Wat ouerskap my geleer het oor God se hart

Argieffoto (Foto: zilaseger/Pixabay)

Ons elkeen probeer iets van God se grootheid peil. Dis seker menslik. Ons hou daarvan om beheer te hê oor ʼn situasie. En om iets of iemand te verstaan, gee ons effense beheer oor hulle en die situasie.

Dis weer Kersfeestyd. Alhoewel ek weet dis nie noodwendig Jesus se ware verjaarsdag nie, is dit vir my my gunstelingtyd van die jaar juis omdat ons herinner word aan Sy geboorte en wat Hy vir ons kom doen het.

Dis egter vandat ek kinders het dat die werklikheid van wat Hy regtig vir ons kom doen het, my baie meer waarde aan hierdie tyd laat heg. Miskien is dit omdat ek nou eers werklik begin besef hoe sy Vaderhart werk.

God se genade was vir my nog altyd goed verduidelik deur die volgende voorstelling: ʼn Vriend kom na jou toe en sê vir jou: Hier is vir jou ʼn Ferrari… Wat ons natuurlik dadelik wil doen, is om te vra: What is the catch? Maar hy sê vir jou nee regtig, dis vir jou. Verniet. Ek gee dit vir jou want ek wil.

Wat ons dan natuurlik menslik gesproke, baie maklik doen, is om te besluit dis regtig te goed om waar te wees en ons wil dadelik daarvoor begin werk, of terugbetaal. Want niks is mos ooit verniet, en sommer net nie.

God gee vir ons Sy genade. Eerste. Toe ons nog sondaars was, bied hy dit vir ons aan om te aanvaar. Ja, natuurlik moet ons dan mos nou verander en soos kinders van Hom begin lewe as ons dit eers aanvaar het, maar Hy is ʼn geduldige God en weet ons is net mense en nie naastenby heilig nie. So dit gaan maar ʼn gesukkel afgee, meeste van die tyd.

Dis egter as ʼn ouer dat ek die volle werklikheid van hierdie bogenoemde verduideliking begin verstaan het. Want dis eers as mens eerstehandse ervaring opdoen dat jy waarlik verstaan en leer. En uiteindelik verstaan ek nog ʼn klein bietjie meer van wie hierdie grootse God van ons is. Kom ek verduidelik die les wat God vir my geleer het na aanleiding van ʼn voorbeeld of twee van my eie kinders.

Argieffoto (Foto: fancycrave1/Pixabay)

Hulle het nie gekies om in hierdie wêreld in te kom nie. Dit was my en my man se keuse. Die dag toe ek hulle in my arms vashou, het ek vir hulle al my liefde begin gee. Hulle het nie daarvoor gevra nie… hulle het basies net gehuil, met niks om vir my aan te bied in ruil daarvoor nie. Ek was egter smitten.

Ek het alles vir hulle gedoen. In die middel van die nag opgestaan, getroos, geborsvoed, vuil doeke omgeruil, noem maar op. Want hulle was tog te dierbaar. Hulle het gekoer, begin glimlag en lag en my om hulle pinkie gedraai. Maar soos my ma al gesê het: Hoe ouer kinders word, hoe kleiner raak die vlerkies en hoe langer die horinkies… Hoe waar is dit nie..?

Hulle menslikheid begin mos maar uitkom. Hulle begin nuwe dinge sien, hoor en ontdek. Nou begin hulle ook die grense toets. Kinders gáán stout wees. Hulle gaan dinge vat wat hulle nie moet nie, goed rondgooi, hulle humeure totaal verloor, nie wil deel nie, lelik wees met jou en ander maatjies…

Maar my liefde hou nooit op nie.

Ek gaan hulle verseker nie toelaat om die dinge te doen nie. Ek raas seker maklik 50 keer ʼn dag (en hierdie is ʼn lae getal vir my…), maar ek leer hulle ook terwyl ek raas. Ek verduidelik hoekom dit verkeerd is en hoekom ons dit nie moet doen nie. Wat die gevolge kan wees van sekere aksies. Ek is nie altyd seker of hulle luister nie.

Maar my liefde hou nooit op nie.

