Wen wiskunde met die Wolkskool

wiskunde-02

Argieffoto.

Wiskunde word die “hekwag” genoem – die vak wat waghou vir keuring tot talle uitstekende tersiêre kwalifikasies. Daar is baie hulp te kry – soms is dit goeie hulp, soms help dit mens van die wal af in die sloot. Hier is ’n paar redes waarom www.wolkskool.co.za deel moet vorm van enige gesin se wedstrydplan met dié “hekwag”.

Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) se onlangse navorsing onder 1 290 matriekleerders dui daarop dat hoe meer ekstra klasse ʼn leerder het, hoe swakker vaar hy of sy in wiskunde. Dit is my mening dat leerders te veel begin staatmaak op die hulp van die “ekstraklas-tannie”, maar dat die een of twee uur by ekstra klasse nie kan vergoed vir ’n passiwiteit wat moontlik in die klaskamer ontstaan nie. Wees dus waaksaam, want meer ekstra klasse kan skade aan jou kind se prestasie in wiskunde aanrig – navorsing bewys dit. Daarenteen is die Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool daarop gerig om deur middel van kort video’s aan leerders sporadiese hulp met wiskunde-onderwerpe, waar hulle hulp in een spesifieke onderwerp in wiskunde benodig, te verleen.

Videoplatforms waar hulp aan kinders gegee word, soos Khan Academy, is wêreldberoemd. Tog is die gebruik van sulke platforms baie beperk in gevalle waar die video’s nie met die kind se spesifieke kurrikulum ooreenstem nie. Kinders wil nie “sukkel” om die hulp te kry waarna hulle nóú op soek is nie en ’n skatkis vol hulp soos Khan gaan grootliks ongebruik verby. Wolkskool is dié Afrikaanse Kahn Academy waar leerders die inhoud van die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum maklik sal vind en waar hulle nóú hulp sal kry met dit waarmee hulle nóú sukkel.

Niemand hou daarvan om na lang video’s op die internet te kyk nie. Daarom is video’s wat goed vaar op Facebook en ander sosialemedia-platforms kort en kragtig. Kinders is in hierdie opsig glad nie anders nie. Geen wonder navorsing bewys dat opvoedkundige video’s ongeveer ses minute lank moet wees nie. Hoewel heelwat video’s op Wolkskool bedoel is om volledige lesse te wees waarby tuisleerders en ander leerders wat geen wiskunde-onderwyser het nie, kan baat, is daar al hoe meer kort video’s waarin onderwerpe een vir een kort en kragtig behandel word.

Dit bly belangrik vir enige leerder om blootgestel te word aan ’n variasie van vrae wat opgestel word deur ’n variasie van onderwysers. Om vraestelle en toetse deur te werk is ’n sleuteldeel van goeie wiskunde-voorbereiding. Toegang tot ʼn wye verskeidenheid wiskunde-assessering is problematies, maar deur Wolkskool ontvang Helpende Hand-lede ʼn koopbewys ter waarde van R600 vir www.diemarkplein.co.za waar leerders oefenvraestelle en -toetse kan koop.

Om die aand voor ʼn toets of eksamen hulp te kry in ʼn laaste paar onderwerpe of ʼn spesifieke probleem is ʼn uitdaging. Soms kan ʼn ouer die nodige hulp verleen, maar weens ’n logiese gebrek aan, wat navorsers noem “wiskundige kennis vir onderwys”, veroorsaak ʼn ouer meestal meer probleme as oplossings. Deur Wolkskool kry leerders 24/7-toegang tot ʼn wiskundekenner met jare lange ervaring en meer as genoeg “wiskundige kennis vir onderwys” wat sal lei tot gemak en vreugde, eerder as trane en frustrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Dit is natuurlik ook moontlik dat jy meer ekstra klasse neem OMDAT jy swakker vaar in wiskunde, eerder as swakker vaar OMDAT JY EKSTRA KLASSE NEEM! Ten beste kan jy sê dat ekstra klasse nie altyd die gewensde resultate lewer nie, maar daar is beslis baie wat wél daarby gebaat het, al is daar verseker baie wat bloot geld én tyd mors deur ekstra klasse te neem. In Wiskunde, Frans, IT of enige vakrigting!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.