Wat ouers moet weet oor sosiale media

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos, Pixabay)

Hierdie rubriek is deel van ‘n reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Die laaste tien jaar het ons leefwêreld onherroeplik verander met die toetrede van sosiale media, al slimmer slimfone en meer breedvoerige internet-toegang. Die kruispunt van die drie is die lewens wat ons lei op ons digitale toestelle: hoeveel tyd ons daar spandeer, wat ons deel uit ons persoonlike lewens, wat ons kies om na te kyk en met wie ons kies om sosiaal te verkeer. Ons het natuurlik hierdie snelveranderende, ontwrigtende omgewing betree met geen handleiding om ons te lei nie. En terwyl ons nou ons voete begin vind, begin daar natuurlik nou ook ʼn donker kant na vorentoe tree wat die gevare belig waarmee ons voortdurend meer mee gekonfronteer gaan word. Vir ouers is daar natuurlik ʼn addisionele kopseer: hoe gee ek my kinders toegang tot hierdie wêreld sonder om hulle vir die wolwe te gooi?

Ek dink die grootste vrae om te oorweeg is:
• Op watter ouderdom gee ek vir my kind ʼn slimfoon?
• Watter internet-toegang gaan hulle daarmee saam kry?
• Mag hulle sosialemedia-profiele skep?
• Hoeveel vryheid gee ek hulle in hierdie verband?

ʼn Goeie plek is om te bepaal waarvoor ʼn foon primêr nodig is. Natuurlik hou dit eindelose moontlikhede in, maar dis nodig om die aanvanklike rede te vestig. Vir meeste ouers is dit om kinders te kan kontak en om gekontak te word. Buitemuurse aktiwiteite, sosiale reëlings ens. verander deurgaans en dis nodig om mekaar vinnig en direk in hande te kan kry. Boodskappe word lankal nie meer by die kantoortannie gelos nie.

As dit vir ʼn lang ruk die enigste rede vir die foon is, sal dit goed wees om ʼn eenvoudige foon te oorweeg met beperkte funksies. Dit is nie nodig om die nuutste slimfoon hiervoor te hê nie. Dit sny natuurlik ook ander probleme uit.

Argieffoto (Foto: LoveToTakePhotos, Pixabay)

Ek dink sodra ʼn kind 12 is, gaan dit moeilik word om ʼn slimfoon heeltemal te vermy. Om foto’s te kan neem, musiek te luister, video’s te kyk en met vriende op verskillende platforms te gesels begin dan ʼn daaglikse deel van hul lewe word.

In terme van internet-toegang kan ʼn ouer nog invloed uitoefen deur te kyk na die hoeveelheid data wat op die foon beskikbaar is en die tipe toegang wat daar is tot die huis se WiFi. Hier kan gesonde grense gestel word wat betref toegang tot webwerwe, die hoeveelheid data wat gebruik kan word asook watter tye wel aanvaarbaar is. Baie ouers kla byvoorbeeld oor kinders wat tot laatnag aanhou klets met mekaar. ʼn Goeie afsnypunt kan wees 30 minute voor jy wil hê hulle moet begin slaap.

Sosiale media bly natuurlik die groot kopseer. Ek dink dis kortsigtig om ʼn kind dit heeltemal te weier. Hulle gaan geen lewe sonder dit ken nie en dis van meer waarde om hulle vaardige verbruikers te maak van die begin af.

Begin deur te praat oor wat mens wel kan deel op jou profiel. Dit begin by basiese inligting wat in die hande van misdadigers gevaarlik kan wees tot by meer persoonlike inligting en media wat roekeloos kan wees. Hier wil mens praat oor:

• Deel ek my verjaarsdag, selfoonnommer, fisiese adres, kredietkaartinfo, ‘boarding passes’ ens.?
• Wie aanvaar en nader ek as vriende?
• Watter tipe kommentaar is gepas of nie?
• Deel ek my ligging voortdurend?
• Gee ek inligting oor vakansies soos datums, plekke ens.?
• Dui ek my verhoudingstatus of ʼn verandering daarin aan?

Oor jou profiel en inhoud wat jy deel kan beslis die volgende oorweeg:

• Het ek ʼn wagwoord en wie ken dit?
• Wat gebruik ek as naam op my profiel?
• Maak ek my profiel privaat of oop vir almal?
• Watter tipe hutsmerke gebruik ek?
• Watter inhoud deel en herversprei ek wat dalk ander kan ontstel?

