Waar is die ouers?

ouerskap

Foto: Argief.

’n Vraag kan soms in ’n mens se binneste vassteek. Jeugdag 2015 gesels ek met ’n oudpolisieman wat in 1976 in Soweto was. Aangesien dit Jeugdag is, gesels ons oor daardie dag en die gebeure daardie dag waaroor baie besin en geskryf word. In daardie gesprek vra hy een van daardie vrae wat in my binnekant vassteek. Hy vertel, in alles wat daardie dag gebeur, is daar een vraag wat hy moeilik beantwoord: Waar is die ouers? Nogal ’n goeie vraag, dink ek agterna – waar was die ouers? Dit is juis daardie vraag wat in my binneste gaan staan en vassteek.

Ek vra dit toe ek lees van kinders wat ’n skool afbrand. Ek vra dit toe ek lees van ’n bus wat met klippe gegooi is. Ek vra dit toe ek lees dat jeugdiges amok gemaak het. Ek vra dit toe ek lees van moordenaarverdagtes wat op 14- en 16-jarige ouderdom in hegtenis geneem word. Ek vra dit toe ek lees van die ongelooflike persentasie kinders wat skool op ’n te jong ouderdom verlaat. Ek vra dit toe ek hoor hoeveel kinders onder 12 op ashope rondgrawe. Ek vra dit toe ek hoor hoeveel kinders wegraak omdat daar nie toesig oor hulle was nie. Ek vra dit toe ek sien dat net 23% pa’s hulle kinders nog na die kerk neem. Ek vra dit toe ons in ’n opname onder skoolkinders agterkom minder as 10% kinders eet nog as gesin aan ’n tafel.

Waar is ons ouers? Wat het van ons samelewing se ouers geword?

Dit is baie duidelik. Ons gaan nie hierdie samelewing waarin ons leef sterker maak deur swakker ouers te word nie. Ons soek soveel planne en skarrel so na oplossings in ’n stukkende wêreld, maar ek is oortuig ons soek op die verkeerde plek. Ons gaan niks oplos as ons nie begin deur beter ouers vir ons kinders te wees nie. Kinders mag maar aanspraak maak op goeie ouers. Hulle mag maar vra vir ’n gesin. Hulle kan vra na ’n goeie pa en ’n goeie ma. ’n Samelewing wat kan rus op sterk gesinne is ’n geseënde samelewing.

Ek hoor te veel die vraag: Wat word van die jeug van vandag? Die vraag is verkeerd. Ons moet vra: Wat gaan aan met die ouers van ons tyd?

Ouers sal weer meer betrokke moet raak. Gesinsgedrewe begin dink. Beskermend begin waak. Ons sal weer moet begin saam-saam eet aan ’n tafel, begin gesels op ander wyses as net deur whatsapp en Facebook. Ons sal moet leer om te weet waar ons kinders is, waarmee hulle besig is, wie hulle is en wat hulle dink. Om hulle te oorlaai met tegnologie en belaai met wat ons beskou as seëninge gaan nie ons kinders sterker maak nie. Om hulle in winkelsentrums af te laai met sakke vol geld en oordrewe te voorsien in wat ons dink hulle nodig het, gaan hulle nie roepingsbewus in ’n nuwe generasie instuur nie. Om elke keer vir hulle op te kom en hulle foute oor te sien, maak ook nie van ons goeie ouers nie.

Waar is ons geslag se ouers? Ons moet mooi dink voor ons antwoord. Ons moet mooi dink wat ons doen. Ons moet mooi dink waarmee ons besig is. Waar is ons pa’s? Waar is ons ma’s?

Alleen deur goeie ouers te wees en sterk gesinne te skep baan ons ’n weg die toekoms in. Ouers is nie volmaak nie, hulle hoef ook nie te wees nie. Solank hulle net dáár is vir hulle kinders. Kinders wat goed grootword, kan wel groot sleg word, maar dan is dit hulle eie keuse. Ouers kan nie instaan vir al die keuses van hulle kinders nie. Maar bewaar die samelewing wat hulle kinders sleg grootmaak. Bewaar ’n samelewing as gevra moet word: Waar is ons ouers?

