Waardes, die kernbestanddeel van gesonde gesinne

gesin-02-pexels

Die huisgesin is die fondament van ’n beskawing. Foto: Pexels.com

Deur Christoff van Wyk

Maria Rothman, oftewel MER soos sy bekend was, was deel van die Carnegie-kommissie wat in die laat twintigerjare van die vorige eeu die opdrag ontvang het om die armblankevraagstuk te ondersoek. Sy was ’n dinamiese persoon wat in alle kringe met die grootste respek bejeën is en terloops ook die enigste vrouebydraer tot die verslag. In haar afdeling wat gehandel het oor die armblankehuisgesin, -moeder en -dogter beskryf sy die boustene van ’n samelewing soos volg: “Die huisgesin is die fondament van ’n beskawing.”

Vanuit hierdie perspektief sal die logiese slotsom dus wees dat indien die fondament uitmekaar val of begin verbrokkel, dieselfde patroon deurgaans te bespeur sal wees binne die gemeenskap, asook die samelewing.

Op soortgelyke trant het pres. Lyndon B. Johnson (36ste president van die VSA) in ’n toespraak by die Howard Universiteit in 1965 die volgende te sê gehad oor die gesin: “The family is the cornerstone of our society. More than any other force it shapes the attitude, the hopes, the ambitions, and the values of the child. And when the family collapses it is the children that are usually damaged. When it happens on a massive scale the community itself is crippled.”

Die idee dat die gesin van kernbelang is vir die samelewing is niks nuuts nie en word sedert die bestaan van die mensdom universeel erken. Of dit nou bestek vind in die antieke Griekse blyspele van Euripides (Medea) en Sophokles (Antigone) of in die hedendaagse VN wat in 1993 besluit het dat 15 Mei jaarliks as internasionale Gesinsdag gevier sou word. ’n Gedeelte van die resolusie wat aanvaar is in 1993 deur die VN lui soos volg: “Realizing that families, as basic units of social life, are major agents of sustainable development at all levels of society and that their contribution to that process is crucial for its success …”

Die meeste geloofsrigtings wêreldwyd onderskryf ook in hul onderskeie leringe die kernfunksie wat die gesin binne die geloof, maar ook die groter samelewing, vervul.

Indien die meerderheid van die samelewing dus saamstem dat die gesin belangrik is, waarom is ons gesinne dan besig om uitmekaar te val? En, dalk is die belangriker vraag, hoe kan ons te werk gaan om hierdie verskynsel stop te sit en om te keer?

Wanneer die waardesisteem van ’n land of ’n gemeenskap onder druk is, soos wat tans die geval is op vele terreine, raak dit ook die gesin.

Daar moet egter onderskei word tussen simptome en oorsake. Gebroke gesinne is veel eerder ’n simptoom van dieperliggende maatskaplike en selfs politieke probleme. Die verval van die gesin in dié verband is nie die oorsaak van direkte aanvalle deur organisasies en individue op die gesin nie, maar veel eerder ’n indirekte slagoffer van aanvalle op die huwelik, moraliteit en waardes.

Statistiek SA se syfers rakende die getal huwelike wat tussen 2003 en 2014 in Suid-Afrika gesluit is, toon ’n beduidende afname. Egskeidings het oor dieselfde tydperk egter ook afgeneem.

gesin-en-waardes-fak-np-van-wyk-louw

Grafika: Verskaf.

Die vraag kan sekerlik gevra word: “Is die huwelik dan regtig so belangrik?” Wel, as dit kom by die beste wyse waarop kinders grootgemaak kan word, blyk die antwoord te wees, ja.

In 2016 skryf Sara McLanahan en Isabel Sawhill in hul inleidende artikel vir die Princeton-Brookings-joernaal getiteld The Future of Children: “Whereas most scholars now agree that children raised by two biological parents in a stable marriage do better than children in other family forms across a wide range of outcomes, there is less consensus about why.”

As jy dus besorg is oor die toekoms, maak seker dat, sover dit enigsins moontlik is, jou kinders binne ’n gesin grootword waar hul ouers in ’n stabiele huwelik verbind is. Die vraag behoort dus nie te wees of huwelike nog belangrik is nie, maar eerder hoe ons die instelling van die huwelik kan bevorder en versterk.

