Wenke teen boelies

Skoolboelie

Verskaf aan Maroela Media

Hallo Susan,

My graad 5-seun het eintlik nog nooit goed gedoen op skool nie. Hy is met ADHD gediagnoseer omtrent twee jaar gelede en hy gebruik Concerta. Hoewel ons nie meer so baie klagtes van sy onderwysers kry nie, het ons nog nie eintlik ʼn noemenswaardige verskil in sy skoolwerk opgemerk nie; hy lees en spel gewoon net nie so goed soos sy klasmaats nie, om van die wiskunde nie eens te praat nie.

Ek weet nie of sy gesukkel op skool sy selfvertroue tot so ʼn mate geknak het dat hy deesdae nie kan opstaan vir homself nie. Om dinge erger te maak, is daar vanjaar ʼn regte boelie in sy klas, wat hom uitkryt vir ʼn “sissie” en hom gedurende pouses fisies terroriseer. My man en ek voel magteloos om die situasie te hanteer. Ons vrees is dat, indien ons met die hoof hieroor gaan praat, dit ons seun nog meer soos ʼn “sissie” sal laat voel. Intussen het sy belangstelling in sy skoolwerk nog verder agteruit gegaan en ek sidder as ek dink aan die gevolge.

Hoe hanteer ons hierdie dubbele bekommernis?

Hello Gerda

Dankie vir jou epos. Baie kinders is die een of ander tyd die slagoffer van ʼn boelie, daarom is ek seker dat baie ouers met jou situasie sal identifiseer en simpatiseer. En, ja, daar is moontlik ʼn groot stuk waarheid in jou aanname dat sy probleme met sy skoolwerk sy selfvertroue geskaad het; en wanneer mens se selfvertroue laag is, is dit natuurlik nog moeiliker om jouself teen ʼn boelie te verweer.

Beide jou seun se skoolwerk en jul bekommernis oor die boeliery moet so gou as moontlik aandag kry.

Ek het onlangs eposse van ouers beantwoord waarin ek verduidelik het wat ʼn ouer kan doen om te help met lees, spel en wiskunde.

So, kom ons vat vervolgens die boeliekwessie vas.

In die ou dae het baie ouers hul seuns geleer om terug te slaan. “Weerbaarheid” het beteken om te kan boks wanneer iemand met jou moeilikheid soek. Dit werk egter nie meer vandag nie. Die oog-vir-ʼn-oogbeginsel is onaanvaarbaar en ons moet na ander opsies kyk.

Wat is ʼn boelie?

ʼn Boelie het ʼn sekere profiel. Ons kry die outjies wat ander fisies boelie deur hulle hare te trek, te slaan, te byt of selfs oormatig te kielie.

Die emosionele boelie vertel skinderstories oor sy slagoffer, sal hom/haar afpers, geld afneem of sommer net terroriseer.

Verbale boelies se optrede is afbrekend weens aanhoudende geterg, verbale dreigemente, kru taal, rassistiese opmerkings en/of neerhalende briewe, teksboodskappe of e-posse.

Ons sien ook boelies wat ʼn skynbare behae daarin skep om ander neerbuigend aan te kyk, gesigte te trek of lelike gebare te maak.

Jou rasionele boelie sal iemand met opset ignoreer of uitsluit uit aktiwiteite, of ander manipuleer om die slagoffer te minag en, hy/sy sal iemand probeer domineer.

Seksuele boelies sal ekhibisionisties wees, seksuele teistering uitoefen en mishandeling of aanranding pleeg.

Hoewel daar ooreenkomste is tussen boeliery en ander vorms van aggressie, lê die verskil daarin dat boelies daarop uit is om andere te viktimiseer om beheer oor sy slagoffer te kry en sodoende sosiale status te bekom. Boelies val sonder rede aan.

Maar wat nou gedoen as dit jou kind is wat die slagoffer word?

Wenke teen boelies

Boelies smag na mag. Een van die redes waarom hulle gewoonlik redelik lank wegkom met hul aggressiewe gedrag, is juis omdat kinders nie maklik erken hulle word geboelie nie.

Praat met jou kind oor sy gevoel teenoor sy onderwysers. Is daar ʼn onderwyser wan wie hy hou? Bemagtig jou kind deur hom aan te moedig om die boeliery te rapporteer by die onderwyser(es) wat hy vertrou. Verduidelik aan hom die verskil tussen “stories aandra” en wangedrag rapporteer, sodat hy weet wat hy doen is nie “stories aandra” nie.

Dis belangrik dat jou kind sal verstaan die boelie is die een met die probleem; dis die boelie wat verkeerd optree, nie jou kind nie.

Maak seker dat julle praat elke aand oor sy dag se ervarings — die goeie en die slegte.

Boelies smag na reaksie. Leer jou kind hy ontneem die boelie sy pret deur nie terug te slaan, skop, byt of watookal nie. Geen direkte reaksie is die heel beste wapen. Verduidelik aan jou kind die gevaar van terugbaklei, naamlik dat hy kan seerkry en self ook in die moeilikheid kan beland. Kinders verstaan die beginsel van “two wrongs never make a right”.

