Waardes en kinders: Ouers word gesien, nie gehoor nie

ouerskap

Foto: Tribune.com.pk

Kinders moet gesien, maar nie gehoor word nie, lui die gesegde. Met swak dissipline en probleme rakende die toepassing van skoolreëls wat problematies bly, herinner prof. Rika Joubert, navorser by Fedsas, ouers en onderwysrolspelers daaraan dat dié gesegde op hulle óók van toepassing is: Hulle word gesien, nie gehoor nie.

Kindwees in 2017 is nie maklik nie. Die meeste gesprekke wat rondom hulle plaasvind, handel oor die negatiewe waardestelsels wat deur politieke leiers uitgeleef word. Volwassenes praat oor onderwyssake en verwys na swak dissipline van leerders, bendegeweld, onrealistiese matriekuitslae en onderwysers wat swak opgelei is. Van hul ouers hoor kinders dat die toekoms in Suid-Afrika maar donker lyk. Daar is talle mediaberigte oor kinders wat dwelms gebruik en gevegte tussen leerders op die skoolterrein.

Skoolbeheerliggame, skoolhoofde en opvoeders probeer orde handhaaf deur skole se gedragskode, missiestelling en beleid op datum te hou. Ongelukkig is baie skole reëlgedrewe in ’n poging om gedissiplineerde skoolomgewings te handhaaf. Die gedragskode vir leerders in reëlgedrewe skole bestaan gewoonlik uit verskillende afdelings en skoolhoofde, lede van die beheerliggaam en opvoeders is voortdurend besig met die afdwing van skoolreëls.

Kinders begin net ná geboorte om hul omgewing te leer ken deur mense se reaksies te toets wanneer hulle sekere handelinge uitvoer. Deur te huil, aan alles om hulle te vat, te proe, nuwe dinge te probeer en nog later deur hul gedrag, vind hulle gaandeweg uit hoe die wêreld om hulle werk. In reëlgedrewe skole is leerders voortdurend besig om elke reël te toets en om die reaksies van die reëlmakers te toets.

Een van die moeilikste “grootword”-prosesse is om vas te stel hoe om op te tree sodat hulle deur mense rondom hulle aanvaar word. Karakterontwikkeling by kinders vind hoofsaaklik plaas deur die morele waardes en gedragspatrone van mense na aan hulle na te volg sodat hulle deur hul ouers, opvoeders en die mense in hul omgewing aanvaar kan word.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het meer as drie jaar gelede begin met ’n bewusmakingsveldtog rakende die instelling van waardes in skole. Tans is daar toenemend meer skole wat omskakel na waardegedrewe bestuur en beheer. In hierdie skole word ’n skoolkultuur geskep waar geïdentifiseerde kernwaardes uitgeleef word. Leerders en opvoeders volg dus nie reëls slaafs na nie, maar koppel gedrag, houdings en oortuigings aan die kernwaardes van die skool.

Ouers se rol en betrokkenheid in die vorming van kernwaardes by kinders is van die uiterste belang. Wat ouers sê en doen, bepaal hul kinders se waardestelsel. Ouers wat voortdurend alle gesagsfigure aftakel, neersien op onderwysers en die onderwysstelsel in elke gesprek kritiseer, skep verwarring by hul kinders. Tuis hoor kinders rassistiese en seksistiese opmerkings wanneer ouers oor die mense in hul werkomgewing praat. In die meeste skole is kinders blootgestel aan kulturele verskille. Opmerkings wat tuis deur hul ouers gemaak word, bepaal die kinders se optrede by die skool.

’n Kernwaarde soos respek word uitgeleef deur die wyse waarop ouers optree teenoor ander. Eerlikheid, integriteit en deernis kan in klein en groter situasies deur ouers uitgeleef word. Kinders wat hul ouers se interaksie met ander as aggressief en oneerlik beleef, leer nie hoe om by die skool gesonde verhoudings met ander kinders en opvoeders te bou nie.

Ouerbetrokkenheid en die vestiging van waardes by hul kinders berus op sterk beginsels wat voortdurend uitgeleef word. Dit is belangrik dat kinders verstaan hoe om die kernwaardes van respek vir ander, eerlikheid, integriteit, deernis, hardwerkendheid en positiwiteit uit te leef. Elke mens vrees verwerping. Ouers se betrokkenheid by hul kinders moet berus op omgee, aanvaarding en onvoorwaardelike liefde. Wanneer kinders foute maak, is dit belangrik om hulle die beginsel van regverdigheid en verantwoordbaarheid te leer. Kindwees in 2017 beteken dat elkeen vryheid van uitdrukking het, mits die menswaardigheid van ander gerespekteer word.

Ouerbetrokkenheid in die vestiging van waardes by hul kinders behels meer as die koop van geskenke. Die tyd wat ouers bestee om met hul kinders te praat en wesenlike betrokkenheid by die daaglikse aktiwiteite van kinders is kosbaar. Kinders is fyn waarnemers en weet wanneer hul ouers hulle onvoorwaardelik aanvaar en liefhet. Ouerbetrokkenheid behels om vir kinders in ’n verwarrende omgewing ’n kompas te wees. Ouers is vir kinders die primêre rigtingwysers as dit bewolk of donker rondom hulle is en die bakens vir aanvaarding die hele tyd skuif. Ja, jou kinders hoor nie altyd wat jy sê nie, maar hulle sien álles wat jy doen.

  • Joubert is ʼn kundige op die gebied van onderwysbestuur en beleidstudie en ʼn navorser by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JP ·

Stem beslis saam MAAR ons probleem is dat in SA om kinders te beskerm(wat reg is) het reëls gekom wat kinders bemagtig sonder om hulle verantwoordelikheid te leer. Enige persoon moet vryheid hê binne bepaalde grense. Ons het nie grense nie, ons het nie die regte voorbeelde nie. My kind het bv. agv ons lewens omstandighede op 8 haar eie selfoon gehad, op 10 haar eie bankkaart wat sy self moes gebruik en so ook heelwat ander vryhede wat ek geweet het sy oon hanteer. Sy was geleer hoe om dit verantwoordelik te gebruik en het nooit ‘n probleem gehad nie. Die groot probleem is nie die kinders nie maar Ouers wat nie hulle kinders reg leiding gee nie en ook nie leer van oorsaak en gevolg in die lewe nie.

Dellaq ·

Stem JP. Probleem is ook dat kinders kan doen en maak soos hulle wil en dat meeste ouers se houding is “my kind doen niks verkeerd nie”…asook ons samelewing se houding van dat niemand vir niks verantwoording hoef te doen nie. En die kinders leer van hul ouers hierdie uiters swak gedrag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.