Wees koel by die skool

 Dogter_drink_water_warm.jpg

Foto: Batsonchirowellness.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Kinders wat moet skoolgaan wanneer temperature die hoogtes inklim, verduur meer as net ’n bietjie ongemak. Stygende temperature kan lei tot lusteloosheid, verhoogde geïrriteerdheid en ’n gebrek aan konsentrasie – ’n resep vir ’n ramp wanneer ’n klas van 30 of 40 kinders onderrig moet word (onthou, onderwysers moet ook die hitte verduur)!

Om heeldag in ’n warm klas vasgevang te wees, kan ook lei tot swak hidrasie, wat die brein se vermoë om inligting te versend en ontvang, belemmer en kognitiewe vermoëns inkort. Terwyl matige vlakke van dehidrasie akademiese prestasie kan beïnvloed, kan dit, in uiterste temperature en onbehandeld, die risiko vir hitteverwante siektes soos hitte-uitputting en sonsteek verhoog.

Jy kan ongelukkig niks doen aan die stygende temperature of die feit dat jou kind skool moet bywoon – veral tydens die eksamen – nie, maar jy kan die situasie draagliker maak deur ’n  paar eenvoudige stappe te doen om jou kind tydens skooltyd gesond en veilig te hou.

  • Span die sonbrandroom in, al gaan jou kind die grootste gedeelte van die dag binnemuurs deurbring.
  • Vir baie kinders is buite speel saam met hul maats tydens pouse die beste deel van die skooldag. Moedig egter jou kind aan om pouses in die koelte te sit, en nie in die son rond te hardloop nie.
  • Voorkoming is die beste behandeling vir dehidrasie (ontwatering). As jou kind se skool egter nie kinders toelaat om in klastyd waterbottels op hul lessenaars te hou nie, moet hulle onthou om tydens pouses baie water te drink. Sportdrankies (wat elektroliete bevat) is ook goed, maar bly weg van gaskoeldrank, want dit kan dehidrasie veroorsaak.
  • Pak ’n voedsame ete (en hou dit koud, vars en smaaklik) in ’n geïsoleerde kosblik, of vries ’n bottel water en gebruik dit om jou kind se kosblik te verkoel. Vrugte en groente is veral goeie bronne van water en sal help met hidrasie (bevogtiging).
  • Waarsku jou kind dat die oppervlakke van speeltoerusting baie hoë temperature kan bereik as dit heeldag in die son bak, en dat dit ernstige brandwonde kan veroorsaak.
  • Wanneer jy jou kind by die skool oplaai, moet nooit ander kinders of troeteldiere in die kar los nie. Wanneer die temperatuur buite ongeveer 33 °C is, kan die temperatuur in ’n kar binne 20 minute ’n dodelike 50 °C bereik!

Beperk ook buitemuurse aktiwiteite wanneer dit so warm is en win dadelik mediese hulp in indien jou kind simptome het van hitte-uitputting of sonsteek.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.