Wiskunde Geletterdheid nie ’n vak vir dom mense nie

Foto: Pixabay

Wiskunde Geletterdheid is nie ’n vak vir “dom” mense nie, inteendeel, dis ’n aanwins vir enige leerling.  Só sê Elna van Wyk de Vries, afgetrede Wiskunde-onderwyser met jare se ondervinding.

Volgens statistieke vanaf die departement van basiese onderwys, neem baie meer leerlinge jaarliks Wiskunde Geletterdheid tot in matriek, as gewone Wiskunde.

Volgens Elna kan die vaardighede wat leerlinge in Wiskunde Geletterdheid leer, baie beter in die alledaagse lewe toegepas word, as Wiskunde.  “Deur Wiskunde Geletterdheid leer jy om in die regte lewe met syfers te funksioneer,” sê Elna. “Soms kry leerlinge 99% vir gewone Wiskunde, maar kan nie ’n vorm invul om hul inkomstebelasting in te handig nie. Dis wat jy leer in Wiskunde Geletterdheid.”

Ander handige vaardighede wat hierdie leerlinge aanleer, sluit in hoe om ’n huis of kar te koop en hoe om versekering en annuïteite uit te neem. “Leerlinge kan selfs uitwerk wat die waarskynlikheid is dat hulle die lotto gaan wen. Dis regtig ’n baie interessante en waardevolle vak,” sê Elna. Sy sê hierdie vaardighede kan in enige beroep gebruik word.

Elna erken wel daar kleef ’n stigma aan Wiskunde Geletterdheid as vak, grotendeels omdat wiskunde-onderwysers die indruk wek dat net dom kinders hierdie vak neem. “Wiskunde Geletterdheid word beskou as ondergeskik aan Wiskunde. Dis vreemd, want die eksamen vir Wiskunde Geletterdheid is soms baie moeiliker as vir Wiskunde. Toe ek nog op skool was, was daar ook baie kinders wat glad nie wiskunde as vak gehad het nie en niemand het snaaks van hulle gedink nie.”

Volgens Elna is dit nodig vir onderwysers in Wiskunde Geletterdheid om werklik hul vak te verstaan en altyd positief en hardwerkend te wees, ten einde leerlinge meer positief oor hierdie vak te maak.

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

WiskundeHG ·

WG is seker nie vir dom mense nie en het waarde maar om die stelling te maak dat dit “soms baie moeiliker” is as wiskunde maak wragtag nie sin nie.

Michael Bouwer ·

Net so tussen ons, die prentjie aan die bo kant het absoluut niks uit te waai met wiskunde geletterdheid nie. Sy is absoluut reg, dalk weet n persoon wat 99% vir wiskunde kry nie hoe om n inkomsbelasting vorm in te vul nie, ( ek sal weet) wat ek jou wel kan belowe is dat die persoon uitstekende vermoe het om n probleem op te los, hy/sy sal sommer vinnig snap om dit te doen. (In wiskunde leer hulle om geld te bele en te grooi, in my opinie dink ek dit is belanriker as om n staat in te vul, maar dis opinie.) Op die noot, normale wiskunde het ook waarskynlikheid en ek kan jou belowe dat in normale wiskunde leer hulle verseker n weier verskeidenheid van hoe dit toe paslik is op die regte lewe. Daar is niks fout met normale wiskunde nie, en ek kan jou belowe wiskunde geletterdheid gee jou geen gereedskap om behoorlike wiskunde in die werklikheid te doen nie (calculus).

Laura van Rensburg ·

WG is ‘n ongelooflike goeie vak om te he. Ek het jare die vak gegee en word nou nog rooi onder die kraag as mense die vak afkraak. Dink dis meestal uit onkunde oor die vak!

Mike ·

Stem100% saam – mense kritiseer WGelet uit onkunde.
En baie wat kritiseer sal waarskynlik besef hoe moeilik dit kan wees as hulle gr. 12 Vraestel 2 aan die einde van jaar probeer uitwerk.

B ·

Elkeen het sy plek, maar hoekom Wiskunde nou ‘afkraak’ om WG beter te laat lyk? ?

Teleurstellend.

BEKOMMERDE ·

Ek hoor wat jul vertel maar daar is kinders wat nie kan somme doen nie.
Daar word nooit vertel van die alternatief nie.

R ·

Wiskunde geletterdheid se naam moes lankal verander het. Wiskunde en Wisk geletterdheid is totaal verskillend en behoort nooit vergelyk te word nie. Baie onderwysers en ouers dink soos Elna Van Wyk de Vries maar ons almal het net onderlangs gemor. Uiteindelik n persoon wat bereid is om dit hardop te sê.
Dit is jammer dat grootnaam professors en ‘kenners’ te lank hulle onkunde oor die vak in die media verkondig het en mense negatief beinvloed het.
Ek sou ook graag wou sien dat dit die verpligte vak word in plek van LO of soos dit nou lyk geskiedenis. Wiskunde kan n keuse vak wees. Nie almal kan of wil wiskunde doen nie net soos met enige ander vak.
Ons het ook gevind dat onderwysers met n kommersiële opleiding soms baie beter vaar as wiskunde onderwysers in die klas, afhangende van die onderwyser se gesindheid teenoor die vak en leerders.

Wiskunde snobs sal daar altyd wees maar dit is gelukkig hulle probleem.

Kinders het al op moed verloor se vlakte en met n haat vir skool wiskunde gelos vir wiskunde geletterdheid in matriek en n totale verandering ondergaan en met baie goeie punte geslaag en n sukses van hulle studies gemaak.

Magda ·

WG word aanbeveel vir n kind wat doodeenvoudig net nie die vermoë het om n sekere persentasie in Wiskunde te behaal nie, dit maak die nie n vak vir dom kinders nie, maar.. om te sê dat die WG vraestel soms baie moeiliker is as die WISK vraestel- dit is n dom stelling-

Stefaans ·

Die beheptheid met wiskunde is nog altyd vir my ‘n steen des aanstoots. My klasmaat was briljant met wiskunde en ek het maar altyd net-net deurgeskraap. Die feit dat ek hom in al die ander vlakke geklop het, het my effens beter laat voel. Ek het gesien hoe menige leerders se lewens benadeel is deur die afdwing van wiskunde as ‘n verpligte matriekvak.

Mike ·

Stefaans jy is reg – Wiskunde word verafgod! Tot nadeel van kinders met ander talente.

honourable member ·

Gelukkig kon ons wiskunde al in Std 7 los daai jare. Weet nie hoekom dit nou so in almal se kele afgedruk word nie. Ek het wiskunde net nooit verstaan nie want ek is glad nie wiskundig aangele nie. Die kind wat dit kan doen floreer maar my arme kind sukkel haar dood al doen sy ekstra wiskunde klasse.

Justice ·

Ek hoop en vertrou dat die Lotto verkope nie nou rekord hoogtes gaan bereik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.