Waldo oor wiskunde: Wie het wiskunde gemaak?

ruimteskip

Foto: SpaceX/Pexels.com

Deur Johan Koekemoer

Ek is oortuig dat iemand vandag iewers in ’n wiskunde-klas sit en wonder, “wie het wiskunde gemaak?”. Kom ons noem die iemand, Waldo. Ek is ook oortuig dat Waldo ’n ruimteskip sal wil bou, wat alle natuurwette van natuur oorskry om sodoende terug te gaan in tyd om die aanspreeklike persoon wat wiskunde tot stand geroep het, stilletjies te vermoor. Waldo, vasgevang in sy dagdroom, glo dat hy sal terugkeer na ’n wiskundevrye wêreld as ’n held.

Daar is egter ’n paar gate in Waldo se dagdroom. Kom ons begin: die fundamentele beginsels betrokke by die bou van ’n ruimteskip is wiskunde. Om ’n reis deur tyd en ruimte te ondergaan, is nog net teoreties moontlik waarvan die beginsels van dié teorieë ook wiskunde is. Laastens, sodra Waldo hipoteties sou kon terugkom in ’n wêreld sonder wiskunde, sal probleme soos staatskaping, listeriose en grondonteiening beslis opgelos wees, omdat ons almal nog in grotte sal woon.

Wiskunde het die mensdom die geleentheid gegee om te ontwikkel. As die geskiedenis ondersoek word sal die direkte verwantskap tussen wiskunde en tegnologiese vooruitgang duidelik na vore kom, vandaar die aansien wat wiskunde tans geniet.

Terug na die dromer. Veronderstel deur ’n reeks lukrake gebeurtenisse in samewerking met die invoer van net die regte kombinasies op ’n mikrogolfoond teleporteer Waldo na die oorsprong van wiskunde: wat of wie sal Waldo vind?

Volgens David Burton, ’n kenner op die gebied van wiskunde-geskiedenis, kan wiskunde nie teruggetrek word tot een enkele individu of een enkele oomblik in tyd nie. Wiskunde het ontwikkel soos verskillende gemeenskappe ontwikkel het. Uitdagings van gemeenskappe het die ontwikkeling van noodsaaklike wiskundige instrumente en modelle tot gevolg gehad. Uitdagings soos om seisoenlengtes te meet, telling te hou van die aantal bokke in jou kamp en om jou land as ’n erfporsie op te deel.

Nou wat sal Waldo sien? Volgens verskeie bronne rakende die geskiedenis van wiskunde sal Waldo op verskeie oomblikke op verskeie tye op verskeie plekke moet kan aankom om die oorsprong(e) van wiskunde te sien. Wiskunde het nie altyd gelyk soos vandag nie; ons het dit ná die 1500’s by ons Westerse-voorvaders geërf in die netjiese verpakkings. Wiskunde het wortels by die Khoi-San wat ’n binêre getallestelsel gehad het, Babilonië met ’n basis-60 getallestelsel en die Majas met ’n basis-20 getallestelsel. Elke groep het getallestelsels, prosedures en skryfwyses gehad om hul uitdagings aan te spreek en op te los.

Baie glo dat wiskunde vooraf tydens die skepping binne die heelal versteek is en dat die mens dit ontdek soos ons aangaan en dit nodig kry. Dié beskouing is by Plato geërf. Ander glo dat wiskunde opgemaak word soos ons aangaan en dat nie alle wiskunde ewe waardevol is vir die mensdom en sy voortbestaan nie. Watter siening jy ook al mag koester het ’n enorme impak op jou vermoë om wiskundig te redeneer.

Wat ek graag vandag vir al die Waldo’s wil sê, is wiskunde is ’n “taal” wat ons praat om verskynsels en probleme mee te definieer en op te los. Wiskunde, soos enige taal, moet so veel as moontlik gepraat, geskreeu en gesing word. Wiskunde is net soos Afrikaans, Grieks en Spaans taai om aan te leer en nog moeiliker om te bemeester. Die wortels van Wiskunde is nes alle ander vorme van taal begrawe by mense, waar ’n gemeenskaplike doel die mense verbind – hetsy dit is om ’n probleem op te los of om net eenvoudig die wêreld ’n beter plek te maak.

Waldo, hou aan droom, hou aan praat en hou aan vrae vra oor jou taal. Net dalk sal jy soos ons mede-Suid-Afrikaners Elon Musk en Mark Shuttleworth wel eendag jou eie ruimtetuig bou. Hou net aan wonder!