Sosiale media het natuurlik die nuwe uithangplek vir boelies geword. Dit was onvermydelik. Al die groot platforms veg tans hard om dit te verander en tree al hoe strenger op teenoor misbruikers. Dit als in ag genome moet ouers met hul kinders hieroor praat. Begin by:

• Mag ek foto’s deel wat ander in ʼn slegte lig stel?
• Mag ek opmerkings maak wat ander kan seer maak?
• Laat ek groep-gesprekke toe waar iemand geboelie word sonder om iets te sê?
• Mag ek deelneem aan die verspreiding van gerugte of leuens?

Dit bly altyd goed om:

• Nie te antwoord sodra jy agtergekom jy word geboelie en iemand soek terugvoer nie. Maak ʼn stelling en verlaat die gesprek.
• Hou bewyse van enige sulke gedrag.
• Vertel iemand as jy geboelie word of as jy weet iemand word geboelie.
• Blok dadelik die betrokke persoon.
• As iemand geboelie word, kontak hulle persoonlik en ondersteun hulle.

Dis byna onmoontlik om te verseker dat jou kind nie êrens ʼn slegte ervaring gaan hê nie. En net soos in die regte lewe moet mens hulle voorberei vir wanneer dit gebeur. Hopelik kan hulle dan die regte besluite neem asook herstel.

Argieffoto (Foto: alphalight1, Pixabay)

Ek het ʼn navorsingstudie van Harvard Universiteit in hierdie verband baie handig gevind. Hulle het gaan kyk wat goeie ouers uiteindelik regkry. Hul bevinding?

• Goeie ouers maak dit ʼn punt om kwaliteittyd met hul kinders te spandeer.
• Goeie ouers stel gesonde rolmodelle aan hulle kinders bekend in sekere lewensfases.
• Goeie ouers kweek waardes wat hulself belangrik vind van vroeg af by hulle kinders.
• Goeie ouers maak kinders groot wat van vroeg af met dankbaarheid lewe.
• Goeie ouers gee gesonde perspektief op moeilike kwessies vir hulle kinders.

Dalk, net dalk, bly ouwêreldse waardes tog die geheim vir suksesvolle navigasie in hierdie onstuimige digitale wêreld. Wees pro-aktief met sekere praktiese aspekte en vertrou hulle om die regte besluite te neem wanneer hulle wel in moeilike situasies is.

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

johnny_walker ·

Goeie dag Gielie , goeie artikel , het jy geweet dat in skotland en in baie ander EU lande mag selfoon torings nie binne 3KM van n woonbuurt of woning wees nie agv die bestraling vanaf die torings wat kanker veroorsaak … kan jy nie vir ons uitvind watse slim tegniek ons selfoon maatskappye uitgevind het dat hulle torings wel binne enkele meters van mense se huise mag wees ? dan kan ek dit aan die dom Europeers verkoop sodat hulle ook oral sulke fantastiese sein kan hê nie (dit is natuurlik sarkasme van my kant , ek weet klaar hoekom ons land so geweldige gesondheids bedreiging toelaat)

Toring tegnikus ·

Johnny Walker

Selfoontorings se bestraling is glad nie sterk genoeg om enige iemand siek te maak nie

Die RF panele wat heel bo op n torings is saai uit teen tussen 20 tot 50 watt….dis n klein bietjie meer as n twee rigting radio….

As ons teen n toring opklim om aan die antennas te werk en ons kom in nabye kontak met die panele is dit ook nie genoeg om ons siek te maak nie….al skade wat dit aan ons tegnikuste kan doen is dat dit n pas aangeeer kan beinvloed….daar is mense wat al 30 jaar met dit werk en hulle makeer niks…..dis n HOAX wat deur mense uitgedink is jare terug en dit sal net erger word…..

Mtn en vodacom het toring baie naby aanmekaar omdat die seine nie sterk is nie….torings in die stede en dorpe se wattage is laer as die torings wat op berge staan in die vlaktes….ek dink in die ander lande is almal se krag hoer as normaal om kostes te spaar deur minder torings op te rig….ek glo op 200 tot 500 watt behoort daar n gevaar te wees as mens te naby aan die panele kom

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.