‘Wees soos ʼn buffel. Laat sak jou kop en gáán!’

Taylor van Staden (Foto verskaf)

Taylor van Staden se lewe was ʼn gemors. Dit het só woes gegaan by die huis, dat sy in graad 10 van haar ouers weggeneem en na die Abraham Kriel-kinderhuis geneem is. Maar sy het haar nie laat onderkry nie. Vandag is sy ʼn eerstejaarstudent aan Pearson College, waar sy BCom Regte studeer. Daarna wil sy nog ʼn onderwysgraad ook doen, want haar passie lê by tieners.

Haar beste hoërskoolherinnering is van die matriekafskeid. “Dit was die mooiste dag, almal het so volwasse gelyk!” En die grootste voordeel daarvan om klaar te wees met skool, om daardie matriekstof van jou af te skud? “Meer vryheid!”

Taylor het dit nie altyd maklik gehad nie, maar sy het bo haar moeilike omstandighede uitgestyg – en jy kan ook. “Onthou altyd die woorde van Jeremia 29:11: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting’,” is haar raad aan matrieks. Hieronder vertel sy self hoe dinge skeefgeloop het en hoe sy gekom het waar sy vandag is.

As jong dogtertjie, in my ouerhuis, was die lewe nie altyd vir my maklik gewees nie. My pa was verskriklik aggressief en het baie keer sy woede op ons uitgehaal – hy het ons fisiek en emosioneel seergemaak. My ma was soos ʼn agtergrondkarakter in ʼn storieboek – sy was daar, maar sy het nie ʼn belangrike rol in my lewe gespeel nie. Daar was dae dat ek in ʼn bondeltjie in my kamer opgekrul het en gebreek was, maar my ma het geen vertroosting gebied nie.

Ek is ook as ʼn klein dogtertjie verkrag, maar ek het dit vir baie jare vir myself gehou. Die grootste rede hiervoor was dat ek bang was oor hoe my pa daaroor sou reageer. Al hierdie dinge het veroorsaak dat ek ʼn baie teruggetrokke kind was wat ʼn baie swaar las op my skouers gedra het. Ek het nie sommer met mense gekliek of gemaklik gevoel by hulle nie. Dit het gevoel asof die lewe self nooit aan my kant was nie.

Tog was daar was altyd ʼn stukkie van my hart wat geweet het ek moet vasbyt en my beste doen.

In my graad agt-jaar het my Afrikaans-onderwyseres ontdek dat ek gedigte skryf. Sy het baie van my gedigte gelees en my bemoedig en gevorm. Om te skryf, was my manier om van alles binne-in my ontslae te raak. Ek het gedurende my hoërskoolloopbaan al hoe beter begin skryf en my passie vir Afrikaans het by die dag gegroei.

Die lewe het nie vir my makliker geword nie en ek het geen selfvertroue gehad nie – ek het probeer om my geluk in ander mense te vind. Een naweek het ek saam met ʼn tannie na ʼn tienerkamp by Woord In Aksie gegaan. Ek was baie onseker oor wat die naweek vir my sou inhou, maar ek het enige moontlike hulp nodig gehad. Daardie naweek het ek deur al my probleme gewerk en het ek God op ʼn meer persoonlike vlak leer ken. Ná die naweek het ek steeds dieselfde omstandighede in my ouerhuis gehad en ek het steeds nie altyd geweet hoe om kop bo water te hou nie, maar ek het nie meer in ʼn bondeltjie opgekrul en vir alles probeer wegkruip nie. Ek het begin leer hoe om te léwe!

Saam met Rosarie, wat Taylor help met haar studies en seker maak die geld wat sy nodig het, is beskikbaar.

Gedurende my graad tien-jaar het dinge in ons huis handuit geruk. My ouers was onseker of hulle wou skei. Vir baie maande het dit so aangegaan en ek en my sussies het gesukkel om by te hou met ons skoolwerk. ʼn Dag voordat ek my laaste vraestel, biologie, vir die jaar moes skryf, het die maatskaplike werker my kom haal. Ek was oorweldig en wou met alle mag uit daardie situasie ontsnap, maar ek kon nie.

Die maatskaplike werker het my by die Abraham Kriel-kinderhuis gaan aflaai. Ek was baie ongelukkig en het gedink ek is die laaste kind in die wêreld wat in so plek moes wees. Ek het gedink ek verdien beter.

Kort voor lank het ek besef dat elke ander kind in die kinderhuis, net soos ek, nie gevra het om daar te wees nie. Hulle is kinders met harte. Hulle kry ook seer. Dit was nie altyd maklik nie – almal dink dat alle kinderhuiskinders sleg is. Die wêreld het met ander oë na ons gekyk.