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Landie ·

Baie-baie goeie artikel. En ek stem saam “Waar is die/ons ouers” van vandag wat na ons jeug moet kyk!!!

V ·

Ja dit is n goeie artikel,my vraag is ook dan net watter voorbeeld stel n pa of ma aan hul kinders wat hul kinders molesteer en verkrag?Waar is die ouers?

George ·

Daar is ook ‘n spreekwoord wat sê die hand wat die wieg wieg is ook die hand wat regeer. Ek het ook ‘n probleem met ouers wat hulle kinders deur vreemdelinge met verwronge waardestelsels laat groot maak. Ek het ‘n artikel gelees wat beweer dat kinders se persoonlikhede asvolg tussen sekere ouderdomme gevorm word:
0 tot 6 jaar – 50%
7 tot 12 jaar – 30%
13 tot 25 jaar – 20%
As die ouers afwesig was of ‘n swak voorbeeld gestel het word onberekende skade aangerig. Ek stel voor dat ouers wat nie kans sien vir hierdie taak nie liewers nie kinders moet hê nie.

Marietjie ·

Waarom bring mense kinders in die wereld as hulle nie die verantwoordelikheid kan of wil aanvaar wat daarmee gepaard gaan nie? Besef hulle nie dat daardie wesentjie afhanklik is van jou vir leiding oor hoe om te lewe…hulle volg elke detail van elke beweging/besluit wat jy neem…hulle mis niks…en dit vorm hulle!! Al wat kinders vra is liefde…van hulle ouers en tussen hulle ouers…dit kan tog nie te veel gevra wees nie???

Bruno Stef ·

Die probleem wat baie kinders en jongmense in veral plekke soos Soweto het is dat hulle in enkel ouer gesinne grootword met die ma wat van vroeg tot laat moet werk om n inkomste te verdien.Dit is ook opmerklik dat die pa totaal afwesig is vir n groot gedeelte van hulle opvoeding.

George ·

Ek het ‘n klein bietjie begrip as die kinders by die grootouers groot word. Die grootouers is darem nie totale vreemdelinge nie. Meeste van die tyd maar net ‘n tekort aan disipline. My groot bekommernis is kinders wat aan die genade van bediendes dag uit en dag in oorgelaat word. Baie keer het die ouers ander opsies.

Antoinette ·

Goeie artikel. Kan dit nie in alle landstale vertaal word nie?

Johan 2 ·

Antionette, almal wil alewig alles vertaal, dink jy werklik hul gee n vlenter om vir wat hier staan…dis nie in hul kultuur om kinders geleerd groot te maak nie en die wat hul kultuur prysgee (hoofsaaklik vie Anglo-saxton kultuur) is relatiewe goeie ouers maar ook n baie klein deeltjie…weet jy dan nie, ” jy slaan n kind nie omdat hy n fout maak nie maar omdat hy uitgevang is” en dit gaan jy moeilik uit hul kry.

Ria ·

Baie goeie arikel.Ek is n ouma in my huis gee ek liefde maar het ook reels.Maar papa en mamma laat dinge toe wat ek glo glad nie goed is nie my nee is my nee en wat vandag nee is is more ook nee maar ouers glo nie aan sulke ding nie Kinders voel net veilig as daar dissepline is en liefde.