In haar hantering van boeliery, beveel selfbeeldafrigter Janine Shamos (Truter, 2012), aan dat ons boekhou van die boelie se gedrag. Maak dus aantekeninge wanneer jou kind praat oor sy slegte ervarings met die boelie. Dit kan handig te pas kom wanneer die saak hanteer moet word.

Leer jou kind om met selfvertroue op te tree. Liggaamshouding het baie hiermee te doen. Dis ook belangrik dat jou kind die selfvertroue sal hê om die boelie direk aan te spreek deur byvoorbeeld vir hom te sê: “Hou op! Jy maak my seer.” Jou kind kan dan regop en vasbeslote wegstap in die rigting van ander kinders of volwassenes.

Probeer die boelie vermy. Mens hoef nie te gaan wegkruip nie, maar dit is ook nie nodig om alleen in die boelie en sy makkers se omgewing te wees nie.

In baie gevalle ontneem dit die boelie sy pret as die ander kind eenvoudig maak asof hy hom nie hoor nie, maak asof hy die boelie nie raaksien nie, asof die boelie nie bestaan nie.

Gerda, boelies sukkel oor die algemeen nie sommer met kinders wat duidelik seker is van hulself nie. Dink daaraan om jul seun vir selfbeeldafrigting te stuur. So ʼn afrigter kan ook vir jou kind konflikstrategieë aanleer, waarby hy dwarsdeur sy lewe baat sal vind.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 495 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Bronverwysing:

Truter, S. 2012. Hoe gemaak met my dikmond kind en nog 99 vrae wat ouers pla. (Kaapstad: Tafelberg).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet Snot ·

Daar’s een manier om met ‘n boelie te werk: maak hom seer.
Ek’s as kind geboelie, maar dit het verdwyn toe iemand baie groter as hy, hom goed vasgevat het.

Rissiepit ·

Ek stem saam Piet! My seun is ook genadeloos geboelie in Graad 1 selfs na ek met die juffrou daaroor gaan praat het. Steeds was daar geen verandering nie. Nou loop ek en hy saam Kickboxing klasse. En hy moes net ‘n paar keer hulle slaan nog voor hulle ‘n hou kon inkry en nou los hulle hom uit!

Kosie ·

Ek stem ongelukkig nie saam met Susan nie, maar wel saam met Rissiepit. Die enigste aksie wat werklik doeltreffend teen n boelie werk is dat sy slagoffer hom skielik so n ordentlike pak slae gee dat sy nukke skoon uit hom gemoker word. Ouers, leer jou geboeliede kind om homself te verdedig deur hom selgverdigingsklasse te laat loop. Dit gaan hom die nodige selfvertroue gee om teen die boelie op te staan en hom van sy swak maniere te genees. n “Skuus dat ek leef” houding van sy slagoffer moedig net die boelie aan om nog erger tekere te gaan!
.

Oudonderwyser ·

Ondervinding het geleer dat mooipraatjies om n boelie te rehabiliteer, doodeenvoudig nie werk nie, maar n goeie pak slae, wat skielik deur die slagoffer kwistig uitgedeel word, wel n positiewe gevolg het. Ouers van kinders wat geboelie word, kan n skriftelike klag by die skoolhoof indien en dit duidelik stel dat indien die onaanvaarbare gedrag voortduur, klagte van aanranding teen die boelie gelê sal word. Die skool kan dan versoek word om die boelie (en sy ouers) skriftelik hiervan in kennis te stel. Indien daar n traagheid by die skool is om sterk op te tree, kan skriftelike klag by die Onderwysdepartement ingedien word dat die skool weier om die fisiese en emosionele veiligheid van AL sy leerders te verseker.

Veritas ·

‘n Ordentlike pakslae en vernedering is net die regte sielkunde vir ‘n boelie. Gewoonlik is hulle in elk geval meer lawaai as wol.

Bravo ·

As n geboeldie seun op skool wat nou 31 is stem ek ook nie saam met haar al ding wat n boelie verstaan is paar warm klappe van jouself af en of n maat van jou wat groter is en dit werk glo my..Laaste keer wat ek geboelie was toe ek die seun wat 4 jaar ouer as ek was in die laerskool n bietjie van sy eie medisyne gegee het met behulp van my pelle en jou selfbeeld word dan sommer 3 keer groter omdat jy weet wat in die toekoms te doen met n boelie!!!Weghardloop en mooi praat werk nie en dan moet die ouers ook ingeroep word van die boelie dat hulle mooi verstaan wat sal weer gebeur indien my kind geboelie word..

Willie ·

Boelie- jy kan maar sien met n boelie is daar groot fout in daai huis.. Die pa boelie die seun, of die vrou, of ouer kinders, of die ma is n boelie… aandag soek, ents… die problem is gewoonlik tuis…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.