Wat veroorsaak leesprobleme?

leesprobleme

Foto: Edubloxsa.co.za

Hallo Susan

Ek het drie kinders. My oudste seun, tans in graad 5, is die gemiddelde kind, met geen probleme nie. My middelkind, nou in graad 3, het leesprobleme. Hy ken nie al die klanke nie. Hy het ook glad nie selfvertroue nie en raak regtig gestres iemand praat van huiswerk of skoolwerk. Hy het so ʼn pragtige persoonlikheid en ek wil nie hê dit moet geblus word deur sy akademiese onvermoë nie.

Ek het hom laat toets vir disleksie en dit is nie sy probleem nie. Ek dink hy ontwikkel net laat en het êrens tussen graad R tot op hede op sekere plekke van sy akademie inligting gemis, of daar is los skakels.

Ek sal dit so waardeer as jy my kan help, want volgende jaar moet hy begin eksamen skryf en ek het nie ʼn idee of hy dit sal maak nie.

Jana

Beste Jana

Lees is koning in die klaskamer. Dit is onontbeerlik vir akademiese sukses, in die hier en nou, sowel as in die toekoms. Daarom is ʼn kind wat sukkel met lees, gewoonlik ʼn groot kopseer vir ʼn ouer. Behalwe vir negatiewe gevolge op akademiese vlak, kan leermislukking ʼn kind se hele persoonlikheid benadeel en daarom is dit belangrik dat ons erns maak van ʼn leesprobleem.

Die meeste probleme kan slegs opgelos word wanneer ons weet wat die oorsaak daarvan is. Die regte vertrekpunt waar dit kom by lees, sal dus wees om te vra, Wat veroorsaak leesprobleme?

Ten einde te verstaan wat leesprobleme veroorsaak, moet ons verstaan dat leer in lae plaasvind. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voordat ons ʼn daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos opklim met ʼn leer: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Taal is die eerste sportjie

Di dunia kini kita, tiap orang harus dapat membaca… As jy nie eers die taal Indonesies geleer het nie, is daar nie ʼn manier waarop jy hierdie Indonesiese sinnetjie gaan verstaan nie. Dit wys vir ons dat taal op die heel onderste sport van die leer is. Ons kan die rol van taal vergelyk met hardloop in sokker. Mens kan nie sokker speel as jy nie kan hardloop nie. Insgelyks kan mens nie lees as jy nie die spesifieke taal goed ken nie.

Indien ʼn kind se kennis van Afrikaans swak is, sal hy sukkel om dit te lees. Sonder doeltreffende opleiding om sy Afrikaans te verbeter, sal sy leesvermoë nie ontwikkel nie.

Kognitiewe vaardighede is die tweede sportjie

Sokker bestaan uit baie uiteenlopende vaardighede, soos skop, uitgee, dribbel en kopskote. Voordat ons van ʼn kind kan verwag om aan die spel deel te neem, moet hy eers leer om die bal te skop, uit te gee, te dribbel en kopskote uit te voer. Dit is presies dieselfde met lees. Kognitiewe vaardighede, soos visuele en ouditiewe prosessering en ouditiewe geheue, wat die basis van lees vorm, moet eers aangeleer word.

Visuele prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit die inligting wat ons sien. Dis anders as probleme, wat sig of visie insluit. Probleme met visuele prosessering affekteer die interpretasie of verwerking van wat ons sien. ʼn Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20 visie hê, maar sukkel om te onderskei tussen voorgrond en agtergrond, vorms, grootte en posisie. Hy mag ook sukkel met visuele sintese en analise.

Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ʼn onvermoë om te hoor nie, maar ʼn onvermoë om wat gehoor word te interpreteer, organiseer of analiseer. Die fisiologiese dele van gehoor werk goed, maar die dele van die brein wat daarmee moet werk, nie.

Ouditiewe geheue is belangrik vir klankleer

Cyndi Ringoen, ʼn neuroterapeut, sê swak ouditiewe korttermyngeheue is baie keer die oorsaak daarvan dat kinders ʼn onvermoë het om volgens die klankmetode te leer lees. Die klankmetode is ʼn ouditiewe stelsel en dit is baie belangrik dat voldoende ouditiewe korttermyngeheue beskikbaar is om met die klankmetode te leer, toe te pas wat geleer is en gevolglik te verstaan wat ons lees.

Volgens Ringoen moet ʼn kind ʼn ouditiewe syferspan van om en by 6 hê om met die klankmetode te leer lees. Syferspan, ʼn algemene maatstaf vir korttermyngeheue, is die aantal syfers wat ʼn persoon kan inneem, herroep en weergee in die korrekte volgorge as wat hy dit gesien of gehoor het.

Die ouditiewe syferspan van ʼn kind kan getoets word deur syfers stadig in ʼn monotone stem met tussenposes van een sekonde te sê en die kind dan te vra om dit te herhaal, bv. 6-1-5-8. Indien die kind daarin slaag, herhaal die toets met 5 syfers, bv. 9-2-4-7-5. ʼn Kind moet daartoe in staat wees om ʼn reeks van 4 syfers met die eerste probeerslag 75% van die tyd korrek te kan herroep om ʼn korttermyn-geheuespan van 4 te hê en dit geld vir elke syfer wat bygevoeg word.

Behalwe ouditiewe reeksgeheue is daar ander geheuevaardighede wat ook belangrik is vir lees, naamlik visuele geheue, reeksgeheue, langtermyngeheue en werkende geheue.

Die oplossing vir ʼn leesprobleem is dus om seker te maak dat ʼn kind se taalvaardighede sowel sy kognitiewe vaardighede goed ontwikkel is. As dit in plek is, is dit heel maklik om ʼn kind te leer lees.

Sterkte vir jou

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en het die eerste Edublox Lees, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 22 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek gerus die Edublox-webtuiste en word geïnspireer deur 450+ suksesverhale: www.edubloxsa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Irma Le Roux ·

Ek sit met dieselfde probleem met my dogtertjie, sy sukkel bietjie met less en take, maar by die huis, gaan dit goed, maar sodra sy dit by die skool moet doen, Dan is dit n probleem. Hulle wil haar nou in n spesiale klas indruk, waar graad 1 tot graad 7 in een klas is, ek is glad nie gelukkig nie, ek koop ekstra boekies om te lees, ekstra huiswerk take … Maar die juffrou kraak haar so af ! Wat staan my te doen, raad asb ?

Was ook daar ... ·

Hello Irma. Ek was ook daar, behalwe dat my dogtertjie se juffrou ons verskriklik bygestaan het. Ek sou sê jy moet haar laat toets deur ‘n opvoedkundige sielkundige en die verslag vir die juffrou en sommer die hoof vat. Ek het self ondervind watter groot impak ‘n kind met ‘n lae selfbeeld kan hê. Dit gaan soveel beter met my dogtertjie vandat ons werk van die probleem gemaak het en ook saam met die juffrou werk, want hulle is tog die helfte van die dag by hulle juffrouens. Baie sterkte, ek weet hoe dit voel, maar daar is oplossings.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.