Wat ouers moet weet… oor toesprake

Argieffoto

Hierdie rubriek is deel van ʼn reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

ʼn Nuwe skooljaar begin altyd met ʼn spoed! Boeke moet oorgetrek word, atletiekuitdunne word gehou, nuwe roosters word gevolg en voor jy jou oë kan uitvee is dit tyd vir jou kinders se eerste praatjies/toesprake.

Vir baie ouers is dit ʼn groot kopseer. Dit moet in beide Afrikaans en Engels plaasvind en gebeur boonop ʼn paar keer deur die jaar. Vir baie kinders is openbare optredes ʼn groot bekommernis en baie ouers kyk daarop terug met angs.

Tog bly dit een van die belangrikste vaardighede wat ʼn kind later in sy lewe gaan nodig hê. Die vermoë om ʼn toespraak te skryf en dan te lewer leer jou ʼn paar goed: die formulering van ʼn standpunt, die ontwikkeling van argumente, die navorsing van bronne, die uitlê van hierdie inhoud binne die voorgeskrewe struktuur en dan die uiteindelike lewer voor ʼn gehoor, iets wat op ʼn natuurlike, gemaklike wyse moet geskied.

Baie skole gee reeds aan die einde van die jaar die temas deur wat leerders gaan moet gebruik. Dit is meestal in lyn met die ATKV se redenaarstemas. Kinders kan ʼn tema kies en moet dan daarvolgens ʼn onderwerp formuleer.

Die 10 belangrikste goed wat ouers moet in ag neem hiermee is:

  • ʼn Redenaarstoespraak vereis dat ʼn kind VIR iets moet redeneer. Met ander woorde, dis nie ʼn algemene praatjie wat net inligting deurgee nie. Jy moet standpunt inneem.
  • ʼn Voorbeeld hiervan sal wees: Tema: Bome. Onderwerp: Bome is goed vir klimaatsverandering.
  • Om jou onderwerp te ondersteun moet jy ten minste drie argumente ontwikkel wat jou saak versterk. Hierdie argumente moet sterk wees. Dis soms beter om vier of vyf te ontwikkel en dan die beste drie te kies.
  • Volgende is dit tyd vir navorsing – bronne wat jou argumente ondersteun. Hier is dit belangrik dat jy seker maak bronne is betroubaar, relevant en onlangs. Haal die bronne ook volledig aan: adres, skrywer, datum, opskrif en dan die aanhaling.
  • Voor jy skryf is dit nodig om al hierdie inligting beskikbaar te hê. Die struktuur en puntestaat is duidelik in hierdie verband: inleiding (wat standpunt/onderwerp insluit), drie argumente (met bronne), slot. Deur te hou by die struktuur maak jy seker dat jy maklik punte kry.
  • Daar word ook groot klem gelê op goeie taalgebruik, kreatiewe uitdrukkings, die gebruik van gesegdes, metafore ens. Dink voor die tyd aan frases wat jy in die skryf kan gebruik. Jy kan selfs ʼn deurlopend beeld gebruik, bv. My eerste tak, My tweede tak, ens.
  • Skryf jou toespraak en lees dit dan deur. Kyk vir beperkinge in terme van tyd. Luister ook hoe dit klink. Kan jy dit gemaklik praat? Skaaf gerus aan jou toespraak. Hou jou sinne kort en maak seker jy beklemtoon die belangrikste gedeeltes. Onthou, die juffrou het net een kans om te luister. Maak dit vir haar maklik.
  • Oefen nou jou toespraak. Onthou, hoe beter jy hom ken, hoe gemakliker kan jy praat en hoe minder sal die senuwees knaag. Maar pasop: ʼn toespraak word nie opgesê nie, dit word gepraat. Dit moet klink soos ʼn gesprek met jou vriende.
  • Sit jou toespraak op kaartjies. Jy mag met tye afkyk om te seker maak waar jy is.
  • Op die dag, praat lekker. Maak oogkontak met ʼn paar mense. Moet nie te vinnig praat nie. En geniet dit. Elke keer wat jy dit regkry is dit die volgende keer makliker.

Die proses van toespraakskryf leer jou vaardighede wat jou gaan help as student asook in die werksplek. Omarm hierdie geleentheid.

*Die “Wat ouers moet weet”-reeks word moontlik gemaak met die vriendelike samewerking van Akademia–  eersteklas hoër opleiding en opvoeding in Afrikaans.

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Groot waardering vir die artikel. Oupa se joppie, nou is daar riglyne.

Sonnika ·

Is dit nie eintlik die kind se joppie nie? Wonder sommer net!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.