Wat is disleksie?

Shutterstock.com

Shutterstock.com

Middag Susan

Ek het hulp drasties nodig.

My seuntjie is nou in graad 1 en daar is ’n vermoede dat hy disleksie het. Ek weet glad nie hoe om die probleem te hanteer, waar om behandeling te kry of selfs net ’n toets of iets te laat doen om te bevestig of dit wel so is nie. Ek en my bokkie is al gereed om op te gee, want hy sukkel vreeslik. Hy ruil klankies om, skryf heeltemal ’n ander woord neer as wat hy klank, ensovoorts.

ASSEBLIEF, kan jy help.

Rika

Hallo Rika

Daar is min dinge wat by ’n ouer soveel spanning veroorsaak as ’n kind wat sukkel met lees, spel en skryf. Terwyl die meerderheid kinders dit maklik tot redelik maklik baasraak, is dit ’n heeltemal ander ervaring vir ten minste een uit elke vyf kinders. Vir hulle is dit so moeilik dat die woord “disleksie” dikwels ingespan word om na hierdie erge gesukkel te verwys.

Die term disleksie is saamgestel uit twee Griekse woorde dys en lexis wat letterlik “swak met taal” beteken, en word gebruik om te verwys na iemand vir wie lees eenvoudig bokant sy of haar vuurmaakplek is. Spel en skryf, as gevolg van die nou verband wat dit met lees het, word gewoonlik hierby ingesluit.

Hierdie kinders, wat die gesproke woord verstaan en dikwels so lief daarvoor is om na stories te luister, sukkel om dieselfde woorde te ontsyfer wanneer dit op papier staan. Hulle lees stadig en hakkelrig, en woorde wat hulle skynbaar maklik lees in een sin, lees hulle verkeerd in die volgende sin. Hardoplees is ’n worsteling. Uiteindelik raak hulle gefrustreerd en teleurgesteld.

Lees is onontbeerlik vir akademiese sukses. Onderwysers, wat sien hoe die gaping tussen goeie lesers en swak lesers in hulle klas groter word, vra hulself af wat hulle of die leerders verkeerd doen. Ouers, deeglik bewus van die verreikende negatiewe gevolge wat leesprobleme dwarsdeur al die ontwikkelingsfases het, se gemoed kan soms wissel van skuldgevoelens tot woede.

Wat is disleksie?

Die outydse (en dalk nog gewilde) siening is dat disleksie ’n fisieke versteuring in die brein is wat veroorsaak dat inligting verkeerd verwerk en vertolk word, wat dan lei tot lees-, spel- en skryfprobleme. Histories is die disleksie-etiket toegeken aan leerders met ’n gemiddelde tot ’n bogemiddelde IK, en ten spyte van “voldoende” leergeleenthede ’n ernstige leesagterstand het. Minder-begaafde kinders se leesprobleme is toegeskryf aan hulle intellektuele beperkinge.

Dan is daar spesifieke simptome:

  • Omkering van letters soos b en d of p en q, of lees of skryf byvoorbeeld tak vir kat of sak vir kas.
    • ’n Ander teken is weglatings – wanneer ’n kind “staf” lees of skryf wanneer die woord eintlik “straf” is.
    • Plaas letters in die verkeerde volgorde en lees of skryf, byvoorbeeld emelent vir element, snik vir niks, en tekel vir ketel.
    • Lees klein woordjies verkeerd, byvoorbeeld ’n vir nie, vir i.p.v. van, met vir meer.
    • Raak gedisoriënteerd met ’n reël of op ’n bladsy terwyl hy lees, mis reëltjies of herhaal wat reeds gelees is.
    • Hardoplees is hakkelrig, woord-vir-woord, monotoon.
    • Probeer die letters van die woord klank, maar kan dan nie die korrekte woord sê nie. Sal byvoorbeeld die letters “k-a-t” klank, maar dan koud sê.
    • Spreek woorde verkeerd uit, of plaas klem op verkeerde lettergrepe.
    • Verkort woorde, byvoorbeeld porsie vir proporsie.
    • Weglating van voorvoegsels, weglating van agtervoegsels of byvoeging van agtervoegsels.
    • Lees met swak begrip.
    • Onthou nie veel van wat gelees is nie.
    • Kan nie die regte letter by ’n gegewe klank pas nie.
    • Ignoreer gereeld leestekens, laat punte en kommas uit.

Ongeneeslik of ’n mors van tyd?

