Wat my kind moet weet oor leierskap

Argieffoto (Foto: padrinan, Pixabay)

Hierdie rubriek is deel van ‘n reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Dit is die tyd van die jaar waar meeste skole besig is met leierverkiesings. Vir baie leerders is dit ʼn tyd van spanning; baie droom van daardie spesiale baadjie of balkie en wil graag ʼn posisie beklee. Daarmee saam is daar ook verwagtinge van ouers en onderwysers.

Volgens die Skolewet moet leerders nou self hulle leiers verkies. Dit is natuurlik ʼn groot stap vorentoe van ʼn generasie of twee gelede waar onderwysers die leiers aangewys het. Ja, in baie gevalle is die regte leerders gekies, maar daar was ook die geleentheid vir onregverdige bevoordeling, vooroordele en ja, blatante foute.

Nie dat die huidige leierstelsel sonder foute is nie, maar dit is in beginsel die regte een. ʼn Gelyke speelveld waar leerders vir hul eie leiers stem.

Die eerste groot verantwoordelikheid wat jou kind in so ʼn verkiesing het, is om reg te stem. Ja, op ʼn jong ouderdom leer hulle reeds van demokrasie. Jy gaan saamleef met jou stem en moet dit daarom goed deurdink.

Uit my werk met leierstrukture by skole het ek die afgelope dekade die volgende agtergekom oor leerders se stempatrone:

– In baie gevalle gaan hulle hul eerste kruisies trek agter die name van vriende wie hulle ook glo leiers is. Ja, jy mag vir jou vriende stem, mits hulle natuurlik leiers is.

– Dan begin die stemme uitbrei na leerders wat ʼn mate van bekendheid het. Die leerders wat hier die stemme kry is baie keer aktief op die sportveld, kulturele verhoog of ʼn uitblinker in ʼn sekere veld. Hierdie sukses verseker nie noodwendig dat iemand ʼn goeie leier sal wees nie. Maar ons weet dat leerders wat hul stempel al êrens afgedruk het, ʼn sekere invloed besit asook nodige vaardighede soos hardwerkendheid, dissipline en toewyding.

– Baie keer gaan die stemme ook na leerders wat hulself al as betroubaar bewys het in kleiner leierposisies, hetsy as klasleier, skolierpatrollielid of media-prefek. As iemand so geleentheid met albei hande aangegryp het, is die kanse goed dat hy/sy weer die geleentheid gegun sal word.

– ʼn Tendens wat ek bespeur is dat veral laerskoolleiers ʼn baie spesifieke beeld het van wat veral ʼn hoofleier moet wees; dit is baie keer die leerder wat nie iets verkeerd doen nie. Dis ʼn swaard wat albei kante toe sny; ja, mens soek iemand wat goeie gedrag handhaaf, maar jy soek ook iemand wat oopkop gaan wees, dalk ʼn kans of twee gaan vat, selfgedrewe is en nie net goed is met die uitvoer van instruksies nie.

Gesels gerus met ʼn kind oor hul verantwoordelikheid as kieser. Vra vir hulle wat hulle belangrik ag as dit kom by ʼn leier: eienskappe, vaardighede, waardes en gedrag wat hulle bewonder al dan nie. Reeds hier begin hulle as aktiewe burgers en ons soek kiesers wat later weldeurdagte keuses sal uitoefen as landsburgers.

As jou kind as leier verkies is, baie geluk. ʼn Paar goed om in gedagte te hou:

– Leierskap gaan in die eerste plek oor dienslewering. Veral op skoolvlak. Die idee is nie om ʼn groep demi-gode groot te maak nie. Nee, ons soek leiers wat diensbaar sal wees teenoor hulle mede-leerders. Dit vereis ʼn sekere ingesteldheid.

– Dan: onthou dat jou kind nou onder ʼn vergrootglas gaan wees. Die voorreg bring ook verantwoordelikhede. Hulle sal gemeet word aan strenger standaarde.

– Leiers is baie goeie praters, maar nie altyd doeners nie. Bring die idee tuis by jou kind dat hulle nou moet uitgaan en iets doen. Ja, hulle het sekere pligte, diensbeurte ens. wat nie noodwendig met leierskap iets uit te waai het nie. Maar hulle het ook die geleentheid om projekte te begin, gesprekke te voer, verhoudings te bou en ja, ʼn verskil te maak. Dit vereis dat jou idees moet oorgaan na aksie.

