Waardeer elke oomblik

Argieffoto (Foto: stocksnap/Pixabay)

Die lewe gaan so vinnig verby… Hier staan ons weereens aan die begin van nog ʼn jaar. Verlede jaar het verby gespoed soos ʼn hoëspoedtrein wat nie eens wou stilhou by enige stasies op pad na 2019 toe nie.

Ek voel selfs of ek amper ʼn jaar van my kinders se lewens gemis het as gevolg daarvan. Nie omdat ek nie tyd saam met hulle gespandeer het nie. Ek het. Hulle word net groot teen die spoed van wit lig.

Ek onthou toe ek ʼn kind was, het dit gevoel soos eeue voor my verjaarsdag, die volgende vakansie of Kersfees. Jy kon nie wág daarvoor nie, maar dit wou net nie kom nie.

Hoekom voel dit dan vir my deesdae of die jare so vinnig verbygaan, dat ek letterlik ʼn hele jaar gemis het? En ek wil skree: Stop net vir een minuut! Mens wens amper jy kan die jare begin terugdraai sodat dit nie nou al weer ʼn verjaarsdag of Kersfees is nie.

Hulle sê dis omdat jou lewe as kind nog nie baie jare as verwysing het nie en dus voel elke jaar lank, maar hoe ouer jy word, hoe korter is ʼn jaar in vergelyking met die jare wat reeds verby is.

Ek het my oudste vandag by die skool gaan aflaai vir sy eerste dag. Dit was ʼn tranedal toe ek moes loop – vir ons albei. Hy huil oor die onbekende wat hy nou vir kort rukkies sonder mamma moet hanteer en ek huil omdat ek soveel vrae het. Is hy reg vir skool? Gaan hy oukei wees tussen al die nuwe maatjies en sal hy weet wat van hom verwag word? Gaan hulle hom verstaan soos ek hom verstaan?

Maar ek weet ook dit is dinge wat onafwendbaar is: dis die lewe. Dinge gebeur, dinge verander. Die jare wag vir niemand nie: Ons moet aanpas of die lewe los ons agter. Dis hoekom ek hierdie vakansie opnuut besef het: Leef in die oomblik.

Dit het my getref terwyl ek met my eenjarige in my arms gestaan het, terwyl ek hom aan die slaap neurie. Dit was so ʼn spesiale, goddelike oomblik, en ek het besef ek gaan nooit weer hiérdie spesifieke oomblik hê nie… môre kan totaal anders wees.

My oudste begin al hoe meer woorde leer. Sy mooi en vreemde babataal is besig om plek te maak vir grootmenssinne en -stories. Wat net so kosbaar is, maar ons gaan nooit weer sy unieke babataal of woorde en liedjies wat hy opmaak uit sy klein verstaan van die wêreld, hoor nie.

Ek het besef hierdie is die oomblikke waarna ek gaan terugverlang as dit weg is. Voor mens jou oë uitvee, verdwyn al hierdie klein, spesiale dingetjies so saggies en ongesiens uit jou lewe uit. Eendag besef jy net ewe skielik jy hoor daardie woordjie wat hy so dikwels gebruik het, nie meer nie en die warm, slap lyfie wat in jou arms gelê het, is nie meer so klein nie en wil nie meer so baie vasgehou word soos ʼn paar dae gelede nie. Die oomblik is weg, jy gaan dit nie weer terugkry nie. As jy nie bewustelik ín daardie oomblik is as hy daar is nie, gaan jy nooit voel jy het dit werklik “gehad” as jy terugkyk daarna nie.

Waardeer dus elke oomblik hierdie jaar. Luister. Proe dit. Voel dit in jou lyf. Beleef dit. Mens weet nooit hoeveel daar nog gaan wees, en hoe, sonder dat jy dit besef, jy dit gaan mis wat reeds verby is nie. Met jou kinders sowel as jou familie en vriende. Leef in die oomblik, sodat daar geen verlore oomblikke meer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae