Wêreldoutismedag: ʼn Dag vir broodnodige bewusmaking

outisme

(Foto: Autismepicenter.com)

2 April is Wêreldoutismedag en jaarliks word broodnodige bewusmaking oor hierdie neurobiologiese ontwikkelingsteuring wat hoofsaaklik deur sosiale, kommunikasie- en gedragsprobleme gekenmerk word, op dié dag geskep.

Luidens ʼn verklaring deur Impak Onderwys weet kinders met outisme op sosiale vlak nie hoe om met ander te verkeer nie. Hulle speel selde met ander en hou hulself liewer eenkant besig met herhalende, soms eienaardige gedrag.

Hulle kan ook nie ander se emosies en liggaamstaal verstaan nie en tree dikwels onvanpas op. Sowat 40% van outistiese kinders gebruik nooit woorde vir kommunikasie nie, of hulle manier van praat is eienaardig en herhalend. Baie verkies ook gebare, eerder as woorde, om te kommunikeer.

Wat gedrag betref, kan outistiese kinders heeltemal obsessief raak oor ʼn onderwerp of voorwerp, of hulle haak vas by ʼn spesifieke ritueel. Soms voer hulle herhalende bewegings uit, soos om heen en weer te wieg, en hulle kan veral sensitief wees vir sekere klanke, reuke, teksture en selfs aanraking.

Daar is telkens talle gevaartekens wat dié ontwikkelingsteuring kenmerk en indien ʼn kind, veral tussen die ouderdom van twee tot vyf, ʼn buitengewone kombinasie van die volgende eienskappe of gedragspatrone toon, moet dit met ʼn spesialis bespreek word.

  • Geen gesigsuitdrukkings en/of eentonige stemtoon
  • Ontwikkeling van spraak is stadig, of praat glad nie
  • Reageer nie as jy met hom praat nie, lyk doof
  • Lyk asof hy in ’n wêreld van sy eie leef
  • Maak min of geen oogkontak
  • Verkies om op sy eie te speel
  • Swak verbeelding, sukkel om homself met verbeeldingspeletjies te vermaak
  • Ingestel op fyn detail
  • Obsessiewe, herhalende gedrag, byvoorbeeld maak deure aanhoudend oop en toe
  • Eienaardige gedrag, byvoorbeeld wieg heen en weer
  • Gedrag waarmee hy homself kan beseer, byvoorbeeld kopstamp, byt, krap
  • Kan nie by vreemde roetines of rituele inskakel nie
  • Hou nie van fisieke aanraking nie
  • Baie sensitief vir klank of sensoriese prikkels, soos harde geluide, growwe materiale of helder ligte.
(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Om die situasie meer verwarrend te maak, is die term “outisme” omvattend vir vyf verskillende toestande wat in die outismespektrum val: Outistiese versteuring, Aspergersindroom, Rett-versteuring, Kinder-disintegrasie-versteuring en Omvattende ontwikkelingsversteuring.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ly een uit elke 160 kinders wêreldwyd aan een van dié toestande. Terwyl sommige mense met outisme onafhanklik kan leef, het ander ernstige gestremdhede en moet lewenslange sorg en ondersteuning ontvang.

Wêreldwyd is mense met outisme dikwels onderhewig aan stigma, diskriminasie en menseregteskendings en is toegang tot dienste en ondersteuning vir mense met die toestand ontoereikend.

Alles van besoedeling en dieet tot die MMR-inenting teen masels, Duitse masels en pampoentjies is al as oorsake van outisme ondersoek, maar die oorsaak bly onbekend. Wat kenners wel weet, is dat outisme ʼn lewenslange toestand is en teoreties nooit genees kan word nie.

In Maart vanjaar het Herman Toerien in ʼn meningstuk op Maroela Media berig dat ʼn nuwe studie wat onlangs gedoen is, bevestig dat inenting teen masels nié outisme kan veroorsaak nie.

Vir die nuwe studie is ʼn halfmiljoen kinders langer as ʼn dekade dopgehou, maar geen abnormale toename in outisme is gevind nie. Daar is die afgelope 20 jaar ʼn skerp toename in gevalle van outisme, maar die studie het bevind dat daar onder die groep wat die inentings ontvang het, geen toename bo die normale toename is nie.

Die studie val saam met ʼn toename wêreldwyd, maar veral van maselsgevalle in die VSA, nadat in 2000 reeds verklaar is dat masels uitgeroei is. In Januarie en Februarie vanjaar was daar reeds 206 gevalle in die VSA, meer as dubbel soveel as wat in 2007 voorgekom het.

Die werklikheid is dat die diagnose van hierdie toestand ʼn gesin se lewe ingrypend verander, en dat dit hoë eise stel aan ouers ten opsigte van tyd en geld. Boonop is die simptome van outisme so wyd – en elke lyer se behoeftes so uniek – dat daar nie een enkele oplossing vir almal is nie.

Gelukkig ontdek navorsers elke dag meer oor hoe presies outistiese breine werk en kenners – veral dokters, terapeute en onderwysers – spits hulle toenemend daarop toe om meer van die toestand te leer.

Dus hoef ʼn diagnose van outisme nie ’n hopelose situasie te wees nie. Terapie, die regte opvoedkundige omgewing en professionele ondersteuning kan ’n reuseverskil in die lewe van outistiese kinders én hulle ouers maak.

Vir meer inligting besoek Aut2Know se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joe ·

ʼn Skoolmaat het in 1974 selfmoord gepleeg oor die verstoting a.g.v. outisme. Ons het daardie tyd nie geweet wat dit is nie. Terloops, Tourette sindroom hoort ook op hierdie lys…

Nettie ·

Tertius se seuntjie, in Binnelanders, is ook ‘n outistiese kind. Die rol word uitmuntend deur die kinder-akteur gespeel, moet ek byvoeg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.