Die uiteenlopende standpunte oor disleksie maak dit vir ouers moeilik om te weet wat die regte manier is om hulle kind te help. Aan die een kant is daar die groep wat glo disleksie is ’n onomkeerbare toestand wat nie genees kan word nie en bloot aanvaar moet word, terwyl daar ander is wat reken die diagnose van disleksie is ’n mors van tyd.

Volgens die Britse Disleksie Assosiasie word ’n mens met disleksie gebore en is die uitwerking daarvan lewenslank. Dié vereniging, en baie ander, se aanbeveling is dat ’n disleksietoets – met koste – gedoen moet word, en hulle gee raad oor hoe om daarmee saam te leef en watter stappe gedoen moet word om toegang te kry tot spesiale studietoelae en ook voordele wat vir gediagnoseerde disleksielyers beskikbaar is.

Volgens party skrywers is die vooruitsigte vir dislektici bloot verdoemend, en word die gaping tussen goeie lesers en kinders met disleksie net al hoe groter. Skrywers noem dit die Matteus-effek, verwysend na Matteus 25:29 wat sê dat die rykes ryker sal word en die armes armer. Volgens hierdie siening – ek haal aan uit ’n boek van die Amerikaanse opvoedkundige sielkundige Gerald Coles – “sal die lees- en ander leerprobleme waarskynlik voortduur tot in volwassenheid, met vernietigende gevolge vir die persoon se gevoelens van eiewaarde, persoonlike verhoudings, en werksgeleenthede en -prestasie”.

Om bewustheid vir disleksie te kweek – en waarskynlik ook lig te werp op hierdie sombere siening van ongeneeslikheid – het ondersteuningsgroepe die idee laat posvat dat vele beroemde mense, onder andere Albert Einstein, dislekties was. Die storie is soveel keer herhaal dat dit vandag as ’n feit beskou word ten spyte daarvan dat die literatuur dit weerlê.

Dit word dikwels beweer dat Einstein eers op die ouderdom van vier begin praat het, wat dan ’n “teken” van sy disleksie was. Volgens Einstein se biografieë is dit eenvoudig nie waar nie. Toe Einstein twee en ’n half jaar oud was, is sy nuutgebore suster, Maja, aan hom gewys. Einstein, wat ’n speelding verwag het, het teleurgesteld gesê: “Maar waar is haar wieletjies?” Toe hy sewe jaar oud was, skryf sy ma: “Gister het Einstein sy rapport gekry. Hy was weer eerste in sy klas. Sy rapport was briljant.” Teen die ouderdom van nege en ’n half was Einstein aanvaar deur die mededingende Luitpold-Gymnasium, wat bewys dat hy akademies bo-gemiddeld presteer het. Op ouderdom dertien het Einstein boeke, geskryf deur Darwin en Kant, gelees. Dis beslis nie verteenwoordigend van dislektici nie.

Professor Julian Elliott van Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk en professor Elena Grigorenko van Yale Universiteit in die VSA sien disleksie uit ’n ander oogpunt, naamlik dat die diagnose daarvan eintlik maar min waarde het. In hulle boek, The Dyslexia Debate, skryf Elliott en Grigorenko: “Ouers word mislei deur aannames dat ’n disleksie-assessering streng wetenskaplik is, en dat ’n diagnose sal aandui watter vorm van behandeling die beste sal wees.” Elliott is bekommerd oor die immer stygende aantal mense wat met disleksie gediagnoseer word. Disleksie, reken Elliott, is ’n term wat laat vaar moet word aangesien dit, volgens hom, meer verwarring as duidelikheid veroorsaak.

Nuwe navorsing bring nuwe hoop

Rika, die siening dat disleksie ongeneeslik is, is die gevolg van ’n aanname dat die brein nie kan verander nie, laat staan nog verbeter. Mense het geglo as daar iets verkeerd is met ’n persoon se brein, daar niks gedoen kan word om dit reg te maak nie. Wetenskaplikes het geglo dat elkeen van ons gebore word met ’n vasgestelde getal breinselle, en as enige van daardie selle seerkry, kan die skade nie herstel word nie. G’n wonder dat leerprobleme soos disleksie, wat met die brein te doen het, vir baie jare as ongeneeslik beskou was nie!

Gelukkig weet ons vandag van beter.

Tegnologiese vooruitgang soos fMRI-skanderings het dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om te sien dat die brein plasties is; die brein kan verander en verbeter, en dis baie goeie nuus vir jou kind! Op grond van die jongste navorsing KAN jou kind gehelp word!

