Wen ’n brugjaar: Want jy weet nie wat jy nie weet nie

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Talle matrikulante kry ʼn beklemmende gevoel in die bors as hulle net dink aan die jaar ná skool: hulle is onseker of hulle moet gaan studeer, wat hulle wil studeer, wat hulle met hul lewens wil doen en wat hulle een dag wil word.

Om hierdie rede is ʼn oorbruggingsjaar vir baie matrikulante ʼn goeie opsie – ʼn jaar waartydens jy van jou eksamenstres kan vergeet en al jou aandag daaraan kan gee om te besin oor wat jy met die res van jou lewe wil doen. Ongelukkig is baie oorbruggingsjare, volgens die ouers wat moet betaal daarvoor, maar net “ʼn lekker lang vakansie”.

Die iALA (Internasionale Akademie vir Leierskap deur Avontuur)-oorbruggingsjaar kyk egter heel anders na dié belangrike tyd van jou lewe.  Met dié avontuurjaar gaan jy jouself leer ken soos nog nooit vantevore nie en jy gaan sien waartoe jy werklik in staat is. Jy gaan na dié jaar presies weet wat jy met jou lewe wil doen.

Jan Heenop, direkteur van iALA, sê matrikulante se grootste probleem is dat hulle nie weet wat hulle nie weet nie – en daarom bied dié avontuurjaar al die antwoorde op jou vrae.

Maroela Media het by die groep van 2019 aangesluit en met hulle gesels oor hul verwagtinge. Vanjaar is dit 14 seuns wat uiteindelik aan die einde van die jaar jong mans gaan wees wat presies weet wat hulle doel is en wat hulle met hul lewens wil doen.

Jan verduidelik dit verskil van jaar tot jaar of daar meisies ook by die groep aansluit. “Die meisies is net so opgewonde om aan al die aktiwiteite deel te neem en dan is daar sommer ook ekstra kompetisie onder die jong mans om te presteer!”

“Ek wil myself leer ken”

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Gavin Julyan het verlede jaar gematrikuleer aan Paarl Gim. Een van sy vriendinne het vantevore die iALA-avontuurjaar gedoen en sy het hom geïnspireer om dit ook ná skool te oorweeg.

“Sy was altyd so skaam en ná iALA was sy vol selfvertroue – dit was byna nie dieselfde mens wat ná die jaar teruggekom het nie!”

Gavin oorweeg om BCom te gaan studeer, maar hy was onseker of hy direk ná skool reeds universiteit toe wou gaan. “Hierdie jaar is vir my belangrik, ek wil my vrese probeer oorkom. Ek wil myself leer ken.”

Hy sê die groep het sommer vinnig vriende geword. “Ek is seker dit is mense met wie mens lewenslank vriende sal bly, omdat ons soveel dinge saam deurgemaak het. Ek het nooit kon raai ek het soveel uithouvermoë nie.”

“Ek het nog nooit ‘nee’ gesê vir avontuur nie”

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Stefan le Roux het in 2018 in Uitenhage in Port Elizabeth gematrikuleer. “Een van my ma se vriende was ʼn instrukteur by iALA en ek het sommer dadelik geweet dit is wat ek ná skool wil doen. Dis ʼn jaar waar ek myself kan vind – waar ek presies kan leer wat ek kan doen en nie kan doen nie. Boonop het ek nog nooit ‘nee’ gesê vir avontuur nie!”

Stefan wou ook nie direk ná skool begin studeer nie en daarom het hy ʼn brugjaar oorweeg.

Sy plan is om een dag ʼn wiskunde-onderwyser te word, omdat hy graag met kinders wil werk.

“Die feit dat mens boonop ook verskeie kwalifikasies verwerf (onder andere skipper, diepseeduik, lewensredding en noodhulp) was ook vir my ʼn groot rede waarom ek eers die iALA-jaar wou doen.”

Stefan reken die stap deur die Knysna-bos en die bergklim in die omgewing was vir hom die lekkerste. “Dis so lekker om in die natuur te wees – dit beslis ʼn groot rede waarom iALA só suksesvol is.”