  • Johan Koekemoer is ʼn onderwysspesialis in wiskunde by die VAW en trotse pa van twee kinders. Sy droom is om die beeld van wiskunde mooi te maak vir almal wat daarna kyk. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

lizl ·

Wiskunde … daardie ding wat net soos `n inspuiting naald my laat in sweet uitslaan. Ek kon op skool kies om dit te los, en het onmiddellik. Ek kon wiskunde nie eens op laergraad deur kom nie. Nou sukkel my kind net so in graad 10. Sy het gewone wiskunde , en as sy enigsins `n toekoms wil hè moet sy wiskunde en wetenskap as vakke neem. Dis `n marteling en nagmerrie van toetsreeks begin tot dat sy rapport kom ! Wat maak mense soos ek wat dit eenvoudig net nie “kop”? Ek het `n goeie werk, doen finansiele jaarstate of budgets , rekeninge, state en alles met my gewone ou “calculator”. want ek weet nie hoe die “Scientific” ene werk !!!

Gratis wiskunde videos ·

Vandag se kinders kan uitstekende wiskunde lesse op khan academy se website verniet kry.

Ina Opperman ·

Die God en Skepper van hemel en aarde, wat net gespreek het en alles was daar, die enige ware God, is ook skepper van wiskunde; die wiskundige beginsels vasgevang in sy skeppingsorde.

Burger ·

Stem saam , ek kan nie verstaan hoe wiskunde en wetenskap nie saam met die skepping gesien word nie . Ons ontdek maar net n bietjie daarvan . Eer aan die grootste wiskundige en wetenskaplike.

Eddie ·

Wiskunde kan net so ingewikkeld of eenvoudig om te verstaan wees soos die skepping of die samestelling van jou liggaam of enige lewende wese ,as jy bereid is om die moeite te doen !

Sê maar net ·

Wiskunde is n verstaan vak nie n leer vak nie. Hoe moet mens iets doen as jy dit net dood eenvoudig nie verstaa nie. Waar is die dae wat mens op skool kon kies of jy wiskunde as n vak wil hê of nie. Die arme kinders druip hulle kwartaal of jaar oor hulle n vak nie slaag nie…….want hulle verstaan dit nie.

Mak Muil ·

Wiskunde!! – Ek is seker dit was daai Jan van Riebeeck se werk!

Nie Afrika nie ·

Verseker is wiskunde nie in Afrika gemaak nie, dit weet almal darm.

Wonder ·

Johan van wonder gaan die son onder. nou hoe gemaak as jou kleinkind in graad 4 en nie’n syfer verstaan nie. Kan jy haar gratis en verniet help?

B-man ·

Ek het al gevind dat die leerlinge wat sukkel tog die vermoë het om wiskunde te doen. Hulle sukkel om die vrae te verstaan, want hulle kan eenvoudig nie met BEGRIP die vrae LEES nie!
As jy nie die alfabet (getalle en syfers) ken nie, kan jy nie woorde skep (somme/formules) nie en ook nie sinne konstrueer (wetenskap) nie.
Julle wat kla dat die kinders sukkel, moet hulle dalk net eers leer lees en skryf…met begrip.

lizl ·

Gister het ek kommentaar gelewer hier, en nie lank daarna `n sms van die skool ontvang : U graad 10 leerder ( dis nou st. 8) het 28% vir haar wiskunde. So, sy druip klaar haar 1ste kwartaal en sal moet oorskuif na Wiskunde Geletterdheid. Geletterdheid word beskou as Wielie Walie Wiskunde vir die dom kinders. My kind gedoem, sal nooit `n ordentlike werk voor kan aansoek doen nie, omdat sy te dom is vir Wiskunde. En al die slim mense wat wiskunde verstaan sien neer op diegene wat dit nie verstaan nie. En niemand wil insien dat nie almal wiskundig aangelè is nie. Ons dommes het ander talente. Ons kan weer teken / skilder / skryf en kreatiewe kunstige goed doen.

Gerhard ·

Dit het alles goedgegaan toe ek syfers bymekaar moes tel en deel ens. maar toe hulle sê
ek moet die alphabet begin by tel, toe val ek van die bus af

Riouna Martin ·

My dogter en seun is mal oor Wiskunde en sal ure met dit sit. Ek is soms verbaas hoe die twee met mekaar kan sit en probleem uitsorteer oor Wisk. Hulle kan nie los of gaan slaap voor ieys nie uitwerk nie maak my soms mal!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.