Wat is disleksie?

Kind_boeke_Ouerskap.jpg

Foto: neurodevelopmentcenter.com

[promosie-artikel]

Susan du Plessis

Een uit elke tien Suid-Afrikaners ly aan disleksie, wat beteken dat sowat vyf miljoen mense in skole en in die werkplek met dié probleem sukkel. Maar wat presies is disleksie?

Die term ‘disleksie’ is saamgestel uit twee Griekse woorde wat “swak lees” beteken, alhoewel spel en skryf ook gewoonlik daarby ingesluit word as gevolg van hul noue verband met lees.

Die mees algemene oorsaak vir disleksie is dat sekere vaardighede – soos konsentrasie, persepsie en logiese denke – nie behoorlik ontwikkel is nie. Disleksie is dus nie ’n gestremdheid nie, maar eerder ’n onvermoë wat verband hou met die vaardighede wat lees en spel beïnvloed.

Alhoewel kinders eers van graad 3 af amptelik vir disleksie getoets kan word, is tekens daarvan in die meeste gevalle reeds heelwat vroeër sigbaar – ouers moet net weet hoe om dit te herken.

Die volgende is tekens wat op disleksie dui:

  •  Omkerings – een van die mees ooglopende en mees algemene simptome van disleksie – is wanneer jou kind letters soos b en d verwar, of as hy “tor” in plaas van “rot”, of “een” in plaas van “nee” lees/skryf.
  •  Weglating – nog ’n besliste teken – is wanneer jou kind gereeld letters weglaat, bv. hy lees/skryf “staf” in plaas van “straf”.
  • Wanneer woorde reg geklank maar verkeerd gesê word, bv. jou kind klank die letters k-a-t hardop, maar sê dan die woord “koud”.
  • As woorde gespel word soos wat dit klink, bv. “sienkie” in plaas van seuntjie.
  • As jou kind stadig, huiwerig of hakkelrig lees, aanhoudend sy plek verloor en dan groot dele uitlaat of dieselfde reël herhaal.
  • As hy met swak begrip lees en min onthou van wat gelees is.
  • As jou kind swak of baie stadig skryf.

Kinders kan nie disleksie ontgroei of permanent daarvan “genees” word nie, maar sodra  disleksie gediagnoseer is en behandel word, kan jou kind akademies blom en met die regte ondersteuning en terapie kan hy sy volle potensiaal bereik.

Ek deel volgende week wenke oor hoe om disleksie te behandel.

Susan du Plessis is ’n onderwyskenner en die eienaar en direkteur van opvoedkundige programme by Edublox, ’n Impak-geregistreerde sentrum.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.