Wees maar versigtig vir hierdie kinderspeelgoed

Nerf Ultra One. Foto: Toysafety.org

Daar bestaan ongelukkig iets soos gevaarlike speelgoed en dié soort produkte is ook in Suid-Afrikaanse winkels en aanlyn beskikbaar. Enige iemand wat Kersgeskenke vir kinders aanskaf, moet dalk net twee keer dink voordat hulle hierdie soort speelgoed in ʼn kind se Kerskous sit.

Kirstie Haslam, ʼn vennoot by DSC Prokureurs, sê World Against Toys Causing Harm (WATCH) het onlangs hul 2019-veiligheidsverslag vir speelgoed uitgereik. Dié Amerikaanse niewinsgewende organisasie, het speelgoed uitgesonder wat na alle waarskynlikheid beserings by kinders kan veroorsaak.

“Nerf Ultra One se pylgeweer, Power Rangers se elektroniese Cheetah Claw en die Pogo Trick Board is as potensieel gevaarlike speelgoed in die hande van kinders geïdentifiseer,” het Haslam gesê.

WATCH het in ook in die verslag die klassieke veiligheidsrisiko’s beklemtoon wat telkens jaar ná jaar met speelgoed en produkte vir kinders opduik. Dit sluit in swak ontwerpte speelgoed, teenstrydige en onvoldoende waarskuwings asook onvoldoende ouderdomsaanbevelings op speelgoed vir kinders.

Dié organisasie maan ook dat ouers dalk twee keer moet dink voordat hulle speelgoed aanskaf wat afgevuur word met genoeg krag om ’n oogbesering te veroorsaak.

“Ouers moet ook versigtig wees vir speelgoed wat kinders aanmoedig om te spring en ry, want daar bestaan altyd die potensiaal vir kopbeserings. Sommige van hierdie speelgoed word sonder die regte veiligheidstoerusting verkoop en word ook nie met die nodige veiligheidswaarskuwing bemark nie,” het Haslam bygevoeg.

Volgens WATCH is daar steeds speelgoed wat verkoop word met die tipiese gevare soos klein onderdele wat ingesluk kan word. Sommige speelgoed bevat ook stowwe wat giftig kan wees as dit ingeneem word. Van hierdie speelgoed se gevare word ook dikwels verbloem deur nuwe verpakking.

Die verslag gee ʼn uiteensetting van die impak van aanlyn aankope op die veiligheid van speelgoed. Dit vervat verder ook bygewerkte inligting oor speelgoed wat herroep is en beklemtoon die noodsaaklikheid van strenger toesig oor die speelgoedbedryf.

Haslam het gesê swak ontwerpte en ongetoetste speelgoed kan ongelukkig tot die dood of verminking van ʼn kind lei.

“Dit is hartseer, want die meeste speelgoedverwante beserings is voorkombaar.”

Sy meen verder dat speelgoed aan die minimum standaarde van die SABS moet voldoen.

“Buiten enige regulatoriese vereistes is dit ook die plig van ʼn speelgoedvervaardiger om redelike maatreëls te tref om te verseker dat ʼn speelding veilig gebou is en ook te verseker dat voldoende waarskuwings gegee word rakende die veilige gebruik van ʼn speelding.”

Hier is WATCH se lys vir 2019 van speelgoed wat die organisasie as onveilig beskou:

  1. Nerf Ultra One

Volgens WATCH spog dié vervaardiger dat hierdie sponspylgeweer se ammunisie tot “120 voet (36,58 meter) ver” met “kragtige spoed” afgevuur kan word, wat dit “die verste vlieënde Nerf-pyltjie ooit” maak. WATCH is bekommerd dat die pyltjies, alhoewel grootliks van spons gemaak, steeds met genoeg krag skiet om ʼn moontlike oogbesering te veroorsaak.

  1. Spike, die fynmotoriese krimpvarkie

Spike, die fynmotoriese krimpvarkie. Foto: Toysafety.org

Hierdie “krimpvarkie” word aanbeveel as ʼn speelding vir kinders van die ouderdom van 18 maande oud. Dit het 12 verwyderbare, harde plastiekpenne, wat byna 9 cm lank is. WATCH is bekommerd dat die penne in jonger kinders se monde kan beland en hulle kan laat verstik.

