Wat jou kind moet weet oor aktiewe burgerskap

Argieffoto

Hierdie rubriek is deel van ‘n reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Ek praat gereeld met jong mense. Deur my werk as leierskapskonsultant besoek ek skole en universiteite en êrens in daardie gesprekke eindig ons altyd op by: Wat kan ek doen om Suid-Afrika ʼn beter plek te maak? Wat is my rol?

Die antwoorde verskil nogal tussen jong leiers van verskillende rasse. Ek is veral bekommerd oor jong Afrikaners wat toenemend hulleself nie meer sien as deel van die groter Suid-Afrika nie. Die politieke omwentelinge post-apartheid het gemaak dat hulle uitgesluit voel.

Maar, belangriker, ook hulself uitsluit van die groter geheel.

As volwassenes speel ons natuurlik ʼn belangrike rol hier. Ons moet verseker dat hulle nie onttrek nie, maar deelneem. Hulle moet hul burgerskap aktief uitleef.

Ek is ʼn trotse Afrikaner en glo vas: my Afrikanerskap moet my Suid-Afrikanerskap bevorder.

Ja, my eie taal en kultuur is vir my belangrik. Maar ek kan dit nie uitleef ten koste van my burgerskap nie. Ek moet dit liewer gebruik om my ʼn beter en meer aktiewe burger te maak.

Argieffoto

So, hoe doen ons dit?

Eerstens is dit nodig om bewus te wees van ʼn paar goed. Suid-Afrika is ʼn dinamiese land. Dinge verander vinnig hier. Ons praat hard en reguit met mekaar. Ons is ʼn komplekse land. Daar is baie eiebelange wat soms teenstrydig is met die gemeenskaplike belange. Daar is voortdurend konflik.

Dit als het gemaak dat ons, as Afrikaners, al hoe meer onttrek het van belangriker gesprekke asook die openbare lewe. Die privatisering van die Afrikaner het die laaste 25 jaar plaasgevind. Behuising, onderwys, gesondheid, sekuriteit, finansies. Op alle vlakke het ons ons begin staal teen die ongemak en onsekerheid wat die bogenoemde gegewens teweeggebring het. En nie noodwendig heeltemal verkeerdelik nie.

Maar dit als het beslis van ons minder aktiewe landsburgers gemaak.

Gee asseblief vir jou kinders ʼn gebalanseerde blik op die geskiedenis. Moet dit nie oorlaat aan die departement van onderwys nie. Maar moet dit ook nie een maak wat hul gaan vervreem van hul medeleerders nie. Help hulle om te verstaan wat apartheid was en hoekom daar nog vandag soveel woede daaroor heers. Hulle gaan nog vir baie lank daarmee gekonfronteer word. En tog kan baie min van hulle dit verduidelik en dus verstaan.

Die uiteinde van die gesprek moet nie ʼn allesoorheersende skuldgevoel wees nie. Liewers ʼn deeglike begrip en meegaande deernis vir die grootste gedeelte van ons bevolking.

Vertel hulle van die Nasionale Party. Hulle moet weet van Verwoerd, Botha en De Klerk. Maar vertel hulle ook van Bram Fischer, Beyers Naude en Frederik van Zyl Slabbert. Goeie sommer ʼn goeie dosis Johannes Kerkorrel by.

Net so moet jy met hulle gesels oor Nelson Mandela, Thabo Mbeki en ja, Jacob Zuma. Vertel hulle van die bevrydingstryd, ons eerste demokratiese verkiesing en watter veranderinge dit in ons land gebring het. Ja, gesels oor korrupsie. Maar gesels ook oor miljoene Suid-Afrikaners wat behuising, water en elektrisiteit gekry het. As jy net ʼn negatiewe gesprek met hulle voer, is die kanse skraal dat hulle gaan betrokke raak.

Argieffoto

So, hoe kan hulle betrokke raak?

• Kyk/luister/lees nuus. Dit help hulle om voortdurend meer raak te sien wat rondom hulle gebeur. Wissel daardie bronne van nuus af.
• Stel hulle bloot aan diversiteit in terme van kultuur, geloof, ras, taal, klas ens. Moet hulle nie teen dit beskerm nie; na skool gaan dit ʼn gegewe vir hulle wees. Hulle moet gemaklik word daarmee en dit omarm.
• Maak hulle bewus van hoe hulle aktief kan raak in hul onmiddellike omgewing, bv. op straat, in die kompleks, skool, kerk of dorp. Dit kan wissel van ʼn parkie skoonmaak tot by vrywilligerswerk doen by die biblioteek/ouetehuis/kinderhuis.
• Gesels met hulle oor die verantwoordelikhede van ʼn demokrasie. Vat hulle saam om in ʼn ry te gaan staan by ʼn verkiesing. Stel hulle bloot aan siviele optredes soos ʼn optog. Hulle moet verstaan dat hulle ʼn stem het wat kan tel.
• Praat moeilike gebeure met hulle deur. Goed wat hulle ontstellend vind. Of iets wat hulle kan vervreem. Gee gesonde perspektief.

Die oorgrootte meerderheid van ons wil en gaan vir altyd in Suid-Afrika bly. Ons belewenis gaan grootliks afhang van hoe ons onsself deel maak van die groter geheel. In ons geprivatiseerde lewens is ons dalk gemaklik en gerus. Maar dit sluit ons uit van daardie groter geheel. Word weer aktief. As Afrikaner. Maar veral as Suid-Afrikaner.

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Eish ·

Ons kan spook en spartel van bakboord na stuurboord en die Christelike etos netjies ontangel soos in hierdie berig gedoen, verskuil in die opmerking dat taal en kultuur belangrik is, maar nie ten koste van burgerskap nie. Dit is net waar my binneste se souse kookpunt bereik. Hierdie berig het nie n enkele verwysing na die belangrikheid wat Christelike beginsels in die hele aangeleentheid speel nie, buiten die losse opmerking dat blootstelling aan die diversiteit van gelowe n stap in die proses van goeie burgerskap is. Met alle respek teenoor die skrywer, die middeljarige se siening is iewat gekantel na Sola Scriptura, en nie stelselmatige indoktrinering en goedpraat van die verlede nie, maar die uitwys van foute aan beide kante gemeet aan die Skrif. Outmodies? Miskien.

Brian ·

Ek is n jong Afrikaner en woon nou al twee jaar lank in die buiteland. Ten spyte daarvan dat ek hard probeer het, het ek, nes die ander jong Afrikaners met wie jy praat, nooit tuis gevoel in Suid-Afrika nie.

Hier waar ek nou woon word ek minder soos n uitlander hanteer as in my eie geboorteland.

Dis minder n kwessie van dat ons onttrek uit die groter-SA samelewing, en meer een van ons word weggestoot, Gielie.

Eish ·

Dankie vir jou eerlikheid. Ons was nog nooit die opdringerige soort nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.