Wenke vir die eerste skooldag

skool-inkleurpotlode

Foto: Kiki69210/Pixabay.com

Die eerste dag van laer- en hoërskool kan vir beide ma én kind ’n emosionele en hoogs spanningsvolle ervaring wees.

Christa Badenhorst, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, het met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gesels oor hoe om hierdie groot en belangrike dag te hanteer sodat dit in die kind se herinneringe kan uitstaan as een van die beste dae van hul lewe.

Hou by die skool se reëls en regulasies

Skole bied gewoonlik ʼn inligtingsessie vir ouers aan. Dis raadsaam om die sessie by te woon en jou as ouer te vergewis van hoe die skool dinge doen en wat hul vereistes is. Sommige ouers kies om nie by die skool se reëls of manier van doen te hou nie.  Dit kan egter onnodige spanning en angstigheid vir jou kind veroorsaak as daar iets is wat hom laat “uitstaan” of onnodige aandag op hom fokus.  Daar is gewoonlik goeie redes waarom skole dinge op ʼn sekere manier doen en om dit anders te doen of doelbewus teen die skoolstelsel te gaan, kan die kind in ʼn moeilike posisie plaas.

Rus jou kind behoorlik toe

Baie skole het ʼn lys van skoolbenodighede. Kry die lys en die benodighede soos daarop gemeld en stuur dit skool toe soos die skool dit versoek. Hierdie benodighede kan ʼn klomp geld op een slag kos maar dis belangrike hulpmiddels en die meeste onderwysers bestuur die stoor van benodighede op ʼn doeltreffende manier.  Dit kan ook onnodige verleentheid vir jou kind veroorsaak as hy byvoorbeeld olie pastelle vir ʼn kunstaak nodig het en hy is die enigste een wat dit nie het nie.

Koop jou kind se skoolklere ten minste ’n week voor die eerste skooldag.  Laat jou kind toe om die klere aan te pas en ’n bietjie te voel hoe dit pas. Die kans is goed dat dit baie groot aan jou kind se lyf gaan lyk, maar hulle groei vinnig in die klere in. Maak verstellings aan die klere indien nodig. Maak seker dogters het ’n ski-broekie (tights) wat hulle onder hul rokkies kan dra, veral wanneer hulle speel, klim en klouter. Skoolskoene kan as ’n oorbodige item beskou word aan die begin van die jaar wanneer dit nog warm is. Was die skoolklere en maak seker dis netjies. Hang die klere die aand voor die tyd uit en maak seker dat al die items daar is sodat daar nie ’n gesoek is na skoolklere die oggend van die eerste dag nie.

Pak jou kind se skooltas saam met hom die aand voor die eerste skooldag.  Maak seker dat alles wat hy nodig het, in die tas is.  Dit sluit ook naskool- en sportklere in.  Help jou kind om in die gewoonte te kom om elke aand reeds sy tas klaar te pak en reg te sit.  Merk alle items duidelik.

Berei jou kind emosioneel voor

Begin al tydens die vakansie met jou kind gesels oor sy verwagtinge en vrese vir die nuwe lewensfase, maar hou dit ouderdomsgepas. Bring emosiewoorde in om sodoende jou kind se emosionele belewenis te ervaar en ook sy emosionele woordeskat uit te brei, wat ook ’n belangrike skoolgereedheidsvaardigheid is.

Gesels met hulle oor wat hulle opgewonde of bang maak, of waaroor hulle bekommerd is.  Normaliseer emosies deur van jou eie ervaringe te deel.  Probeer om nie jou kind se emosies te minag nie, al is dit nie noodwendig sinvol vir jou kind om so voel nie.  Byvoorbeeld, as jou kind noem hy is bang sy juffrou is baie kwaai, moenie sê: “Ag, alle juffrouens is kwaai, jy moet jou maar net gedra,” of “moenie so ’n bangbroek wees nie”.  Verwoord eerder jou respons as volg: “Ek hoor jy is bekommerd jou juffrou kan kwaai wees.  Hoe dink jy is ’n juffrou wat kwaai is? Wat dink jy maak juffrouens kwaai?”. Noem aan jou kind dat ’n onderwyser kwaai kan wees, maar dat hy nie moet bang wees vir ’n onderwyser nie. Nooi jou kind om vir jou te sê as hy bang is vir sy onderwyser. Indien daar geldige redes is, moet ouers intree. ’n Kind wat bang is vir sy onderwyser, kan nie optimaal leer in so ’n omgewing nie.

Gesels ook met jou kind oor sy sosialisering. Dit sluit in met wie hy gaan probeer maats wees en hoeveel maats hy wil maak.  Moedig hom ook aan om te probeer maats maak met kinders wat nie in sy klas is nie. Baie kinders dink hulle mag slegs met die kinders in hul klas speel. Leer hulle ook belangrike sosiale vaardighede soos mededeelsaamheid, hoe om hul behoeftes aan ander oor te dra, buigbaarheid, beurtneming, bereidwilligheid om te help en die hantering van frustrasies op ’n meer aanvaarbare wyse.

Tref reëlings vir ná skool

Berei ook jou kind voor op wat om te verwag wanneer jy hom of haar oplaai by die skool.  Indien jou kind naskool toe moet gaan, wys hom waar hy afgehaal gaan word, asook wie van die naskool hom sal kom haal. Dit skep ’n gevoel van sekuriteit by die kind en sal ook help dat jou kind nie dalk by ’n vreemdeling in die kar klim nie. Indien jy of ’n ander vertroueling jou kind self afhaal in die middag, maak seker dat jou kind weet waar jy hom kry en wees betyds. Dit maak kinders baie angstig indien daar niemand is om hulle op te laai nie. Indien onvoorsiene omstandighede voorkom, laat weet die skool vroegtydig sodat hulle die kind in kennis kan stel.  Marnelda de Beer, onderwysspesialis verbonde aan die SOS, sê dit is belangrik dat ouers by ’n roetine hou, veral in die eerste week. “Laai jou kind by dieselfde plek op en af.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

ek dog dan onderwys is gratis. dis wat anyway in die ANC se Freedom Charter staan. waarom moet ek dan skoolgelde betaal? is my belastinggeld nie genoeg nie? waarom moet ek ook goed verskaf soos skryfbehoeftes?

Verveeld ·

Okay so hierdie raad is nou regtig nie vir my die moeite werd om regtig te moes lees nie. Al hierdie dinge weet almal met logika. En geen kind kan regtig voorberei word vroegtydig nie. Dis ongelukkig nie so maklik nie. Daai sielkunde werk dood eenvoudig net glad nie. So jammer maar die berig was van nuller waarde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.