Waldo oor wiskunde: Taalvaardighede en somme

waldo1

Gesels met Waldo op sy Facebook-blad by Waldo Wapad. Grafika: Verskaf.

Deur Johan Koekemoer

Jy kry taalmense en jy kry wiskundemense, maar soos Samaritane en Jode het hulle geen gemeenskap met mekaar nie. Hulle is onderling uitsluitende velde wie se Venn-diagramsirkels in die uiterste hoeke diagonaal teenoor mekaar stilsit. Heel regs sit die kreatiewe siele en heel links die logiese denkers. Diegene wat al vir Waldo ontmoet het, weet dat Waldo ’n ander liedjie sing. Hierdie artikel is geskryf as die begin van #dierebellie.

Bietjie agtergrond: Waldo het tydens sy heel eerste wiskunde 111-klas tussen twee dux-leerders beland. Aan sy linkerkant was ’n voormalige hoofleier met sewe onderskeidings en aan sy regterkant ’n oorpresteerder met agt onderskeidings. Waldo het die positiewe verskil tussen die twee gehad. Waldo was benoud, alhoewel die stelsel hom goedgekeur het vir ingenieurswese, het hy homself geweeg en te lig gevind het. Studies was reeds betaal en kop uittrek was nie ’n opsie nie. Sy ouers se woorde weergalm in sy ore: “wat jou hand vind om te doen, doen dit goed” en “aanhouer wen”. Lang storie kort, Waldo het die kursus in vier jaar voltooi en die twee studente aan sy weerskante in onderskeidelik ses en sewe jaar. Wat die situasie merkwaardig maak, is dat Waldo volgens die standaarde van skole, ATP-tellings en medestudente geensins “universiteit-wiskunde” só vinnig moes kon baasraak nie.

Is goeie wiskundepunte dan die alfa en omega? Is daar iets wat ons dalk miskyk? Waldo gaan dié verskynsel navors.

Daar word gereeld in die media verwys na Suid-Afrika se swak wiskunde- en taalvaardighede. Tydens verwysings word internasionale studies (PIRLS en TIMMS) aangehaal. Daar word dan verkeerdelik afgelei dat Suid-Afrika die swakste lê van al die lande in die wêreld. Tans is daar 195 lande waarvan 193 aan die Verenigde Nasies behoort. Slegs 47 was deel van die TIMMS-studie in 2003 en 61 aan die PIRLS-studie in 2016. Die TIMMS fokus of vier kognitiewe domeine; meet met kennis van inhoud en prosedures as die laagste kognitiewe domein en redenering as die hoogste vlak. Suid-Afrika het net soos al die ander lande baie swak gevaar wanneer dit kom by redenering, maar relatief goed as dit kom by prosedurele vaardighede. Dit is te danke aan ons skoolstelsel wat fokus of prosedures en inhoud. Kinders los 100 vergelykings op vir elke woordsom wat hulle doen (die data is uit Waldo se duim gesuig net om ’n punt te probeer maak). Ons maak ons kinders groot om resepte te volg, maar die regte lewe het geen resep nie! Waldo se eerste twee klasmaats het dit op die harde manier uitgevind.

Die TIMMS-studies word al sedert 1995 uitgevoer. Ná die eerste twee studies is ’n leemte geïdentifiseer. Taalvaardighede moes ook gemeet word om te bepaal of die internasionale verskynsel van swak redenasievermoë in wiskunde dalk taalverwant is. Dit blyk wel die geval te wees.

Bertus van Rooy & Susan Coetzee-Van Rooy argumenteer dat matriekuitslae geen water dra indien dit as ’n voorspellingsfaktor gebruik word vir sukses op universiteit nie. Hulle staaf die siening met navorsing wat wys dat modules wat akademiese taal bevorder, ’n sterk suksesbepaler is.

Jamal Abedi en Carol Lord bewys op hul beurt leerders wat in hul moedertaal studeer, hul medestudente uitpresteer. Hul wys ook dat as die vraestelle taalkundig aangepas word om eerste addisionele taalleerders te akkommodeer, dat die leerders se punte styg tot amper by hul huistaalmaats. Jamal en Carol haal ook uit verskeie literatuurbronne aan wat bevestig dat wiskundeprestasies afhanklik is van taalvaardighede en nie andersom nie. Hierdie taalargument word telkemale deur mense, wat goed gedoen het op skool, verwerp. Hierdie persepsie, dat leerders akademies goed kan presteer sonder om taalvaardig te wees, word egter deur geen navorsing gerugsteun nie.

’n Interessante studie deur Carole Beal het die verwantskap tussen probleemoplossing in wiskunde en leesvermoë ondersoek. Sy en ’n span het na moedertaalleerders en eerste addisioneletaalleerders gekyk en bevestig dat verbale kommunikasievaardighede in die medium van onderrig geen korrelasie het met wiskundevaardighede nie. Dit ondersteun die argumente wat talle voer, dat hul vlot Engels of Afrikaans kan praat en nie goed is met probleemoplossing in wiskunde nie. Wat Carole en haar span wel ontdek het, is dat leesvaardighede sterk positief korreleer met sukses in probleemoplossing in wiskunde.

In dié opsig is daar is nog baie ander resonerende literatuur. Opsommend wil Waldo aanbeveel dat ons minder tyd moet bestee aan prosedurele vaardighede wat die kind net tot suksesvolle matriekuitslae sal lei. Waldo pleit dat ons eerder deure vir ons kinders sal oopmaak sodat hul horisonne kan verbreed en hulle hul kritiese denke ontwikkel. Waldo en die wêreld glo lees is die sleutel!

  • Johan Koekemoer is ʼn navorser by die Skoleondersteuningsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

B ·

100% in die kol met veral jou laaste paragraaf – die ‘afrigting’ doen niemand goed nie, inteendeel.

John ·

… en hoe goed vaar leerders wat in Wiskunde presteer tov van taalvaardighede wat in die 2e taal skoling ontvang? Hierdie hele storie sal geen beenhaar roer by ‘n kaalkop-minister wat Engels aanbid nie, hetsy wil inbed in skole nie. Intelligensie word dus nou as vloekwoord gereken met alle mense volgens Obama et al gelyk bedeeld. En sou ‘n leerder in Wiskunde druip word die taalonnie dus gekruisig of in gekruide Grieks deur die ouers gestenig. Koes kinders!

Elizabeth ·

Wys jou weer: kinders wat lees, word afgeronde mense wat hulleself op alle gebiede kan laat geld.

Spike ·

Kan iemand my antw asb. n Graad 10 leerder wat baie skrander is ( 95%, 1ste en 2de kwartaal) kry altwee kwartale 76% vir afrikaanse opstel. Juf sê sy gee nie meer as dit vir ñ opstel nie, terwyl die kind regtig taalvaardig is. Sy het al 2 boeke geskryf. Sy kry vir engels 2de taal in die 90%. Ek verstaan nie die juf se punt nie.

Sarie ·

Partykeer kan onderwysers kinders sê drome verongeluk Ek help jou by n nasorgsentrum en probeer uitwerk hoe die kinders leer om te lees Die arme outjie het nie ‘n idee van klanke nie Hy lees die leesboek vlot maar as ek vir hom individuele woorde uitlig om te lees kan hy nie Ek dink die juffrou sit met die grootboek en die kinders leer die les soos n rympie en dan kyk hulle na die prente en sê dit op

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.