Vra vir Susan: die belangrikheid van lees

boy-reading-in-boatHallo Susan

My kind is in gr. 3. Hy sukkel vreeslik met lees. Hy sukkel BAIE om “b” en “d” te onderskei en lees baie hakkelrig. Hy klank alles nog uit. Lees is tog so belangrik, daarsonder kan ʼn kind niks vermag nie.

Rita

Beste Rita

Jy is heeltemal korrek, lees is die belangrikste vaardigheid wat ʼn kind op skool moet verwerf, want hy leer om te lees met ʼn bepaalde doel voor oë: sodat hy kan lees om te leer.Om behoorlik te kan lees, is dus die grondslag van, of voorvereiste vir, leersukses op skool en uiteindelik ook ʼn belangrike bepaler van ʼn mens se beroepsukses in die toekoms.

ʼn Kind, wat nie behoorlik kan lees nie, is sonder twyfel ʼn groot kopseer vir ma en pa. Die swak leser het nie net ʼn agterstand teenoor goeie lesers nie, maar in werklikheid bou hy met verloop van tyd ʼn al hoe groter agterstand op teenoor goeie lesers. Prof Kevin Stanovich, van die Universiteit van Toronto, stel dit só in ʼn artikel in die Reading Research Quarterly, “die armes word al hoe armer en die rykes word al hoe ryker.”

Aan die positiewe kant is leesvermoë ʼn belangrike aanduider van toekomstige sukses. Volgens die Nasionale Instituut vir Kindergesondheid en Menslike Ontwikkeling, is dit “die belangrikste enkele vaardigheid wat nodig is vir ʼn gelukkige, produktiewe en suksesvolle lewe.”

Vind die oorsaak

Met enige probleem moet ʼn mens begin by die oorsaak. Tensy mens weet wat ʼn probleem veroorsaak, kan mens dit nie oplos nie. ʼn Siekte soos skeurbuik het die lewens van derduisende matrose op lang seereise geëis. Die siekte is vinnig hokgeslaan toe die oorsaak van die probleem, naamlik ʼn tekort aan vitamien C, ontdek is. ʼn Goeie vertrekpunt sal dus wees om die vraag te vra: Wat veroorsaak leesprobleme?

ʼn Goeie vertrekpunt sal dus wees om die vraag te vra:
Wat veroorsaak leesprobleme?

Om die oorsaak van leesprobleme te verstaan, is dit belangrik om te weet leer gebeur in lae. Leer vind dus trapsgewys plaas. Jy moet eers een ding kan doen, voordat jy die volgende een kan bemeester. Daar is sekere grondvaardighede waarop lees berus en wat ʼn kind moet baasraak voordat hy kan leer lees, anders gaan hy leesprobleme hê.

Grondvaardighede moet nie verwar word met prosesse, strategieë of tegnieke nie. Die verskil tussen hierdie begrippe kan maklik aan die hand van rugby geïllustreer word. Om rugby te kan speel, moet iemand eers die grondvaardighede van rugby bemeester, soos byvoorbeeld om ʼn bal te vang, uit te gee en te skop. Slegs daarna kan hy strategieë of tegnieke geleer word.

Grondvaardighede van lees

Grondvaardighede van lees sluit konsentrasie, verskeie perseptuele vaardighede en verskeie vorme van geheue en logiese denke in.

Visuele perseptuele vaardighede sluit die vermoë in om visueel te kan diskrimineer, sintetiseer en analiseer, in terme van voorgrond-agtergrond, vorm, grootte, kleur en posisie-in-die-ruimte. Mens moet ook ouditief kan diskrimineer, sintetiseer en analiseer.

ʼn Kind wat sukkel om b en d te onderskei, is dikwels ʼn kind wat probleme het met die interpretasie van posisie-in-die-ruimte. Hy sal dit moeilik vind om die posisie van objekte ten opsigte van homself te bepaal, byvoorbeeld “regs van my”, “links van my”, “agter my”, “voor my”, ensovoorts. So ʼn kind mag dit moeilik vind om sekere pen-en-papier take, waarby die bepaling van rigting en posisie nodig is, korrek uit te voer, soos byvoorbeeld “skryf jou naam regs bo in die hoek”, “trek ʼn streep onder die woord ______”. Hy mag ook letters soos b en d met mekaar verwar, asook getalle soos 17 and 71, of hy sal dalk van regs na links in spieëlskrif skryf.

Die oplossing is dus om seker te maak al die vaardighede wat lees onderlê, is behoorlik ontwikkel en geoutomatiseer, veral posisie-in-die-ruimte. Oefen dus daagliks en aanhoudend links en regs, sodat jou seun dit kan internaliseer.

Groete,

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 590 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mien ·

Skryf die woord b e d mooi groot en trek ‘n sreep aan die bokant van die woord sodat dit soos ‘n bed lyk. Dit mag dalk help met die b en d verwarring.

Sarie ·

Goeie voorbeeld. Ouers moet ook ‘n voorbeeld stel om self te lees. Daar moet altyd leesstof in die huis wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.