By Woord In Aksie het die mense vir my soos familie geword. Ek het elke keer as ek gaan kamp het, iemand saam met my geneem. Ek het met elke kamp geleer om my probleme beter te hanteer – hoe om sterker te wees. Ek het geleer hoe om op die Here staat te maak, want sonder Hom sou ek nie kon aangaan nie. Hy was my lig in elke donker tonnel. Ek het gekies om nie op te gee en in die donker laagtes te gaan lê nie. Ek het aanhou skryf en uitnemende resultate behaal. Ek het aanhou leer en goeie matriekuitslae gekry. Ek kon nie soveel sukses behaal het as dit nie vir God se aanraking in elke liewe dag van my lewe was nie.

In matriek was ek baie onseker oor hoe ek enigsins sou kon gaan studeer, maar ek het in elk geval aansoek gedoen by universiteite met die hoop dat alles uiteindelik sal uitwerk. Ek het heeltemal vertrou dat die Here vir my gaan voorsien – en Hy het!

ʼn Pragtige mens, wat ek deur die kinderhuis leer ken het, het dit vir my moontlik gemaak om hierdie jaar te kon begin studeer. Ek ontvang hulp van alle kante af. Op dae wanneer ek dink dat ek nie ʼn uitweg het nie, kom die Here en maak vir my deure oop waar ek nie geweet het deure is nie! Ek is dankbaar vir elke stukkie hulp wat ek ontvang, want daarsonder sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie. Tot en met vandag raak dinge soms moeilik, maar die Here voorsien altyd.

Iemand het een keer vir my iets gesê wat aan my hart vasklou: “Wees soos ʼn buffel. Laat sak jou kop en gáán!” ʼn Buffel is ʼn ongelooflike sterk dier en wanneer hy hardloop, kan niks hom keer nie. Laat sak jou kop, want ʼn nederige mens beweeg makliker vorentoe. Wees soos ʼn buffel en klou vas aan die Here. Net Hy kan die onmoontlike moontlik maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Rene ·

Jy gaan ń wonderlike onderwyseres wees eendag. Baie sterkte Taylor

AW ·

STILL STANDING
“Maybe somethings don’t get better,
but we do.
We get stronger.
We learn to live with our situation
as messy and ugly as they are.
We fix what we can,
and we adapt to what we can’t.
Maybe some of us will never
be fully okay,
but at least we’re here.
We’re still trying.
We’re doing the best we can,
that’s worth celebrating too.”

If you are reading this,

Congratualations,

Through Mercy and Grace,

You are still standing !!!

Let Hope / Faith / Love be your foundation !!!

AW ·

THE FOUR AGREEMENTS

1. BE IMPECCABLE WITH YOUR WORD
Speak with integrity.
Say only what you mean.
Avoid using the word to speak against
yourself or to gossip about others.
Use the power of your word in the
direction of truth and love.

2. DON’T TAKE ANYTHING PERSONALLY
Nothing others do is because of you.
What others say and do is a projection
of their own reality, their own dream.
When you are immune to the opinions
and actions of others, you won’t be the
victim of needless suffering.

3. DON’T MAKE ASSUMPTIONS
Find the courage to ask questions and
to express what you really want.
Communicate with others as clearly as
you can to avoid misunderstandings,
sadness, and drama.
With just this one agreement, you can
completely transform your life.

4. ALWAYS DO YOUR BEST
Your best is going to change from
moment to moment; it will be different
when you are tired as opposed to
well-rested.
Under any circumstance, simply do
your best, and you will avoid self-
judgment, self-abuse, and regret.

Ek dink ·

Wonderlik! Mag God jou en jou sussies seen en mag jy ‘n wonderlike toekoms he.

Freddie ·

Tylor. Jy is deel van die Woord in Aksie familie en sal altyd wees. Dit het ons so geseën om te sien hoe jy gegroei het met elke kamp. Ek wil net bysê dat Tylor nou n leier is by die Tienerkampe en help Tieners om doel te sien in die lewe en te genees. Sterkte vorentoe met jou studies sien jou by die volgende kamp….

lizette ·

So bitter trots op jou!!!Jy verdien net die mooi in d lewe!xxx

Amanda ·

I applaud you…it is wonderful to see a young person with no sense od entitlement being positive and eager to make success. May you be blessed beyond your wildest dreams 👸

Piet Snot ·

Taylor, jy het my vandag bemoedig.
Sonder dat jy dit weet, het die Here vandag met my gepraat, deur jou.
Baie dankie.
Oom Piet.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.