Ons gesels volgende week verder oor die fantastiese plastiese brein, en hoe neuroplastisiteit die lig aan die einde van die donker disleksietonnel is.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 495 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Yolie ·

Ek het jare gesukel met skole wat geweier het om te erken dat my seun diskleksies is. Na jare het ek by ‘n dame in Pretoria uit gekom en sy het hom vir my getoets. Hy het wat hulle “dyslexia dysgraphia” noem. Daar is ‘n die Red Apple Association hier in SA wat ook help.

Vir my seun help dit as hy sy klasse op neem en ook sy opsommings verbal maak. Sy punte het drasties verbeter. Red Apple wag vir ‘n applikasie wat geskrewe dokumente in scan en dan vir die kind terug lees.

Ek weet hoe die mamma voel…maar weet… daar is lig aan die einde van die tonnel.

Hennie ·

Hi Yolie, Ek het ook al met Red Apple se mense gesels en anders as wat in die rubriek geskryf is glo hulle glad nie dat die brein kan verander nie. My indruk is hulle help kinders net “cope” omdat disleksie volgens hulle ongeneeslik is.

christo ·

In New Zeeland kry n disleksiese leerling gedurende toetse en eksamens n “reader” en n”Writer wat die vrae vir die leerling voorlees en die antwoorde skryf sonder dat enige hulp verleen word. My kleindogter het die problem en kry die regte hulp en presteer uitstekend op skool . Dus is dit net die skool wat die diagnose saam met die ouers moet maak en dan die nodige hulp verleen dan is daar geen problem vir n leerling wat hulle deel doen. In R.S.A. is daar na my wete geen sulke bystand nie en is so n leerling se toekoms n vertraagde klas wat nerens sal kom nie. Dus weer n problem van Afrika

Lynette ·

Amenuense is beskikbaar in SA. My dislektiese seun van 9, trek verstommende resultate daaruit. Hy is in ‘n gewone stroom skool in Pretoria en sy vraestelle word vir hom gelees en soms ook geskryf. Ons het al saam berge oorkom in ons loop tot hier! SA is nie voor wat kinder ontwikkiling aanbetref nie en dit is n feit. Maar daar is mense met n passie om te help. My passie het begin brand die dag toe ek besef hy is super intelligent maar tog ‘anders’. Dit het lank gevat om te besef dat hy nie ‘n probleem het nie, maar eerder n gift. Hy het nou die sleutel om te funksioneer onder ‘normale’ omstandighede, maar ook te floreer in kreatiewe denke. Ons was by verskillende dokters, terapeute, remedierende sentrums, lees sentrums en disleksia kursusse. Meeste van hulle met onsuksesvolle resultate. Die gebrek aan kennis oor leer probleme veroorsaak onoplosbare debatte en ek glo vas dat daar nog groot deurbrake in hierdie veld gaan ontplof! Ek dink die belangrikste om te besef is dat disleksia n blessing is en nie n probleem of n verstandelike gestremdheid nie. Die stelsel akkomodeer nie altyd die kinders nie en dis bloot n gebrek aan kennis. My persoonlike opinie is dat remediering asook lees sentrums juis die probleem vererger, omrede herhaling nie gaan veroorsaak dat woorde vasgele word nie en eerder frustrasie en emosionele stukkende kinders ophef.

Ek weet ·

Ek het self al te doen gehad met verskeie leerders wat sukkel met veral lees en skryf. Dikwels word hulle probleem voor die deur van disleksie gele, baie keer deur personeel by leessentrums of waar sogenaamde breinleerprogramme bedryf word. Ek kry soms die idee dat die ‘diagnose’ deur ongekwalifiseerde persone gemaak word en ouers maar te bereid is om dit te glo. Baie kinders kom hulle probleem egter te bowe met remedierende terapie waar lees en skryfprobleme in klein groepies, met verskillende strategiee , aangespreek word en die vaardighede met herhaling vasgele word. Dit neem baie geduld, konsekwente inoefening en verkoop oor jare. So pas sien ek weer n seun wie sogenaamd disleksie getoon het in Graad een op pad om sy matriekjaar te slaag. Hy kry tans ekstra klasse in Wisk en Wet maar gaan waarskynlik met matriekvrystelling slaag. Ek besef dat almal nie so gelukkig is nie, maar die praktyk toon volgens my dat disleksie te maklik gediagnoseer word. Ek verstaan onder disleksie n toestand wàt permanent is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.