Vir oumas met kleinkinders wat ver bly

Foto: Tommie Milacci

Foto: Tommie Milacci

“Hallo ouma se poppie! Jy het so groot geword. Kan julle my hoor? Ag nee, ek kan julle nie hoor nie.”

Hierdie is maar net ʼn paar van die frustrasies wat oumas beleef wanneer hulle met kleinkinders kommunikeer wat ver bly. Nuwe tegnologie is soms ʼn gesukkel, maar die meeste oumas doen baie moeite om die lang afstande tussen hulle en hul kleinkinders te verkort.

Hoe vorm of behou jy ʼn verhouding met jou kleinkind as hy ver bly?

Ans Pelser van Parys se kleinkinders is reg oor die wêreld verstrooi en woon in Kaapstad, Dubai, Pretoria en Korea. Vir haar is persoonlike kontak nog die beste manier, maar sy weet omstandighede laat dit nie altyd toe nie. “Dis baie moeilik, maar mens probeer maar soveel moontlik kontak behou. Ons bel en Whatsapp mekaar. Ek geniet ook die foto’s wat hulle op Facebook laai.” Vir Ans is dit belangrik dat haar kleinkinders hul eie lewens lei, maar sy sê hulle moet altyd weet sy stel in hul lewens belang. “As hulle sien jy doen moeite, sal hulle ook moeite doen.”

Margaretha Kruger van Pretoria het twee kleinkinders wat in Australië bly. Sy doen graag moeite met spesiale geleenthede soos verjaarsdae en Kersfees. “Dis ongelooflik moeilik as hulle ver is, maar ek stuur maar betyds pakkies vir spesiale geleenthede.” Margaretha is ook dankbaar vir vandag se tegnologie en sy sê dat haar kinders gereeld oulike video’s van die kleinkinders stuur. “Ek kon sien hoe my kleinseun vir die eerste keer kruip en ek kan dit oor en oor kyk.”

Nog ʼn ouma met ʼn kleindogter in New Zeeland stuur graag Afrikaanse boeke en kinderreekse vir haar “blom”. “Ek skryf altyd die datum en ʼn boodskap in die boeke wat ek stuur. Hopelik is dit iets wat sy sal waardeer as sy bietjie groter is.”

Maroela Media het ook aan ʼn paar idees gedink om ʼn goeie verhouding met kleinkinders wat ver bly, te handhaaf:

  • Maak weekliks ʼn dag en tyd vas om met jou kleinkind oor die foon te praat. Probeer om so na as moontlik aan hierdie dag te hou sodat dit ʼn gewoonte raak.
  • Probeer om by te hou met tegnologie soos Skype. Dit kan soms ʼn uitdaging wees, maar oor die langtermyn is dit al die frustrasie werd. Skype laat jou toe om van aangesig tot aangesig met jou kleinkind te praat.
  • As jou kleinkinders tieners is, doen moeite om hulle kommunikasiemiddels te leer ken. Vandag se tieners gebruik graag Whatsapp, Facebook en Instagram. Dit gee jou toegang tot foto’s en video’s – ʼn lekker manier om deel te wees van hul daaglikse lewe.
  • As jy graag geskenke stuur, gee dit ʼn persoonlike gevoel sodat hulle altyd aan jou sal dink: Maak ʼn fotoalbum van jul gesin met ʼn kort beskrywing by elke foto. Of stuur iets wat jy met die hand gemaak het – ʼn trui, kombers of selfs iets wat jy geskilder het.
  • Raak kreatief met spesiale geleenthede: Neem ʼn video waar jy en oupa vir kleinseun wys hoe om te dans as dit matriekafskeid-tyd is. Of stuur ʼn stemopname waar jy “Lekker verjaar” sing. Dis iets wat hulle vir ewig kan hou.
  • Jy kan ook ʼn e-posadres skep as jou kleinkinders nog baie klein is. Stuur briewe en foto’s na dié adres en gee vir hulle die wagwoord sodra hulle oud genoeg is.
  • Daar is sekerlik niks lekkerder as om jou kleinkind styf vas te hou nie – probeer om ten minste eenkeer per jaar by hulle te gaan kuier. As dit kan, reël dié kuier sommer naby ʼn geleentheid soos ʼn verjaarsdag. Dit maak die geleentheid sommer meer spesiaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rina Pretorius ·

Ek is ook ‘n ouma wat in Parys woon maar werk by Majuba Kragstasie naby Volksrust, so ek gaan so 2 keer ‘n maand Parys toe maar my kleinkinders is in George en Brakpan so ek is goed in kontak met hulle per foon, emails, whatsapp BBM, facebook en hulle weet goed hoe om lekker terug te kekkel, so hou ons maar kontak en in vakansie tye dan gaan ek persoonlik na hulle toe en dan is dit ‘n gekuier van ‘n ander wereld hoor, dit werk goed want hulle raak nooit geirriteerd met my nie, net so voordat hulle moeg raak vir my is ek weer weg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.