Wees veilig op en om die kampus

Deur Melodie Veldhuizen

Foto: Pixabay

As eerstejaarstudent sien jy uit na jou studentelewe. Onafhanklik en onder jou ouers se beskerming uit. Jy raak geïrriteerd wanneer jy vir die soveelste keer gemaan word om asseblief tog versigtig te wees, want jy is mos nou “mooi groot”.

Kaptein Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie,  waarsku egter dat naïewe en onskuldige eerstejaarstudente veral aan die begin van die jaar die prooi van misdadigers is, omdat hulle hulself onbewustelik aan misdaad blootstel. Sy gee die volgende wenke om jouself en jou besittings te beskerm. Só voorkom jy dat jou studentedroom in ‘n misdaad-nagmerrie ontaard.

  • Moenie waardevolle items soos skootrekenaars, tablette, selfone en handsakke in jou motor los nie.
  • Parkeer op ‘n veilige plek op of naby die kampus, eerder as buitekant.
  • Wees in jou pasoppens vir akkommodasie-bedrog. Indien jy van privaat verblyf gebruik maak, kry ‘n lys van die universiteit/instansie se geakkrediteerde verhuringsagente en wees ekstra versigtig wanneer jy met privaat huiseienaars onderhandel.
  • Straatrowers teiken studente wat te voet tussen hul blyplek en die kampus, kuierplekke of parkeerplekke beweeg. Stap in groepe en hou jou waardevolle besittings buite sig.

Die Universiteit van Pretoria gee ook op sy webwerf die volgende veiligheidswenke vir studente (toepaslik vir alle studente, ongeag in watter stad en op watter kampus):

  • Kuierplekke weg van die kampus

– Sê vir ten minste een vriend(in) waarheen jy gaan en hoe laat jy tuis sal wees.
– Indien jy na die kuierplek toe stap, loop in goed verligte, besige strate en beweeg verkieslik in groepe.
– Verseker dat jou selfoon se battery gelaai is en dat jy genoeg lugtyd het.
– Let op hoeveel en wat jy drink. Moenie drankies van ‘n vreemdeling aanvaar nie en ook nie jou drankies sonder toesig laat nie.

  • Veilige afsprake

– Indien dit jou eerste afspraak met die persoon is, ontmoet op ‘n veilige openbare plek waar daar baie mense is.
– Indien moontlik, gebruik jou eie vervoer, openbare vervoer, of ‘n geleentheid met ‘n betroubare vriend(in).
– Let op wat en hoeveel jy drink en tref voorsorg dat jou drankie nie gedokter word nie. Te veel alkohol of ‘n gedokterde drankie kan daartoe lei dat jy jou inhibisies verloor.
– Maak seker dat ‘n vriend(in) weet waarheen jy gaan en bly met hom/haar in kontak, hetsy per teksboodskap of ‘n oproep.
– Vertrou jou instink. Indien jy ongemaklik voel, vra hoflik om verskoon te word en knip die kuiertjie kort. Maak seker jy word nie na jou blyplek of voertuig agtervolg nie.

  • Elektroniese toerusting

– Hanteer jou skootrekenaar, tablet of selfoon asof dit kontant is, en hou altyd ´n wakende oog daaroor, selfs in die biblioteek of lesinglokaal.
– Sluit jou skootrekenaar met ‘n veiligheidskabel.
– Gebruik eerder ‘n ander drasak as ‘n skootrekenaarsak of ‘n tablet-omslag.
– Moenie elektroniese toerusting in jou voertuig los nie.
– Bêre jou wagwoorde op ‘n ander plek as by jou skootrekenaar, tablet of selfoon.

  • Kitsbank-veiligheid

Al die veiligheidsmaatreëls wat normaalweg van toepassing is wanneer jy ‘n kitsbank gebruik, is hier van toepassing. Al is dit veiliger om op die kampus geld te trek, is dit noodsaaklik dat jy steeds alles moontlik doen om jouself en jou geld/bankkaarte te beveilig.

  • Veiligheid op die kampus

Die Universiteit van Pretoria maak voorsiening daarvoor dat studente saans veilig op die kampus tussen lesinglokale en koshuise, hul voertuie en enige ander nabygeleë punte deur sekuriteitspersoneel begelei word. Vind uit of die instansie waar jy studeer ‘n soortgelyke diens bied. En maak daarvan gebruik.

  • Algemeen

– Vind uit wat die foonnommers van die kampus se operasionele bestuursentrum en krisisdiens is en stoor dit op jou foon.
– Vir bykomende veiligheid en gemoedsrus, vra jou ouers om by CrisisOnCall aan te sluit.

Geniet die studentelewe, maar wees veilig.

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante en ander skoliere wat eksamen skryf, aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android- en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

 

Bronne:
– Ngobeni, Liam. Students warned to be careful. Pretoria East Rekord. 12 Januarie 2018.
Universiteit van Pretoria

Hierdie artikel is ook te sien op Solidariteit Jeug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wonder Net ·

Wonder maar net hoekom is sulke waarskuwings deesdae nodig. In my studentejare was ons daar om te studeer eerstens. Tweedens vir aangename studente pret bv Jool, vlot bou, sokkie, sport.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.