As hulle egter dinge doen waarteen ek hulle al ʼn paar keer gewaarsku het, moet hulle die gevolge dra. Ek kan raad gee, maar as hulle hardkoppig vasklou aan hulle eiesinnigheid moet hulle die gevolge voel, anders gaan hulle nie leer nie. In hierdie situasies moet ek ongelukkig soms maar toekyk terwyl ek weet hoe dit gaan eindig, maar soos die spreekwoord sê: Wie nie hoor nie, moet voel. Dis soms die beste leerskool. Dit breek my hart as hulle teen my reëls en raad gaan, want ek weet mos baie meer van die lewe as hulle, maar soms moet hulle maar op die harde manier leer…

Maar my liefde hou nooit op nie. En ek sal daar wees om hulle vas te hou wanneer die realiteit hulle tref en die gevolge van slegte keuses hulle na my toe laat hardloop.

Argieffoto (Foto: FreePhotos/Pixabay)

Baie keer moet ek ook magteloos toekyk hoe ander maatjies keuses maak wat hulle soms bietjie, soms baie seer maak. Maar so leer hulle bitter waardevolle lesse, wat hulle heel moontlik, en hopelik nooit, by ons huis sou leer nie. Ons leef egter in ʼn gebroke wêreld en almal gaan nie noodwendig so mooi en liefdevol wees soos ons gesin nie.

Maar my liefde hou nooit op nie. Hulle sal altyd weet waar hulle veilig sal wees en waar om weer hulle siel te kan kom herlaai.

Hulle het hulle eie persoonlikheid en ek gaan nie oordeel op daardie deel van wie hulle is nie. Ek gaan altyd meeste van hulle daaglikse doen en late met ons morele-kompas (die Bybel in ons geval) rig, maar nooit in hulle unieke persoonlikheid se pad staan nie. Ons oudste seuntjie is ʼn denker en ʼn vreeslike individualis, terwyl ons tweede ʼn totale sosiale vlinder met ʼn woeste wil van sy eie is. Die een redeneer en wil alles van die lewe verstaan, terwyl die ander een die lewe om lag en nie onregverdigheid duld nie.

Maar my liefde hou nooit op nie. Ek het hulle lief met die gawe wat hulle tot die huisgesin toevoeg.

Alhoewel hulle nog klein is en nog so baie moet leer en verstaan, kan ek sien dat hulle meestal regtig hard probeer om my tevrede te stel. Om wel die reëls wat hulle begin verstaan, na te kom, al kry hulle dit nie altyd reg nie en voel ek al soos ʼn vasgehaakte plaat, omdat ek so baie elke dag moet raas en verduidelik hoekom is iets verkeerd, kan ek sien dit sink wel in. Dis egter elke dag ʼn gestoei en gesukkel.

Maar my liefde hou nooit op nie. Ek kan ek sien dat dit vrugte afwerp en hulle elke dag meer en meer die mense word wat ek hoop hulle eendag sal wees.

Die dag toe my kinders gebore is, het ek my liefde vir hulle aangebied omdat ek hulle lief gehad het, voor hulle my kon liefhê. Dit was my keuse dat ek hulle sal liefhê. Hulle gaan my heel moontlik nooit met dieselfde liefde liefhê waarmee ek hulle lief het nie. Ek hoop, en bid, hulle sal daardie liefde aanvaar en my ook liefhê, maar ek het geen waarborg nie. Want liefde is ʼn keuse en dit laat toe vir vrye wil. Ek sal nooit my rug op hulle draai nie. As hulle dalk hulle rug eendag op my draai (mag dit asseblief nooit gebeur nie), gaan ek nog steeds alles moontlik doen om hulle weer in my huis te kry, maar dwing sal ek hulle nooit. Ek het hulle nie lief omdat hulle perfek is nie.

My liefde hou nie op nie, want ek het hulle lief gehad voordat hulle nog geweet het wie ek is. Nog voordat hulle my liefgehad het, sou ek al my lewe vir hulle gegee het….

Dit was egter toe ek elke keer “ek/my” met “God” vervang het in my eie voorbeeld, dat Kerstyd se betekenis vir my ʼn werklikheid begin word het. Ek kan nou nie anders as om myself te verbly in die onvoorwaardelike liefde van ons onbeskryflike, genadige hemelse Vader nie…

Geseënde Kersfees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel Hendriks ·

Die is soooooo Mooi. Ek sit met hoendervleis en die trane lê baie vlak…. Stunning verby…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.