Wat ouers moet weet oor buitemuurse aktiwiteite

Argieffoto (Foto: White77, Pixabay)

Hierdie rubriek is die eerste in ‘n reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann gaan publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Gisteroggend staan ek in die ry by ʼn winkel. Voor my staan twee ma’s en gesels. Terwyl ons wag begin ek onvermydelik hulle gesprek volg. Die een ma kla oor hoe besig haar dogter is. Sy doen alles, alles, vertel sy vir die ander vrou. En begin aktiwiteite opnoem: redenaars, koor, netbal, hokkie, swem en klavier. Die ander ma knik bemoedigend. Na ʼn ruk besef ek die ma kla nie eintlik nie; dis haar manier van fynspog. Ja, hulle ry die heeltyd rond. Ja, hulle naweke is propvol. Maar iets in haar geniet dit om haar dogter so besig en heel moontlik suksesvol te sien.

Vroeër vanjaar het ek met ʼn groep ouers gesels oor hul kind en buitemuurse aktiwiteite. By hulle was daar minder spog. Hulle het wesenlike vrae op die tafel gesit. Hoeveel is genoeg? Hoe lank hou mens aan? Wat mag ek van hulle verwag? Wat is die regte aktiwiteit?

Argieffoto (Foto: KeithJJ, Pixabay)

Besige kinders is nie ʼn nuwe tendens nie. Vir generasies al neem kinders deel. En waar daar geleenthede is en kinders wil en kan, sal daar altyd ʼn groep kinders wees wat elke kans aangryp. Vir my is daar ʼn fyn balans tussen baie besig maar nog steeds gesond wees en baie besig maar ongesond wees. Die ma wat kla-spog se kind is heel moontlik gesond; die ander ma, wat later laat blyk het hulle het paar aktiwiteite stopgesit, se kind het êrens ongesond begin raak. Daar is nie een basiese reël vir alle kinders nie.

So hoekom is dit goed vir ʼn kind om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem?

• Hier leer hulle nuwe vaardighede wat nie tydens skoolure altyd aandag geniet nie;
• Dit is ʼn geleentheid om te ontspan;
• Om sosiaal te verkeer in ʼn ander opset as skool is belangrik vir hulle emosionele ontwikkeling;

Vir baie ouers (en beslis kinders ook) is daar ʼn paar ander redes ook betrokke:

• Dit is ʼn geleentheid om te presteer op ʼn ander gebied;
• Hier word jou portefeulje gebou vir geleenthede soos VLR-verkiesings, koshuisaansoeke en keursingskursusse op universiteit;
• Dit dien as voorbereiding vir ʼn loopbaan in die spesifieke aktiwiteit.

Die eerste groot vraag wat mens jouself oor ʼn spesifieke aktiwiteit moet vra is: hoeveel tyd gaan dit in beslag neem? My observasie is dat kinders nie noodwendig vandag aan meer aktiwiteite deelneem nie maar dat elke aktiwiteit vandag meer en meer tyd vereis.

Argieffoto (Foto: energyinfo, Pixabay)

Byvoorbeeld: revue. Vir baie lank is was dit ʼn aktiwiteit waaraan ʼn maand of twee geoefen is. Daar was moontlik twee of drie optredes. En toe is dit verby. Vandag oefen sommige skole revue regdeur die jaar en tree week na week op.

Of: ʼn sport soos hokkie of netbal is gewoonlik in die tweede skoolkwartaal beoefen. Spanne het twee keer ʼn week geoefen. En ʼn paar wedstryde gespeel. Vandag begin spelers reeds in Februarie oefen. Hulle neem aan verskeie toernooie en reekse deel. Gaan op ʼn toer in die April-vakansie. Speel in die Julie-vakansie provinsiale toernooie. En as die skoolspan goed doen, eindig dit eers in Augustus. En ja, meeste oefen nou vier tot vyf keer per week.

Dus is die vraag: hoeveel tyd wil of kan ek spandeer aan ʼn aktiwiteit en hoeveel druk is daaraan verbonde? Want iets soos die bogenoemde aktiwiteite kan maklik ontaard tot iets ongesond.

