘n stadium in ‘n gewone skool en my ondervinding van die spanwerk waarvan jy praat, is dat kinders deur die onderwyser in groepe ingedeel word. Die idee is dat almal dan bydra om die werk te voltooi, maar die realiteit is dat daar maar altyd ‘n klomp vrot appels is wat eerder agteroor sit en kyk hoe iemand anders die werk doen. Nou nie eintlik iets wat my kind by kan baat nie.

Asjas ·

Elke ouer moet die beste doen vir hul kinders. Daar is goeie publieke skole en ek is maar net te dankbaar dat my kinders in een van hulle is.

Benita ·

My kinders was in die skool, en hulle het seergekry daar. Akademies was hulle goed, maar sosiaal het hulle swaar gekry. Ek voed my 2 kinders nou tuis op. Hulle speel tennis, doen gimnastiek en dans ballet saam met anders kinders by klubs. Hulle het vriende van alle ouderdomme in die tuisskoolkringe. Hulle behoort aan die jeug by die kerk, en gaan op kampe. Hulle sosialiseer met alle ouerdomme in die tuisskool/unschool groepe tydens natuur en opvoedkundige uitstappies wat meer as een keer per maand plaasvind in meeste tuisskool groepe. Dit is vir my snaaks dat mense oor die sosiale ontwikkeling van kinders in ‘n familie bekommer as hulle hoor die kind ontvang tuisonderrig. Dink gou mooi: wie kan jou kind die beste sosiaal opvoed en sosiale vaardighede leer? Sy eie onvolledig opgevoede skoolmaats (van wie baie nie jou goedkeuring sal wegdra nie) , of jy en jou opgevoede wederhelf wat met verantwoordelikheid vooraf bepaal waaraan jy jou kind wil en nie wil blootstel nie? Die meeste mense wat ek ken wie se kinders op skool is, is redelik dikwels bekommerd oor die invloed van slegte maats op hul kinders, en die boelie aspek in skole wat wêreldwyd ‘n reuse probleem is. Sport en kultuur is hoog op die tuisskolers se prioriteitslys want ons weet dat dit net verdere balans in ons kosbare kinders se lewe inbou. Maar hope maats wat meer van Justin Bieber as van die Bybel af weet, wek nie juis ons belangstelling nie.

Annamarie ·

Die kommentaar oor sosialisering en akademise dissipline hier bo is duidelik gelewer deur mense wat nog nooit gedink het oor hoe die lewe werk buite die kunsmatige grense van skool nie. Die mens is in sy wese sosiaal en nuuskierig en gretig om te leer. Sosialisering en leer gebeur natuurlik tensy skool hierdie prosesse versteur. Kyk maar na kinders wat op 6 die eerste keer skool toe gaan. Is hulle wanaangepas en ‘n lee dop wat wag vir skool om enige iets te leer? Allermins nie!! Tuisleerders verkeer baie sosiaal en is gewoond om moeite te maak met vriende. Boonop is die meeste gretig om te leer en kom dit baie natuurlik (tensy die ouers hulle 6 ure op ‘n dag by ‘n lessenaar laat sit en die natuurlike liefde vir leer versteur word)

Leendert van Oostrum ·

Hmmmm…….

Dit is jammer dat Prof Niemann nie ‘n groter getal bronne geraadpleeg het nie.

Dr Brynard se bevindinge (soos weergegee of vertold deur Prof Niemann) verskil in belangrike opsigte van die konsensus in die navorsing oor die saak. Daarbenewens is die verhandeling beslis nie ‘n resente bron nie, en as ek reg onthou was haar steekproef redelik beperk.

