Wie mag besluit oor jou kind se opvoeding?

onderwys-alfabet-swartbord-boek

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, wat daarop gemik is om sekere funksies van skoolbeheerliggame te beperk, is ’n beperking van ouers se reg om besluite oor hul kinders se opvoeding te neem, skryf prof. Rika Joubert, onderwysnavorser by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Die Suid-Afrikaanse regering dink blykbaar dat onderwystransformasie bereik kan word deur die beperking van ouers se reg om besluite oor hul kinders se opvoeding te neem. Dit is die essensie van die nuwe Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, wat onder meer voorstel dat beheerliggame geen rol mag speel in die aanstel van skoolvlak-departementshoofde, adjunkhoofde en skoolhoofde nie. Ander funksies van beheerliggame wat onder skoot is, is toelatings- en taalbeleid, asook sekere finansiële funksies. Die voorgestelde wysigings sal in ’n oogwink die demokratiese regte beperk waarvoor Suid-Afrika die afgelope meer as 20 jaar so hard baklei het.

Ouers, uit hoofde van hul ouerskap, het die mag en reg om te besluit oor hul kinders se opvoeding. Hierdie reg is nie ’n toegewing deur die staat nie en die staat mag ook nie inmeng met hierdie reg nie, behalwe natuurlik waar die uitoefening van die reg openbare wet en orde bedreig. Hierdie reg van ouers word deur die Suid-Afrikaanse Skolewet beskerm in die vorm van skoolbeheerliggame. Die Skolewet skuif die besluitnemingsplig in skole van skoolhoofde en onderwyser na ’n meer samewerkende besluitnemingstruktuur wat toesien dat die stem van ouers, gemeenskappe en onderwysrolspelers gehoor word.

Skoolbeheerliggame, met ouerlede in die meerderheid, is ’n vorm van desentralisering van mag. Desentralisering word egter dikwels bemoeilik deur ’n onwilligheid om mag oor te dra. Hierdie spanning tussen die verskeie rolspelers in openbare skoolonderrig is ’n ongelukkige werklikheid in Suid-Afrika.

Die voorgestelde wetsontwerp is die departement van basiese onderwys se reaksie op die verkoop van poste wat in 2014 oopgekrap is. ’n Ministeriële taakspan is gevorm om ondersoek in te stel na bewerings dat sommige lede van onderwysvakbonde en departementele amptenare betrokke was by onwettige aktiwiteite rakende die “verkoop” van onderwysposte. Een van die bevindinge van die taakspan was dat die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADTU) basies onderwys gekaap het. En ten spyte van die feit dat onderwysamptenare en rolspelers in byna al die provinsies aangedui het dat die meeste probleme rakende aanstellings veroorsaak word deur onbevoegde distriksamptenare en aggressiewe vakbondlede, het die taakspan steeds aanbeveel dat die magte van beheerliggame om aanbevelings rakende sekere aanstellings te maak, weggeneem word en dat die Skolewet en die Wet op die Indiensneming van Opvoeders sodanig gewysig word.

Die huidige stelsel van skoolbeheer en -bestuur is nie sonder foute nie. Terwyl beheerliggame ’n poging is om mag af te wentel na ouers, gemeenskappe en, in die geval van hoërskole, ook leerders, sukkel sommige skole om dié ideaal te bereik. Bykomend dui navorsing daarop dat sommige beheerliggame toelatings- en taalbeleid, tesame met skoolfonds, as hekwag-instrumente gebruik, en dat die relatiewe onafhanklikheid van beheerliggame die voortsetting van ongelykhede toelaat, insluitend met die aanstel van onderwysers.

Om huidige wetgewing aan te pas, is egter nie die antwoord nie. Trouens, die Education Dialogue SA-verslag waarsku dat voortdurende aanpassings van grondslag-wetgewing gewoonlik eerder simptome as oorsake aanspreek.

Die fokus moet eerder daarop wees om beheerliggame toe te rus om hul funksies behoorlik uit te voer en om die publiek se begrip van skoolbeheer en -bestuur te verdiep. Dit was nog altyd Fedsas se doelwit: om die gehalte van onderrig in Suid-Afrika se openbare skole te verbeter deur te belê in skoolbeheer en -bestuur. Onderwyskenners by Fedsas en elders het omvattend navorsing oor die onderwerp gedoen. Voorstelle om die beheerfunksies van beheerliggame te verbeter eerder as om die liggaam se gesag te beperk, sluit onder meer in beter samewerking of professionele interaksie tussen amptenare en beheerliggame, die bou van die kapasiteit van beheerliggame om in verskillende en komplekse omstandighede met beskikbare hulpbronne te bestuur, ’n verlenging van die termyn van beheerliggame en die vestiging van ’n nasionale skoolbeheerliggaamforum.

Staatsbetrokkenheid by skoolbeheer en -bestuur moet tot ’n minimum beperk word en moet in elk geval gebaseer wees op deelnemende bestuur. Die beperking van mag en betrokkenheid is nie ’n oplossing om transformasie in onderwys te behaal nie en sal nie billikheid en gelykheid in die onderwysstelsel verbeter nie. Onderwysrolspelers – van leerders en ouers tot opvoeders en beleidsmakers – moet eerder saamwerk om die beste moontlike omgewing te skep vir kinders om te leer.

  • Prof. Rika Joubert is ’n kundige op die gebied van onderwysbestuur en beleidstudie en ’n navorser by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 05:30.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

4 Kommentare

Moeg ·

En natuurlik plaas die voorgestelde wysigingswet onmoontlike vereistes op ouers wat hulle kinders wil tuisskool

Disselboom ·

Wat is die probleem met “die voortsetting van ongelykhede”? Natuurlik sal daar ongelykheid wees as een skool sy sake goed bestuur, en ekstra geld insamel en aanwend en dis daardie skoolgemeenskap se goeie reg om dit te doen. Net omdat die ander skool die nie doen of kan doen nie, beteken nie dat die een wat dit kan en wil doen, daarvoor verskoning hoef te vra of dit nie doen nie.

Eish ·

Wie mag besluit oor my kind se opvoeding, beslis nie hul wat bewys het dat hul nie te vertroue is met regering nie.

Henriette Jacobs ·

Uiters kommerwekkend! Net nog ‘n spyker in die doodskis om vryheid van keuse, kundigheid en goeie onderrig te vernietig. Mag hierdie wetsontwerp gestuit word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 05:30.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.