Waldo oor wiskunde: Moet ons dalk weer dink oor huiswerk?

huiswerk-frustrasie-leer-skootrekenaar

Foto: JéShoots/Pixabay.com

Deur Johan Koekemoer

Huiswerk sit by baie van ons dwars in die maag. Huiswerk maak ouers kwaad, kinders angstig en onderwysers raadop. Waldo self was ’n slagoffer van dié oefening wat soos die Wet van Mede en Perse oorgedra is van generasie tot generasie. Waldo het besluit om bietjie te gaan naslaan oor wat navorsing te sê het en wat die huidige stand van sake ten opsigte van huiswerk is.

Kom ons begin by die skool. In Suid-Afrika word daar, volgens die wet, verlang dat leerders van graad R tot gr. 9 minstens 35 uur per week by die skool moet deurbring. Dié 35 uur sluit in buitemuurse aktiwiteite, pouses en saalbyeenkomste. Vanaf graad 10 tot 12 is die minimum skooltyd slegs 27½ uur. Wiskunde word dan verder beperk tot 5 uur vir die juniors en 4½ uur vir die seniors.

In 2018 het ons slegs 199 skooldae. Daar is gemiddeld twee eksamengeleenthede per skool per jaar wat oor ’n tydperk van vier weke strek – dit is 40 dae waar klaskamertyd amper nul is. Daar bly dus 159 dae oor waarin onderrig binne die klaskamer kan plaasvind. Die gemiddelde onderwyser is 19 dae afwesig per jaar, maar kom ons beperk dit tot vyf dae. Nou bly daar 154 dae oor vir onderrig – die meeste skole verloor ses dae aan sportbyeenkomste. Dus bly daar in werklikheid slegs om en by 30 van die beraamde 40 weke oor vir onderrig in die klaskamer.

Waldo weet dat die algemene skooldag nie altyd pro-akademiese tyd is nie, dat kinders soms ekstra saalbyeenkomste het of optredes en praatjies van, onder andere, besoekende kunstenaars of sprekers moet bywoon. Pouses is ook dikwels langer sodat onderwysers verpligte administratiewe take kan verrig.

Gebeurtenisse wat enige akademiese tyd steel, steek meeste onderwysers dwars in die krop, maar veral die wiskundeonderwyser. Wiskundeonderwysers het ’n uiters vol kurrikulum wat hulle moet deurwerk voor die eksamens omdat die meeste wiskunde-eksamens óf departementeel óf nasionaal geskryf moet word. Dít loop uit op ’n verskynsel wat tans waargeneem word, veral in hoërskole – ʼn verpligte wiskundeklas een of twee dae per week (Die geveg dat sport hiervoor opsy moet staan, is ʼn taai tameletjie) en tonne huiswerk.

Waldo het ’n persoonlike argument wat hy nie nou sal voer nie, maar wat hy wel wil uitlig, is dat die verlore 10 weke in ons tipiese skole eintlik die boelie is. Hy gebruik die woord boelie, want ons kinders en onderwysers saam met ons betrokke ouers word as’t ware voos. Onderwysers brand uit, ouers baklei en kinders word mat.

Waldo se pa het altyd gesê: “Te veel van ’n goeie ding, is nie goed nie.” Huiswerk word in ons samelewing algemeen aanvaar as goeie praktyk, hoekom word kinders dan so oorlaai? Onderwysers sien soms huiswerk as ’n manier om die kurrikulum te voltooi. Ander onderwysers gee bloot huiswerk, want hulle was huiswerk gegee as kinders en hul ken geen ander manier nie. Party onderwysers gee huiswerk as straf wanneer kinders onbeskof en rebels optree. Wat ook al die rede vir huiswerk is, lees gerus eers die volgende oor wat navorsing hieroor te sê het.

Die debat oor huiswerk is al oor die honderd jaar oud. In 1887 het ’n Amerikaanse leerder sy onderwyser twee keer met ’n mes gesteek nadat hy gekonfronteer was oor onvoltooide huiswerk. Die insident het, volgens bewerings, gelei tot ’n staatswet in California in 1901 wat bepaal het dat geen kind onder die ouderdom van 15 enige vorm van huiswerk mag ontvang nie.

Navorsing het begin om dié verskynsel te ondersoek en sedert 1930 is daar konkrete navorsing oor die invloed van huiswerk op akademiese prestasie gedoen. Cooper, ’n spesialis op dié gebied het in 1989 ’n metastudie gedoen om te kyk wat die navorsing sedert 1930 bevind het.

Cooper het tot die gevolgtrekking gekom dat huiswerk ’n positiewe korrelasie met akademiese prestasie het. Die era van huiswerk het floreer en van 1990-2000 was huiswerk in die meeste lande algemene praktyk.