Rita Niemann ·

Die doel van die oorspronklike artikel was om debat te genereer oor waarom ouers tuisonderrig moontlik sou verkies. Sommige van die uitgangspunte in die artikel van Brynard (2007) is gebruik as vertrekpunt en in terme van die huidige SA onderwyskonteks geïnterpreteer om die debat aan die gang te sit. Brynard het ‘n kwalitatiewe ondersoek onderneem en binne die kwalitatiewe paradigma word daar nie ‘n steekproef geneem nie, maar word spesifiek deelnemers wat waardevolle data kan verskaf, geíndentifiseer en gebruik. Navorsing is juis daarop gerig om nuwe insigte te ontgin en nie om konsensus te bereik nie. Kom ons gesels eerder saam en verkry insig in die sieninge en ervarings van ouers in die tuisskoolsektor!

Retha Bremer ·

Prof. Niemann – het U self u eie kinders tuis opgevoed, of dit oorweeg om dit self te doen? Het U enige interaksie met ouers en kinders in die tuisonderwys omgewing? Het U enige navorsing gedoen rakende totale selfgerigtekinders (unschoolers)?

Ek vermoed U is ‘n kundige betreffende SKOOL onderwys. Indien U die tuisskool gemeenskap werklik wil dien, behoort U ten minste op hoogte te wees van die volle spektrum van die tuisonderwys omgewing. Ek vermoed dat U nie bewus is daarvan dat die pedagogie van die kaskamer geheel en al verskil van die pedagogie van die huishoudelike omgewing nie. Dit is soos om voerkraal bestuur ewe skielik op ‘n widplaas van toepassing te maak….

Marelize Keyter ·

Ek is so dankbaar dat ek uiteindelik tuisopvoeding bo tuisonderrig gekies het as metode tot tuisonderwys.

Want sien, dan is roetine nie die alfa wat my rondswaai, sosialisering nie die draak wat my bedreig nie en ‘n kurrikulum beslis nie die omega nie.

Tuisopvoeding is om bloot die taak waarmee jy as ouer begin het die dag toe jou kind gebore is, enduit te volvoer.

Tuisopvoeding behels om my kinders groot te maak binne in die lewe, binne in die geroesemoes van ‘n daaglikse bestaan van werk, huistake (soos opruim, skoonmaak en vensters was), kuiers by familie en vriende, nogmaals werk, sport en die lewe self.

Tuisopvoeding is om nie my kind weg te neem uit die lewe, in ‘n vertrek te hok saam met 30 of 40 ander kinders wat net soos hy/sy nog nie van die lewe iets weet nie, gedwing te word om op slegs een manier inligting in te neem en verplig te word om dit op slegs een manier weer te gee – totaal anders as enige werklike lewensituasie of werksituasie.

Sosialisering op skoolvlak is ‘n totale wanpersepsie en die resultaat sien ons in kinders wat ouers manipuleer om hul sin te kry, ‘n samelewing gevul met jong volwassenes wat dink alles draai om hulle. Sosialisering is om te leer hoe om ander mense met respek te behandel, op te tree in sekere lewensituasies en mekaar te ondersteun – dit sien kinders by hul ouers, by ander volwassenes wat reeds die pad gestap het.

Oor die redes vir tuisonderwys is daar vir elke gesin sy eie kombinasie van redes. Die redes hoekom ons dit oorspronklik gedoen het, het deur die loop van baie jare verander. Soveel so dat al sou al die redes hoekom ons oorspronklik die kinders uit die skool gehaal het, vandag positief verander, sal ek steeds nie my kinders terugsit in ‘n skool nie – ek het die positief van Tuisopvoeding ervaar en ek weet dit is die heel beste vir ons kinders, vir enige kind.

Eliza-beth ·

My kinders was in die “goeie ou dae” ( : D ) in publieke skole maar ek ken heelparty ma’s wat tuisonderrig gee om verskillende redes. Daar is heelwat sport en sosiale klubs waaraan kinders kan behoort; dis nie te sê hulle leer nie hoe om sosiaal te verkeer of maats te maak nie. Van die ma’s het self ook tipe klubs vir hul kinders gestig en hul gaan op die wonderlikste leersame uitstappies. As ek vandag kinders moes hê sou ek waarskynlik ook tuisonderrig gekies het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.