Voordele en nadele van veelvuldige generasies onder een dak

familie-tookapic-pixabay

Foto: Tookapic/Pixabay.com

Huishoudings wat uit veelvuldige generasies bestaan is aan die toeneem in Suid-Afrika.

Volgens Statistiek SA bestaan 32,2% van huishoudings in Suid-Afrika reeds uit drie of meer generasies. Terwyl dit aanvanklik die norm was onder die landelike swart gemeenskap, is dit ʼn tendens wat ook toeneem onder die stedelike wit bevolking. Stats SA het ʼn toename van 4 tot 8% onder dié bevolking oor die laaste dekade waargeneem. Dit is ook nie net ouers wat by hul volwasse kinders intrek nie; meer volwasse kinders trek terug na hul ouerhuise as gevolg van ʼn tekort aan werk en die hoë lewenskostes van vandag.

Craig Torr, direkteur van Crue Invest, ʼn finansiële beplanningsmaatskappy in Kaapstad, glo hierdie verblyfreëlings hou meer voordele as nadele in. Torr het ʼn paar duidelike riglyne wat almal in dié soort huishoudings moet volg om te verseker almal woon gelukkig saam onder een dak:

Die redes vir veelvudige generasie huishoudings:

  • Deesdae werk beide ouers voltyds. Grootouers wat saam in die huishouding woon kan beslis finansiële en emosionele spanning verlig omdat die ouers nie vervoer, nasorg, ʼn au-pair, huiswerk en maaltydvoorbereiding uit te hoef kontrakteur nie.
  • Die hoë kostes van kindersorg en au-pairs gee platsak ouers die kans om van hul bejaarde ouers gebruik te maak word hulle op hul beurt laat voel hulle kan ʼn sinvolle bydrae tot hul kinders en kleinkinders se lewe maak.
  • Die hoë kostes van aftree-oorde en verswaktesorg, asook die tekort aan goeie aftree-oorde maak ʼn veelvudige-generasie-verblyfreëlings koste-effektief en gerieflik. Dit is ook ʼn wen-wen-situasie vir al drie geslagte mits daar duidelike reëls is vir almal en dit nagekom word.
  • Die hoë lewenskostes vir al drie geslagte – volwasse kinders, ouers en grootouers.

Laat die verblyfreëlings vir almal werk:

  • Vra ʼn finansiële beplanner om ʼn finansiële plan vir die veelvudige generasie-huishouding op te stel. Die beplanner behoort die finansiële posisie van die bejaarde ouers en die volwasse kinders te evalueer en sal ʼn werkbare opvolgplan skep wat almal se behoeftes en belange op die hart dra. Maak seker jy verstaan jou bejaarde ouers se finansies sodat daar nie later enige verrassings opduik nie. Wat sal byvoorbeeld gebeur indien hul pensioengeld opraak en het julle voorsiening gemaak daarvoor?
  • Maak seker daar is voorsiening gemaak vir al die wetlike en belastingkwessies, veral as daar gesamentlik eienaarskap van eiendom is.
  • Stel reëls vir elke geslag in die huishouding saam. As die grootouers in ʼn woonstel op die eiendom woon wat 20% van die eiendom beslaan, kan die gesamentlike begroting proporsioneel opgestel word sodat die grootouers byvoorbeeld 20% van die verband of huur dek indien hulle dit kan bekostig. Bepaal vooraf wie gaan vir wat betaal.
  • Maak seker almal het hul eie privaat ruimte.
  • Bespreek finansiële sake met jou ander broers en susters. Wat gaan gebeur indien julle vir jul ouers se privaat verpleging of swakkeversorging moet betaal?
  • Maak seker huispligtige word eweredig onder almal in die huishouding verdeel en almal weet waarvoor hulle verantwoordelik is.
  • Respekteer mekaar se tyd. As grootouers na die kleinkinders moet omsien het hulle ook ʼn blaaskans nodig en finansiële vergoeding sal moontlik ook aan hulle betaalbaar wees sodat hulle hul pligte kan nakom.
  • Maak seker dat die kinders weet hul ouers is steeds hul primêre versorgers en dat hulle steeds verantwoordelik is vir die finale besluit rondom die versorging en opvoeding van hul kinders.
  • Maak seker almal in die huishouding is gemaklik met die verblyfreëlings.
  • Maak seker jy en jou man/vrou het alleentyd weg van die kinders en grootouers.
  • Hou die kommunikasielyne binne die huis altyd oop om woede-uitbarstings in te voorkom.

Voordele van ʼn veelvudige-generasie-huishouding:

  • Gedeelde uitgawes en lewenskostes.
  • Dié soort huishoudings gee drie generasies kans om meer tyd saam deur te bring en bou sterk familieverhoudings.
  • Kinders word deur hul grootouers versorg.
  • Grootouers geniet vervulling en ʼn hernude doel.
  • Kinders het nie nasorg nodig nie.
  • Dit verminder die finansiële druk en tydnood van ouers.
  • Verskaf bykomende sekuriteit, want daar is altyd iemand by die huis.
  • Grootouers kan help met etes en die bestuur van die daaglikse take by die huis, wat die druk op werkende ouers verminder.
  • Grootouers kan help met toesig oor huiswerk, hulp met kinders se take en kan ook inkopies gaan doen.
  • Volwasse kinders het die gemoedsrus dat hul ouers behoorlik versorg word.
  • Indien vaste kostes soos huur of ʼn verband, elektrisiteit- en watertariewe verdeel word, kan ʼn gemakliker huis vir almal gevind word.

Nadele van ʼn veelvudige generasie huishouding:

  • Konflik kan aan die orde van die dag wees indien daar nie reëls neergelê word en deur almal in die huis nagekom word nie.
  • Die kerngesin kan voel daar word voortdurend ingemeng met hul sake.
  • Daar kan baie spanning wees as die finansies van so ʼn huishouding nie reg bestuur word nie. Dit is beslis beter om vooraf ooreen te kom wie vir wat gaan betaal.
  • Daar is ongelukkig minder privaatheid vir almal.
  • Indien almal nie help met die pligte om die huis nie, kan ʼn paar familielede voel hulle word misbruik omdat hulle altyd alles moet doen.
  • As een of albei van die bejaarde ouers siek word, kan dit ekstra druk op die volwasse kinders plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Op die oog af weeg die voordele baie meer as die nadele. Reëls neerlê maak enige huishouding baie makliker. Of daar nou twee of drie generasies daar woon. Die gebrek aan reëls waarborg meer spanning en konflik. Ondervinding wys ook daar die kinders beter basiese (goeie maniere ensovoorts) opvoeding kry (daar is altyd uitsonderings).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.