“Ek het nooit kon droom dis soveel pret nie!”

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Volker Winterbach, ook van Durbanville in Kaapstad, reken die fisiese aktiwiteite en avontuur was vir hom ʼn groot oorweging.

Een van sy vriende het in 2018 die iALA-avontuurjaar gedoen en toe hulle in die Desembervakansie saam in Stilbaai is, het hulle by iALA gaan inloer. “Ek het nooit kon droom dat dit soveel pret is nie! Daar is ʼn pool-tafel en ʼn veerpyltjiebord en as mens nie by die huis is nie, dan is jy heeltyd besig met een of ander fisiese aktiwiteit.

Volker het onlangs eers besluit dat hy dalk graag bemarking wil gaan studeer, maar hy hou sy opsies oop om te kyk waarheen die jaar hom lei. “My vriend het gesê as ek dié oorbruggingsjaar doen, dan gaan ek presies weet wat ek volgende jaar wil doen.”

ʼn Stap deur Kaimanskloof – waar jy heupdiepte deur die water stap – was vir Volker ʼn hoogtepunt tot dusver dié jaar.

Lewensvaardighede

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

iALA bied ook aanlegtoetse wat die jongmense help om te bepaal waarvoor hulle aangelê is. “Dit keer dat mens geld mors om iets te gaan studeer wat jy nie dalk wil studeer nie en dan skop jy dalk later op,” verduidelik Gavin.

Tydens dié avontuurjaar leer die jongmense ook praktiese lewensvaardighede: van hoe om ʼn begroting saam te stel en dit te bestuur, hoe om ʼn hemp te stryk, hoe om ʼn bed behoorlik op te maak, hoe om ʼn knoop aan te werk, ʼn das te knoop tot selfs hoe om wasgoed en skottelgoed te was.

Dis duidelik dat die groep jongmense baie respek het vir Jan. “Hy is ouer as ons, maar hy doen alles saam met ons en het Tafelberg saam met ons uitgeklim!” lag Volker.

“Hy maak seker dat ons baie pret het!” sê Stefan.

“Oom Jan gee regtig vir ons om asof ons sy kinders is,” meen Gavin. “Met die lewensredding was ek skrikkerig om onder water te swem, maar hy het my ingeneem asof ek sy kind is. Hy het met my gepraat en my gehelp om dit uiteindelik te doen. Ons is nie net 2019 se studente nie, ons is nóg ʼn jaar van sy kinders wat hy uiteindelik in die grootmenswêreld gaan instuur.”

Hoekom moet jy die iALA-avontuurjaar doen?

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

“As jy nie seker is wat jy volgende jaar wil doen nie, maar nie by die huis wil sit nie; en as jy bietjie wil wegkom van die huis af en van jou ouers af en groot word en leer hoe om goed op jou eie te kan doen en vir jou ouers bewys dat jy ʼn volwassene is, dan moedig ek jou aan om iALA toe te kom en vir jouself (en jou ouers) bewys waartoe jy in staat is,” voeg Gavin by.

“Ná só jaar gaan dit baie makliker wees vir jou ouers as jy dalk oorsee wou gaan of as jy iewers anders wil gaan studeer,” verduidelik Stefan. “Dan weet hulle hulle hoef nie bekommerd te wees oor jou nie.”

Volker sê as jy opgewonde is oor avontuur en die buitelewe, dan is iALA presies wat jy nodig het.

ʼn Waardesisteem gebou op respek en dissipline

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Jan verduidelik die iALA-brugjaar steun sterk op twee beginsels: ʼn waardesisteem gebou op respek, dissipline en verantwoordbaarheid en ʼn X-Ten-geloofsbasis waar jy jou potensiaal ontdek deur jou werklikhede te pak.