  1. Bunchems! Bunch ’n Build

Bunchems! Bunch ’n Build. Foto: Toysafety.org

Bunchems! is veelkleurige aktiwiteitsballetjies wat aanmekaar vasklou om iets daarmee te bou. Daar was egter al berigte dat soortgelyke plastiek-kleefspeelgoed in kinders se hare verstrengel geraak het. Jong kinders wat die balletjies insluk, kan daaraan verstik en ouers word verder aangeraai om dit van troeteldiere weg te hou.

  1. Yeti

Yeti. Foto: Toysafety.org

Hierdie sagte speelding word bemark aan kinders wat in die orale fase van ontwikkeling is en alles na hul monde bring om dit te proe. Die knuffelspeelding se lang, veselagtige hare kan maklik met die minimum inspanning verwyder word. Die hare kan dan maklik ingesluk word of in ʼn kind se neus en mond beland.

  1. Nickelodeon se gevriesde slym

Hierdie kleurvolle slym word aan kinders bemark en lyk soos van hul gunsteling- bevrore lekkernye. Foto: Toysafety.org

Hierdie kleurvolle slym word aan kinders bemark en lyk soos van hul gunsteling- bevrore lekkernye wat ʼn kruisementsjokoladeskyf, bessie-smoothie en draairoomys insluit. Boonop ruik dit ook nog soos die ware jakob, maar terselfdertyd waarsku die vervaardiger dat die slym skadelike chemikalieë bevat en dat dit nie regte kos is nie en nie mag geëet word nie – praat van teenstrydige bemarking.

  1. Anstoy se elektroniese speelgoedpistool

Anstoy se elektroniese speelgoedpistool. Foto: Toysafety.org

WATCH het hulle sterk uitgespreek teenoor dié soort realistiese en gedetailleerde replikas van wapens.

“Daar is eenvoudig geen verskoning vir die bemarking van hierdie soort masjiengeweer-‘speelgoed’ aan kinders van enige ouderdom nie,” het Alan Eisner en Lorraine Falling van die organisasie gesê.

  1. Metaal modelskoolbussies

Metaal modelskoolbussies. Foto: Toysafety.org

Hierdie miniatuur geel skoolbuskarretjies word wel met ʼn waarskuwingsplakker verkoop wat ouers maan dat dit klein onderdele het waaraan jonger kinders kan verstik. Die stewige rubberbande wat op die plastiekwiele gemonteer is, kan maklik verwyder word en jong kinders kan daaraan verstik.

  1. Flybar Pogo Trick Board

Flybar Pogo Trick Board. Foto: Toysafety.org

Kinders wat hierdie Pogo-truukbord met “ ʼn hoë bonsbal” gebruik, moet ook van dubbele handvatsels voorsien word. Ondanks die vervaardiger se waarskuwing dat kinders ʼn valhelm en ander beskermende toerusting moet dra as hulle hiermee speel, dra slegs twee van die drie kinders wat op die produk se verpakking verskyn, wel ʼn helmet en niemand gebruik enige ander beskermende toerusting nie.

  1. Power Rangers se elektroniese Cheetah Claw

Power Rangers se elektroniese Cheetah Claw. Foto: Toysafety.org

Die klou is gemaak van harde plastiek. Vyfjariges word aangemoedig om die “krag van die Cheetah Claw” te gebruik om hul “vyande reg te sien!” Die vervaardiger raai terselfdertyd kinders aan om nie “mense te slaan nie”.

  1. Viga se trekruspe

Viga se trekruspe. Foto: Toysafety.org

Ondanks die bedryfstandaard wat vereis dat toue aan speelgoed nie langer as 30 cm mag wees nie, word vervaardigers steeds toegelaat om trekspeelgoed soos hierdie met ʼn koord van ongeveer 60 cm te bemark. Geen waarskuwings word hieroor verskaf nie alhoewel die kans bestaan dat ʼn jong kind daarin verstrengel kan raak en selfs kan verwurg.

Volgens Haslam is dit skrikwekkend om te besef hoeveel van hierdie produkte, of soortgelyke speelgoed, in Suid-Afrikaanse winkels of aanlyn beskikbaar is.

“As jy of jou kind deur ʼn gevaarlike speelding beseer word, kan jy moontlike skadevergoeding vereis. Ingevolge die Suid-Afrikaanse wetgewing kan vervaardigers, kleinhandelaars, verspreiders en verskaffers almal aanspreeklik gehou word as defekte of gevaarlike produkte skade veroorsaak.”

Haslam het egter ook bevestig dat hierdie soort sake rakende persoonlike beserings ingewikkeld is en daarom is dit belangrik om regsadvies hieroor in te win.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.