Nickie ·

Ek wil vra waar die mammas is? Die een kant van die spektrum se mamma is waarskynlik dood aan vigs. En dan is daar die “toegewyde” mamma wat vertel hoe haar laerskoolkind op ‘n Maandagaand eers 22:30 by die huis gekom het na kunswedstryd by ‘n sogenaamde vooraanstaande laerskool. Daarna het die kind huiswerk gedoen tot half 2 die oggend! ‘n Ander Mamma vertel hoe sy haar 13 jarige 6:30 by die skool aflaai en dan eers 20:00 gaan haal na al die ekstra aktiwiteite, waarna huiswerk en projekte dan natuurlik nog volg. Wanneer speel hierdie kinders? Ouers is besig om hulle kinders van kindwees te beroof met al die geleenthede wat in hulle kele afgestop word.
Ek wil uitgesproke wees en sê dat daar te veel mammas is wat hulle kinders by “oulike” kleuterskole en naskoolsentrums aflaai, omdat hulle MOET gaan werk. Bly by die huis en voed jou kind op. Koop eerder minder speelgoed en skakel die dstv af. Vir die mammas wat MOET werk om die die POT aan die kook te hou het ek alle respek.

Santie de Waal ·

Dominee dit is waar. WAAR IS DIE OUERS? Ek is bly dat ek my eie kinders kon groot maak. Dit was hard, ballet, landloop, karate, rugby, skool aktiwiteite, musiek. Ek kon in dankbaarheid dit saam met hulle deel. Vandag is hulle groot en sê “Ons gaan ons kinders op die selfde manier groot maak met ma tuis” Met pa wat alleen broodwinner was. Ons is nie ryk nie ook nie brand arm nie. Ons kinders is ons rykdom. Dankie vir die Hemelse Vader wat ons hierdie geleentheid gegee het. Groete Santie de Waal Malan.

Erik Hofsink ·

Dankie Hannes vir ‘n goeie refleksie op die fundamentele bestanddele van ouerskap. ‘n Eenvoudige maar diepe waarheid. As hoof van ‘n Christelike skool met ongeveer 350 families, kan ek nie begin om te vertel hoeveel ek met jou saamstem nie. Miskien wys ons samelewing hier in Australia al meer tekens van sosiale erosie, maar die oorsake en antwoorde is baie dieselfde. Nogmaals dankie!

HEVW ·

Daar bestaan drie samelewingsvebande wat verantwoordelik is vir die opvoeding van ons kinders. Die ouerhuis (primer) die skool, die kerk. Ongelukkig het al drie hierdie pilare vir dekades lank al verkrummel Daarnaas kan die portuurgroep ook genoem word as opvoudingsinstansie wat ek glo in sekere gevalle meer insette lewer as die ander hetsy positief of negatief. Wannneer die een opvoedingsinstansie sy verantwoordelikheid versuim dan staan dit gewoonlik in konvlik met die ander. Wanneer bv. die ouerhuis sy plig versuim ten opsigte van godsdiens dan maak dit die kerk se taak kragteloos. Die skool met christelike waardesisteem word dan n voorwerp van bespotting en deesdae uittarting. Hierdie drie sal almal aangespreek moet word om in harmonie met mekaar te verkeer. Maar daar word die duidelikste apel op die ouerhuis gemaak. Wat ook gebeur bv. die skool neem met goeie bedoeling n groot deel van die ouer se verantwoordelikheid op sy skouers omdat die nie sy plig wil of kan nakom nie . Die gevolg is dat die ouer meer laks word en ook bring dit mee dat die kind nou meer uit die hand van die ouer met verantwoordelikheid gehou word. So dit is n baie komplekse situasie waarmee die samelewing worstel. Wat n baie negatiewe faktor is, is dat die moeder ook die arbeidsmark moet betree om te kan handhaaf of dan om met mr. Johnson die buurman te kompeteer.

Johan 2 ·

Iets wat ek glo ons as afrikaners dalk kan aanleer is dat “dit neem n dorp om kinders groot te maak” ouers sukkel baie in so n veeleisende samelewing veral met almal wat so na stede verhuis agter werk aan laat dit baie van ons op ons eie maar ons moet mekaar beter ondersteun….die wat nie kinders het nie verstaan nie altyd nie maar ons moet mekaar meer uithelp met kinders grootmaak ook, n uur na werk om mamma tyd te gee om te reis van haar werk beteken soms baie vir kleintjies se emotionele sekeriteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.