Hy sê daar is twee tipes jongmense wat iALA doen: die wat reeds op skool kon presteer en die wat moontlik onderpresteer het, vir watter rede ook al. “Die eerste stap voor ons hulle leiers kan noem, is om hierdie jongmense eers basiese vaardighede te leer. Daar is geniale kinders, maar die leersisteem werk nie vir hulle nie. Nou probeer die ouers ʼn toekoms skep vir hulle kinders, want die onderwysdepartement het dit nie reggekry om hul kinders te vorm nie; soms was dit ʼn gebrek aan interne dissipline by die huis. ʼn Pa sal vir my sê ek moet sy kind regkry vir die lewe nadat hy 18 jaar lank kans gehad het om sy kind te vorm. Dan het ek 32 weke om ʼn impak te maak.”

Arrie Helberg, hoof van opleiding by iALA, verduidelik hy kry ook baie met kinders te doen wie se pa dalk in die buiteland werk of selde by die huis is. “Dan is daar nie ʼn pa-figuur in die huis nie en die ma moet ook dié rol probeer vertolk. Ons moet op ʼn baie spesiale manier met hierdie jongmense werk om daardie rol te vervul. Van die outjies weet nie eers hoe om te skeer nie.”

Jan sê iALA wil hierdie jongmense emosioneel sterker maak en hulle emosioneel ryp kry sodat hulle self kan besluit wat hulle wil doen en nie wil doen nie. Daar word ʼn gaping gevul:  dit wat ons dink ons weet en dit wat ons weet ons weet. Hy reken iALA bied as’t ware ʼn gereedskapkis aan elke jongmens om te kan doen wat hulle uiteindelik moet doen. “Jongmense moet besluit wat hulle ‘ding’ gaan wees in die lewe en wat in dié gereedskapkis moet kom.”

Sy grootste sukses? “Dis wanneer mens kan sien die liggies het aangegaan vir ʼn jongmens wat dalk die minste potensiaal getoon het. Daar was byvoorbeeld ʼn meisie wat nie kon fietsry toe sy by ons aankom nie – en uiteindelik het sy ʼn fietstoer van 300 km aangepak! Of die kind wat aanvanklik nie kon swem nie, en nou ʼn kommersiële duiker is.”

Hoe ontdek jy jou potensiaal? “Eers wanneer jy weet wie jy is en wat jy kan wees, kan jy jou potensiaal ontdek. Mens moet eers buite jou bestaande gemaksone beweeg om bewus te word van jou potensiaal. ʼn Gemaksone ontneem jou van jou maksimum groei.”

Hoe lyk die program?

  • Ken die see (noodhulp en lewensredding ingesluit)
  • Veldkennis (oorlewing, spoorsny)
  • Selfkennis
  • Emosionele groei

Besoek iALA se webwerf
Besoek iALA se Facebook-blad

*iALA is besig om akkreditasie te bekom as ʼn tersiêre onderriginstelling met ʼn tweede jaar van avontuur en leierskap.

Kompetisie

Wen ʼn iALA-brugjaar!

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Maroela Media en iALA gee een Maroela-leser wat vanjaar in matriek is, die geleentheid om ʼn brugjaar ter waarde van R115 000 te wen. Die enigste vereiste is dat jy die brugjaar regtig nodig moet hê, om watter rede ook al.

Lees die bepalings en voorwaardes om seker te maak dat jy aan die vereistes kan voldoen en vertel ons (in minder as 300 woorde) waarom jy dié iALA-oorbruggingsjaar verdien en hoekom jy graag by iALA sal wil aansluit. Voltooi die vorm hieronder om in aanmerking te kom vir die prys.

Die sluitingdatum van die kompetisie is 17 Junie 2019.

Die wenner se naam sal op Maroela Media bekend gemaak word.

Oops! We could not locate your form.

