Watter boustene in die grondslagfase kan my kind se toekoms verseker?

onderwys-alfabet-swartbord-boek

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Impaq

Elke ouer droom daaroor dat hul kind eendag in ’n goeie beroep sal staan. Die ingenieur droom dat haar kind goed sal wees met wiskunde om ’n suksesvolle loopbaan te begin, terwyl die skrywer hoop dat sy kind ook eendag boeke sal publiseer. Maar die drome spat vinnig in skerwe sodra hul kind nie weet hoe om ’n eenvoudige wiskundesom te doen of hoe om ordentlik te lees nie. As laaste uitweg word die kind vir ekstra klasse gestuur en nog meer druk word uitgeoefen in ’n poging om die kind te kry om te presteer. Kort voor lank is die kind uitgebrand en die ouers het die drome oor hul kind se toekoms laat vaar.

Daar is basies twee grondbeginsels wat in die grondslagfase behoorlik vasgelê moet word. Leerders word deesdae toegegooi met ’n massa werkkaarte en rekenaarprogramme wat belowe om hulle alles te leer wat hulle moet weet, maar sodra daar nadere ondersoek gedoen word oor wat werklik benodig word om hierdie beginsels vas te lê, sal geen werkkaart of rekenaarprogram dit vir ’n leerder kan leer nie.

Tale

In  tale moet ’n leerder met begrip kan lees. Die vaardigheid sal die leerder in staat stel om vrae in toetse of eksamens te lees. As ons dit wil regkry, moet die leerder ten minste vlot kan lees, sonder om vas te haak of om sy/haar vingers te gebruik. Om vlot te kan lees, moet die leerder alle klanke baie goed ken en gereeld oefen.

Wanneer klanke aangeleer word, moet dit so prakties as moontlik gedoen word. Die leerder moet die klanke uit klei bou, dit hardop oefen, in die sand skryf, ensovoorts. Die leerder moet die letter met die plofklank assosieer en dit op ’n daaglikse basis inoefen. Indien die klanke vir die leerder geflits word, moet hulle dit so vinnig as moontlik kan uitspreek. Sodra daar genoeg klanke aangeleer is, kan woorde en sinne gebou word. Gee die leerder genoeg tyd en genoeg maklike leeswerk. ’n Leerder wat sy/haar klanke goed ken sal baie vinnig leer lees. Sorg dat die leerder genoeg boeke het wat by sy/haar leesvermoë pas. Boeke wat te moeilik is, sal die leerder demotiveer, maar maklike boeke sal ’n liefde vir lees kweek.

Wiskunde

In wiskunde kom alles neer op getalbegrip. Dit beteken dat die leerder met ’n getal in sy kop kan rondspeel, byvoorbeeld die getal 5: ons breek hom op in ’n 2 en ’n 3 (of ander kombinasies). As ons 5 verdubbel, word dit 10 – ’n ewe getal wat ons kan halveer sonder ’n res. Die leerder kan ook dadelik vyf vingers wys sonder om dit te tel.

’n Leerder wat kan tel, het nie noodwendig getalbegrip nie, want tel is niks anders as ’n rympie wat vroeg aangeleer word nie. Die grondbeginsel van wiskunde lê daarin om getalbegrip by ’n leerder vas te lê. Getalbegrip lei ook na hoofrekene wat ’n leerder in staat stel om vinniger te werk en ’n beter en logiese begrip vir getalle te ontwikkel. Indien ’n leerder in graad 3 nog steeds op sy/haar vingers tel of maniere moet vind om by antwoorde uit te kom deur prentjies te teken, beteken dit dat getalbegrip nie vasgelê is nie. Getalbegrip word aangeleer deur getalle visueel uit te beeld. Versamel 5 klippies, breek dit op in verskillende groepies en help die leerder om die hoeveelhede in hulle kop te visualiseer.

Indien die boustene vir hierdie twee grondbeginsels goed vasgelê is, sal die leerder ’n voorsprong hê in die aanleer van moeiliker konsepte in tale en wiskunde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae