Wat ouers moet weet oor groepsdruk

Groepsdruk (argieffoto)

Hierdie rubriek is deel van ʼn reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Byna weekliks praat ʼn ouer of ʼn kind self met my oor die groepsdruk wat ervaar word op skool. Dit word byna as ʼn nuwe tendens voorgehou; asof daar nog nooit groepsdruk vantevore was nie. Wat natuurlik ontneem is van enige waarheid. Dit is eerder ʼn geval dat kinders vandag dalk minder toegerus voel om dit te hanteer en dat ouers self daardie druk meer voel as ooit in hulle eie lewe. Ongeag wat, dit is iets wat deel is van jou grootwordjare en blyk dit ook deel van jou volwasse lewe.

Die een groot behoefte wat alle mense het, ongeag van kultuur, geloof, ras, ouderdom of geslag, is die behoefte om aanvaar te word. Ons wil weet ons is van waarde en dat ons raakgesien word. Die mens, ten spyte van al sy uniekhede en strewes na individualiteit, is ʼn groepsdier.

Dit is nou belangrik om hier te onderskei tussen positiewe en negatiewe groepsdruk. Ons almal het al êrens langs die pad gebaat by die druk van die ‘groep’, of ʼn verwagting direk of indirek uitgespreek is.

Onlangs loop ek by ʼn kleuterskool in. Dis slaaptyd. Ek sien hoe drie verskillende ouderdomsgroepe se kleuters op hul matrassies lê en slaap. Verstom vra ek die onderwysers hoe hulle dit regkry; om 60 kleuters gelyktydig te laat slaap kan nie maklik wees nie. Ja, die kombersies help. En ja hulle is moeg. En dis natuurlik ʼn roetine. Maar, voeg die juffrou by: groepsdruk. Sodra een begin slaap raak die ander stil; hulle wil nie uitstaan of die een wees wat nie slaap nie. ʼn Perfekte voorbeeld van positiewe groepsdruk.

Voordele van groepsdruk sluit veral in:

  • Vriendskappe wat gevorm word
  • Positiewe voorbeelde van rolmodelle
  • Toegang tot mense wat terugvoer, raad en ondersteuning kan gee
  • Sosialisering en ontspanning
  • Motivering en aanmoediging
  • Nuwe ervarings wat positief is

So, om te begin, wat is belangrike tekens vir ouers om voor uit te kyk as ʼn kind worstel met groepsdruk?

  • ʼn Wesenlike verandering in gedrag
  • ʼn Gevoel wat die kind uitspreek dat hulle nie inpas nie
  • ʼn Behoefte om nuwe goed te probeer
  • ʼn Abnormale fokus op voorkoms
  • Voortdurende vergelykings met ander leerders
  • Doen goed wat hulle nie wou doen nie
  • ʼn Verswakking in skoolprestasie

Argieffoto (Scholastic)

Elkeen op sy eie toon nie noodwendig groepsdruk aan nie. Maar as verskeie van die bogenoemde kop uitsteek, kan jy begin kennis neem. Dit is hier waar jou verhouding met jou kind belangrik is: daar moet ʼn ruimte wees waar jy dit kan aanspreek of waar jou kind kan gesels en deel hoe hulle voel. Dit vereis ʼn sekere mate van vertroue. Oordeel en afkeur alleenlik sal nie in hierdie gesprekke voordelig wees nie; insig en deernis wel.

Onthou, ʼn kind is meer vatbaar vir groepsdruk in tye van onsekerheid, verandering, vervreemding of waar trauma ervaar is; in hierdie tye het leerders ʼn groot behoefte om nie uit te staan nie en om veilig te voel. Só sal hulle dan sekere goed doen om net deel van die groep te wees, ongeag. Probeer dus verstaan hoekom hulle in daardie stadium bereid is om afstand te doen van persoonlike waardes of voorkeure.

So, hoe maak ek my kind tot ʼn sekere mate bestand teen onnodige groepsdruk?

  • Heg waarde aan die ontwikkeling van hul identiteit. Dit sluit in ʼn ontwikkelde begrip vir wie hulle is, wat hulle kan doen, waarheen hulle op pad is asook die vermoë om goed te kommunikeer, emosies te bestuur en eie gedrag te beïnvloed.
  • ʼn Klem op die ontwikkeling van hulle selfvertroue.
  • Aanvaarding op die regte plekke.
  • ʼn Volwasse perspektief wanneer dit nodig is.
  • Die kweek van positiewe vriendskappe.

Ons kan nie groepsdruk vryspring nie. Dis deel van ons vormingsjare. Ons kan wel kinders help om voorbereid te wees vir daar waar hulle moeilike keuses moet uitoefen. Asook om hulle by te staan daar waar hulle wel geswig het onder die druk.

*Die “Wat ouers moet weet”-reeks word moontlik gemaak met die vriendelike samewerking van Akademia–  eersteklas hoër opleiding en opvoeding in Afrikaans.

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John ·

Groepsdruk en boelie is verwant… en slegte familiebande. Die buitestaander is deur die eeue in miljoene boeke beskryf. Die talentvolle, oorspronklike, die mooie maar ook die arm en versukkelde en dikwels ook die gelowige word uitgestoot deur die res. Die groep, hetsy familie, skoonfamilie, skoolmaats of kerkgenootskap wil domineer. Werkplekke en gesinne is erge teelaarde. Dit is hartseer dat ons Afrikaners groot spelers op die’ gruwelike buiteveld word. Boeregemeenskappe ly aan die kwaal en geen dipstof is by ko-ops te koop nie. Dit is gratis en verniet wanneer ons op ons kniee gaan, maar om te buig voor die Gewer daarvan is mos moeilik vir ons verwaande en magsbehepte mensdom al van kleintyd af…

Veritas ·

My raad aan jong ouers is doodeenvoudig. Maak seker dat jy jou kind se beste vriend is en hy of sy, moet weet dat jy hom nie gaan veroordeel nie maar gaan bystaan as hy gefaal het. Leer die kind van kleinsaf dat jy hom sal help met sy probleme en om niks vir jou weg te steek nie. Dissipline met gepaardgaande liefde, is moeilik maar noodsaaklik vir die kind se vertroue in ‘n ouer. Probeer tugtig uit liefde en nie woede nie. Dit werk soos ‘n bom. Nog een ding: Moet NOOIT vir jou kind lieg nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.