Bepalings en voorwaardes

  1. Die oorbruggingsjaar ter sprake vind plaas van Maandag 27 Januarie 2020 en eindig 29 Oktober 2020 en kan nie oorgedra word na ʼn volgende jaar nie.
  2. Die prys sluit die volgende in:
    • Die jaarfooi wat alle klasgeld, verblyf, etes en toer insluit ter waarde van R115 000.
  1. Die prys sluit nie die volgende in nie:
    • Vervoer na en van iALA
    • Sakgeld
    • Sekere toerusting:
      • Staprugsak
      • Slaapsak (- 8°C)
      • Grondseil en stapmatrassie
      • Duiktoerusting (duikpak word wel voorsien)
      • Bergfiets
      • Ander kleiner items soos uiteengesit in iALA se bepalings en voorwaardes
    • Jag: Die jag is ʼn opsionele ekstra. Studente moet addisioneel hiervoor begroot teen R3 500 vir die jag van ʼn springbok plus verblyf en voorbereiding
    • Loopbaanvoorligting
    • LECH Hike (stap in die Oostenrykse Alpe – opsioneel)
  1. Slegs persone wat tydens 2019 in Graad 12 is en in Suid-Afrika woon, kan inskryf vir die kompetisie.
  2. Persone moet teen Januarie 2020 reeds 18 jaar oud wees. Geen persone jonger as 18 sal in aanmerking kom vir die prys nie.
  3. Die wenner van die oorbruggingsjaar moet ʼn geldige paspoort hê of oor ʼn tydelike een beskik.
  4. Die prys kan nie omgeruil word vir kontant nie.
  5. Die prys is nie oordraagbaar nie.
  6. Indien die wenner nie gebruik kan maak van die prys nie, moet Maroela Media binne 72 uur ná die aankondiging in kennis gestel word van die besluit. Die prys sal dan oorgedra word na die volgende persoon wat voldoen aan die kompetisievoorwaardes.
  7. Die wenner moet voldoen aan alle mediese vereistes soos uiteengesit in iALA se bepalings en voorwaardes. Maroela Media neem geen verantwoordelikheid indien die wenner deur iALA afgekeur word vir die oorbruggingsjaar as gevolg van mediese redes of enige ander rede nie.
  8. Maroela Media is gevrywaar van enige verlies, gesondheidsuitdagings, beserings, en enige dispuut wat moontlik mag plaasvind gedurende die oorbruggingsjaar.
  9. Volledige bepalings, voorwaardes en meer inligting rakende die iALA-oorbruggingsjaar kan gelees word op die iALA-webtuiste.
  10. Die sluitingdatum van die kompetisie is 17 Junie 2019. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jepetto ·

Julle bedoel sekker vakansie of leeg le Brugjaar dis sommer plyn snert Gaan werk liewers in a beroep gratis of vir a klein fooitjie en toets jou self en as jy nie daar van hounie dan vat jou volgende keuse Gaan doen aanleg toetse Dis sommer net a geld maak besigheid om ouers se geld te mors

Valerie ·

Netso, en dan gebruik die maatskappy die “om jouself te leer ken” truuk. En mense dink die brugjaar is ‘n moet. Not.

Devill ·

Die enigste mense wat ‘n brug jaar gevat het in my tyd was die kinders wie se ouers redilik wel af was en besighede besit het.

Devill ·

Ek het absoluut geen idee gehad wat ek moet gaan studeer of wat ek wou doen nie.

Maar ‘n jaar se vakansie vat was totaal buite die kwessie.

Spandeer liewer die geld en gaan doen iets soos B.A Algemeen. Dit is ‘n BAIE eenvoudige kursus en sal minder kos as ‘n jaar se vakansie.

Nou is jy klaar deel van die studente lewe, jy het ‘n rustige kursus, leer hoe die universiteit lewe werk en kan ‘n baie beter en ingligte besluit maak na die jaar verby is.

Volgende jaar het jy ‘n hele paar krediete om mee rond te speel en nou behoprt jy ook ‘n beter idee te hê wat jy wil doen.

Gys ·

Dit is n kompetisie, so dit kos die wenner se ouers bitter min. Maar as ek nou in matriek was met die lewenservaring wat ek nou het, sou ek op n motorfiets spring en Suid-Amerika en Asië plat ry. Of dalk sou ek eers gaan studeer, en dan n jaar lank rondrits voordat ek na n baas en kliënte se probleme moet luister.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.