‘Vir ’n kort tydjie het jy hom gehad, maar …’

pa-en-seun

Foto: Negative Space/Pexels.com

Deur Susan Maré

Ek ontmoet iemand wat jare gelede sy enigste seun van ses of sewe jaar doodgery het met sy bakkie – nadat die kind van die bak afgeval het. Wat die omstandighede ook al was, maak nie meer saak nie. Dis die tragiek van die verhaal wat aangryp – ’n pa het met sy bakkie oor sy seun gery. En dat dié pa – ’n sagsinnige en sensitiewe mens – noodwendig lewenslank sou wroeg en treur. Elke verjaarsdag, elke Kersfees en ander herinneringe sou telkens opvlam van ’n vuurtjie wat nooit volkome as wou word nie. Telkens ’n vlammetjie wat die tragedie weer laat gloei.

O, Die pyn-gedagte: My kind is dood!..

Só verwoord die digter, Totius, sy pyn oor die tragiese afsterwe van sy kind.

Min dinge is glo so seer as om ’n kind aan die dood af te staan. Moderne sielkunde en berading kan hartspyn “sagter” maak. God se Woord kan volgehoue troos en hoop bring. Gebed kan ’n mensekind “regop hou” en versterk. ’n Hand onder jou elmboog of op jou skouer kan bemoedig. Volkome bevryding en aanvaarding op aarde mag egter ontwykend wees, wat ook al die tragedie. Soos die see, sal dit soms storm en soms kalmer golwe na die strand van die lewe bring. Verlange word nie maklik getem nie. En skuldgevoelens – soms onnodig toegedig en lewend gehou deur die self – verdonker baie lewens op aarde.

Want ’n mens op aarde bly ’n mens. Bly ’n mens. Bly ’n mens. Dis nie altyd hemel op aarde nie, hoewel dit baie keer tóg is. En die lewensloop van mense is dikwels wreed en onverstaanbaar. Dis selde verklaarbaar as deel van God se geheimenisse wat nog nie geopenbaar is nie. Godskinders ken die oorsprong en stryd. En vra soms vrae. Want iewers ver kniel 21 Koptiese Christene in ’n heidense land en sing Godsliedere terwyl hulle wag om onthoof te word. En iewers is ’n psigopaat besig om ’n onskuldige mens te verinneweer en te martel. Lyding onbeperk.

Wat sê ’n mens vir ’n pa wat met sy bakkie oor sy kind gery het?

Ek weet nie. Miskien niks. Miskien juis niks. Vir eeue lank wonder mense oor pyn en lyding. Teoloë, geestelike leiers en gewone mense skryf boeke oor die hoekoms en waaroms, en niemand kan dit werklik vaspen nie.

Want dood en lewe is nie in die mens se hande nie. Nog minder die begrip en verklaring daarvan. God alleen weet hoekom Hy toelaat wat Hy toelaat. Ons was nie saam met Hom in sy binnekamers toe Hy elke mens geskep en sy of haar lewensloop beplan het nie. Hulle wat glo in God se verlossingswerk leef in die greep van sy genade en in die geloof dat Hy hulle in die dal van doodskaduwee steeds sal vashou. Hy begewe of verlaat nooit dié wat aan Hom behoort nie.

Wat sal ek tog vir die pa sê?

Miskien net ’n paar trooswoorde van meelewing. Miskien sal ek vir hom uit Filemon 15 aanhaal: “Miskien was hy ‘n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry …”

Die teenswoordige wêreld as ’n onewige bestemming is besig om soos ’n gedagte verby te vlieg. Of soos ’n pragblom in die veld: die een dag in volle blom – die volgende dag verlep. Afsterwing kan niks of niemand ontsnap nie en ons tyd van blom is kort.

Wat sal ek vir die pa wil sê? Ek weet nie regtig nie.

God die Vader sal weet – Hy wat ook ’n seun aan ’n wrede dood moes afstaan. Dood wat lewe geword het. Verlossing. Opstanding. Hemelvaart. Ewige bestemming.

Ons tyd op aarde is kort. Daarom gaan die pa en sy seuntjie mekaar “gou weer” sien en mekaar vir ewig besit. Die tussenin tyd wat swaar was, sal vergete wees. Dit was nie bestem dat hulle vir altyd hier sou wees nie.

“Die wêreld is ons woning nie.” (Totius).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.