Terloops, in die artikel “Cohabitation and child wellbeing” deur Wendy Manning wat ook in die bogenoemde joernaal opgeneem is, skryf sy dat: “… children born to cohabiting parents see their parents break up more often than do children born to married parents; in this way, being born into a cohabiting parent family sets the stage for later instability.”

Saambly kan dus nooit ’n plaasvervanger vir die huwelik wees nie.

’n Verdere vraag wat nou gevra kan word, is: Hoekom trou mense dan al hoe minder? Daar sal natuurlik baie teorieë hieroor wees, maar in wese is die tradisionele huwelik gewoonlik ’n uitsluitlike verbintenis wat aangegaan word tussen een man en een vrou en dit word geskoei op sekere gedeelde waardes. Indien hierdie waardes ontbreek, sal daar in elk geval ook nie moeite gedoen word om te trou nie. Die waardes wat dus die huwelik ondersteun en mense aanspoor om in die huwelik te tree en getrou te bly, is ook gewoonlik die waardes wat hulle aan hul kinders oordra en die waardes wat hul voortbestaan verseker.

Joseph (J.D.) Unwin, ’n Britse etnoloog en sosiale antropoloog verbonde aan die universiteite van Oxford en Cambridge, het reeds in 1934 ’n boek gepubliseer getiteld Sex and culture. In die boek het Unwin die resultate en gevolgtrekkings van sy studie rakende die geskiedenis van 80 onbeskaafde kulture en 16 ander beskaafde samelewings, wat strek oor ’n tydperk van 4 000 jaar, saamgevat. Daniel Janosik het in ’n artikel getiteld “The fate of culture in J.D. Unwin’s Sex and culture” wat in die Christian Apologetics Journal gepubliseer is, Unwin se kernbevindinge soos volg opgesom: “He found that when strict heterosexual monogamy was practiced the society attained its greatest cultural energy, especially in the Arts, Sciences and Technology; but as people rebelled against the prohibitions placed upon them and demanded more sexual opportunities, there was a consequent loss of their creative energy which resulted in the decline and eventual destruction of the civilization. Remarkably, he did not find any exception to this trend.”

Die bogenoemde gevolgtrekking is gewoonlik die resultaat van ’n samelewing wat eiebelang bo alles stel: hiper-individualisme, nihilisme en absolute materialisme. Hierdie mantra staan lynreg in stryd met die Bybelse narratief van liefde vir God en jou naaste en die sogenaamde “Goue Reël” – doen aan ander soos wat jy ook wil hê hulle aan jou moet doen. Dit is egter nie goed genoeg om slegs “goeie” waardes voor te staan nie. Sonder ’n grondige basis hiervoor wat die “hoekom”-vraag na wense beantwoord, beteken dit niks nie. Uiteindelik is dit slegs geloofswaardes wat waarlik die verskil maak en in dié verband is die Christelike geloof sonder enige eweknie. Tradisionele Christelike waardes behoort dus die grondslag te vorm waarop ons ons lewe, ons huwelike, ons gesinne en uiteindelik ons samelewings bou. Waar dit die geval is, verander ons die wêreld ten goede en is daar werklik hoop vir die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

MCH ·

Nog n amen op die artikel. Briljant! Soek die antwoord in die Boek van die tyd. Dis waarskynlik baie oorvereenvoudig gestel, maar die oomblik wanneer ons afwyk van ons skeppingsdoel, verskyn probleme en vermenigvuldig eksponensieel soos saamgestelde rente.

Petra Van Reenen ·

Seks voor die huwelik is ‘n onding. Ons moet dit uit ons kinders se breine uitkry. Sonder ‘n stewige basis sal die huis nie staan nie.

Rupert Ashford ·

Amen!!! En hierdie is geen populere standpunt in die wereld van vandag nie en veral nie die westerse beskawing nie. Maar die keuse is duidelik as ons selfs so onlangs soos die Grieke en Romeine gaan kyk tussen behoud of vernietiging …

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.