So ʼn goeie vertrekplek is altyd: wat kan ek van my kind verwag? Die klem moet gelê word op: ek gee my beste en ek geniet dit. Nooit maar nooit mag die klem skuif na: jy moet wen of jy moet deelneem al geniet ek dit nie meer nie. Ja, almal gaan deur slegte tye. Maar as ʼn kind ʼn hele seisoen lank nie gemotiveerd is, hard werk of dit geniet nie, is dit die verkeerde aktiwiteit. Moedig hulle aan om vas te byt in die slegte tye. Maar staan hulle ook dan by. En maak seker hulle weet dit bly hulle keuse.

Argieffoto (Foto: Ty_Swartz, Pixabay)

Die onderliggende gevaar is dat kinders kan uitbrand. Bedoelende: só besig is, soveel druk ervaar en só min kans het om te ontspan, dat hulle gesondheid daaronder begin ly.

ʼn Paar goeie riglyne in hierdie verband is:

• Maak seker dat die kind genoeg ontspan. Dit is waar hulle geestelik gaan herstel.
• Indien jou kind ʼn besering het, maak seker hulle herstel behoorlik.
• Skep ʼn klimaat in die huis wat dien as ʼn teengewig vir die drukomgewing wat die sport- of kultuurveld is.
• In terme van tydspandering, probeer altyd fokus op effektiewe voorbereiding in plaas van volume.
• Die maatstaf bly ʼn kind wat verfris en gemotiveerd opdaag, voorbereid is om te kompeteer en gemaklik is met die druk daaraan verbonde.

As ouers is daar ʼn baie belangrike gesprek met jouself nodig:

• Sit ek onnodige druk op my kind?
• Sal ek kan raaksien as my kind begin sukkel?
• Sal my kind bereid wees om met my te praat as hulle sukkel?
• Sal ek gemaklik daarmee wees as my kind ophou met sekere aktiwiteite?
• Hoekom doen my kind ʼn sekere aktiwiteit?

Argieffoto (Foto: sasint, Pixabay)

Buitemuurse aktiwiteite is ʼn ongelooflike verrykingsgeleentheid vir jou kind as dit reg aangepak word. Wees asseblief bewus dat daar tog tye is waar ons die gevaar loop om kinders te onderwerp aan meer druk en eise as wat gepas is vir hulle ouderdom. Dit is dan wanneer dit gevaarlik word. Die geheim bly ʼn deurlopende, eerlike gesprek met jou kind waar julle kan reflekteer oor deelname, suksesse, teleurstellings, lesse, uitdagings en die vreugde van aktief wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jason ·

Goed geskryf Gielie, ek stem 100% saam. Ek het op skool, van laerskool tot deur hoerskool elke moointlike sport probeer beoefen, en kultuur ook, my ouers het nooit onnodige druk op my geplaas nie, in die sport wat ek wel bo gemiddeld presteer het, was daar meer aandag aan gegee, en gevra as ek meer daarin wil beweeg, of ek n paar aktiwiteite wil laat gaan vir meer ontspan tyd, ek het, gelukkig. Ouers moet net luister, en sien, mens kan sien as daar uitputting en uitbranding begin gebeur. Ek’t nou nie profesioneel geraak nie, maar het darm n physio geword.

Nico K ·

Daar is kinders wat graag aan baie goed wil deelneem en dit kan hanteer. Die groot probleem kom as dit eintlik pa is wat graag wil hê seun moet rugby speel. Of wat die aktiwiteit ook al mag wees. En ons as ouers moet baie eerlik met onsself wees voor ons ‘n kind in ‘n rigting druk.

Genieve ·

Dis vir my goed as my dogter aan buitemuurs se aktiweite deelneem,maar soms gaan dit moeilik met die finansies want as jy weet elke naweek sport en soms 1keer n week .Dit maak my net moedelooa want daar is nie altyd geld nie.En vandag se kinders wil duur goed he,want dis mos drukgroep.

Jack Russl ·

Ja, dit is maar moeilik om altyd nee te sê, maar ek het die voorneme gemaak dat ek die goedkoopste(maar steeds bruikbare) sport toerusting sal koop sodat hulle kan uitwerk waarvan hulle nou regtig hou. Indien hulle werklik van ‘n sportsoort hou en uitblink dan kan ons kyk na duurder en beter toerusting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.