Met die aanbreek van ʼn nuwe millennium het bogenoemde navorsing egter kritiek begin ontvang weens nuwe bevindings. Navorsers het huiswerk aangeval en gebrandmerk as die bevorderaar van sosiale ongelykheid. Dit het gelei tot ’n hervorming in lande soos Finland waar min tot geen huiswerk uitgedeel is. Die wêreld het na die verskynsel gegryp, omdat Finland ’n land is wat nie huiswerk gee nie, maar altyd in die top tien van onderwysstelsels lê.

Huiswerk word nou wyd en syd verdoem en is self onwettig in sommige plekke. Hoe het die impak van huiswerk in een dekade so drasties verander of wat het gebeur? Hier is ’n paar punte uit die navorsing wat Waldo wil uitlig – spesifiek in die geval van Suid-Afrika:

  1. Cooper se prohuiswerknavorsing was gebou op die reël van 10 minute per vak per dag. Ons breek daardie reël met een som.
  2. Cooper het voorgestel dat daar opgestelde beleide moet wees om huiswerk effektief te doen. Ons administrasie het geen invloed op huiswerk nie.
  3. Onderwysers se vakkennis is van kardinale belang in die seleksie van volwaardige huiswerk wat bydra tot leer. Baie van ons onderwysers het gebrekkige kennis of hul gee net die somme vir huiswerk wat nie in die klas gedoen kan word nie.
  4. Ouerbetrokkenheid was een van die kardinale rolspelers in doeltreffende huiswerk. Ons ouers doen ons kinders se huiswerk of take en ons laat dit toe.

Waldo sal nie kan sê hoe huiswerk in die toekoms hanteer gaan word nie maar, hy sluit af met die volgende: “Dankie aan elke onderwyser wat huiswerk sinvol gebruik om ons kinders se ingesteldheid te verander oor die vak en wat ons kinders verryk daardeur. Dankie vir elke ouer wat nie “geboelie” word deur gemeenskapsdruk om hul kinders se huiswerk vir hul te doen nie, maar wat by hul kinders sit en hulle motiveer om aan te hou probeer – ouers wat met hul kinders gesprekke voer oor hul leerervarings. Laastens, dankie aan elke kind wat eienaarskap neem van sy eie huiswerk en daarmee woeker, al gaan dit met benoudheid gepaard.”

  • Johan Koekemoer is ʼn onderwysspesialis in wiskunde by die VAW en trotse pa van twee kinders. Sy droom is om die beeld van wiskunde mooi te maak vir almal wat daarna kyk. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

John ·

Waldo moet oppas of hy word die minister van onderwys en hogere drome… waar Wiskunde totaal van die aardbodem verband word omdat Wiskunde-onderwysers uitgebrand is deur balhorige kinders en woedende ouers wat self nie ‘n snars verstaan van die konsep a+b=c nie, wat nog van ×÷□<°○%(*)… Nee wat ek stem, SA het nie nonsens nodig nie… hier is oorgenoeg… en as 2-3= -1000 is, dan dit of dat ons dat die vonke spat…

Pieter ·

Die skoolsisteem het ‘n klomp nuttelose vakke (lees geskiedenis, lewensvaardighede) waardeur “groot ” vakke soos wiskunde se tyd opgevreet word. My seun in gr 9 is totaal oorlaai met nonsens…. Die onnie het nie tyd om alles ordentlik te verduidelik nie en daarom moet kinders ekstra klasse neem en met huiswerk probeer om probleme op te los.

Walter ·

Daar is nie veel wat ek kan sê oor wiskunde nie, sedert het ek 28% in einde graad elf gehaad en nou besig is net 2de jaar ingineurswiskunde. Maar wat ek wel kan sê is “taal”. Met taal leer mens alles. Wiskunde, fisika, mense en mees belangrik en ingewikkeld: jouself. Wiskunde gun jou daardie redenasie-vermoë waarvan min hou. Redenasie is nie geduld in klaskamers, huise of somige portuurgroepe nie. Daarom moet taal jou manier wees om te leer om te redeneer op n opgevoede en eetiese manier in klaskamers. Daarna sal huise en vriende van self kom. Opvoeding, als begin daar, taal, als begin hier en redenasie ,kom met tyd.

Pietman ·

Nederlandse skole gee geen huiswerk vir kinders onder 10 jaar oud nie. Die klem gaan eerder oor die ontwikkeling van lewensvaardighede. Die tweede aspek is uitkomsgebaseerde onderwys – ek wonder net as oud akademikus tot watter mate dit bydra tot verhoogde vlak van huiswerk. My eerstejaar studente se take het ‘n groot gebrek aan skryf- en leesvaardighede getoon.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.