– Leierskap is veeleisend. Baie keer is leiers betrokke leerders wat reeds baie hooi op hulle vurke het. Kyk mooi na hulle tydsbestuur en maak seker hulle herlaai voldoende hulle batterye. Daarsonder kan die druk sy tol begin eis. Hulle bly per slot van sake net leerders.

As jou kind nie verkies is nie, en hulle baie graag ʼn leier wou word, kan jy ʼn belangrike rol speel om aan hulle die nodige perspektief te gee in hierdie tyd van teleurstelling:

– As hulle nie nou gekies is nie, beteken dit nie hulle gaan nooit ʼn leier kan wees nie. As hulle iets kan leer uit hierdie oefening is dit dat hulle nog steeds die regte ding kan doen, goed kan laat gebeur en ja, ʼn invloed kan uitoefen, sonder om daardie balkie te hê.

– Dis nie ʼn afkeuring van wie hulle as mense is nie. Vir baie leerders is dit ʼn persoonlike terugslag. Eintlik beteken dit net dat die groter groep kiesers nie in hierdie stadium gevoel het hulle pas by hulle (baie subjektiewe) prentjie van wat ʼn leier behoort te wees nie.

– Sit die gesprek oor leierskap voort. Stel hulle bloot aan ontwikkelingsgeleenthede. Deel met hulle relevante idees. Kweek by hulle ʼn nuuskierigheid oor die veld. Kans is goed dat hulle dan leiers gaan wees, ongeag wat.

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Basie ·

En dan is daar nog die ander faktor. Mense met geld en aansien se kinders word gewoonlik maar gekies, dit het ondervinding my deur die jare geleer.

Boeremeisie ·

By my kind se skool word leiers gekies op grond van populariteit en dit behels o.a. dagga rook en rondslaap. Onderwysers is ook nie deesdae veel van ‘n voorbeeld nie.

Boeremeisie ·

O en ek het vergeet om te se die tannie in die kantoor en al die ouers op die beheerliggaam se kinders word outomaties leiers by ons skool hier in Pta Moot.

Witpelsjas ·

My seun is nie een van die “popule^re” sportmanne of “paartieseuns” nie, maar het natuurlike leierseienskappe, nugter oordeel en sin vir regverdigheid wat hom altyd die “go-to” persoon vir oa konflikresolusie maak.

Nadat hy egter as Laerskool prefek (op eie meriete behaal) in die grond in gewerk is met ‘n groot las verantwoordelikhede, het hy besluit om nie vir leerlingraad te staan by sy nuwe Hoe”rskool nie. Hy’t my nie eers ingelig oor die verkiesing nie. Slegs na die uitslag laat weet dat sy beste vriend as Hoofseun aangewys is.

Ek’s teleurgesteld oor sy keuse want ek weet hoe belangrik geleenthede vir leierskapsontwikkeling is – vir vaardighede in die werksplek en die waarde daarvan in beurs, studie, en werksaansoeke. Maar ek besef ook dat verantwoordelikhede wat met die posissie gepaard gaan

. Selfs met my as SBL voorsitter van ons vorige Hoe”rskool het my ouer kind nie die leerlingraad daar gehaal nie. Almal daar op meriete verkies.

Ontnugter ·

Leiers op laerskool word dikwels nie behoorlik toegerus m.b.t. wat leierskap behels nie. Sommige gr 7-leiers skree op mede-leerlinge, dink dis hoe dit moet wees. Sommiges spreek mede-leerlinge aan oor iets, maar doen dan presies dieselfde. Hulle mag gesels in die klas, reëls geld nie vir hulle nie. Sommiges dink hulle is die onderwyser, wys tog so graag ander tereg. En sommige leerkragte doen niks aan hierdie gedrag – die leiers is mos engeltjies. Die “gewone” kind word bykans elke dag verneder, net sodat die leier kan goed voel oor homself. Dis nie te sê dat, as jy ‘n top akademiese presteerder is, is jy ook ‘n goeie leier nie… Maak my so hartseer om dit daagliks te aanskou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.