Woon Sol-Tech-opedag by uit die gemak van jou huis

Foto verskaf deur Sol-Tech

Sol-Tech hou op Saterdag, 6 Junie 2020, vir die eerste keer ʼn aanlyn opedag vir voornemende studente sodat hulle meer te wete kan kom oor die gehalte-opleiding wat Sol-Tech bied.

“Die aanlyn opedag bied aan voornemende studente van oor die land heen die geleentheid om in hul sitkamer of op die stoep te sit en om saam met hul familielede opgewonde te raak oor die talle beroepsmoontlikhede wat Sol-Tech vir hulle kan ontsluit,” sê dr. Philip Minnaar, hoof van Sol-Tech. “Ons huidige perseel het tydens die afgelope paar opedae reeds uit sy nate gebars – met ʼn 94,7%-sukseskoers van ons studente wat suksesvol werk kry en uitstekend presteer, en die vooruitsig van die nuwe wêreldklas-kampus wat volgende jaar open, is hierdie geleentheid om ʼn onbeperkte aantal mense in te lig eintlik ʼn bedekte seën.”

Sol-Tech streef daarna om toepaslik en relevant te wees vir die uitdagings van die arbeidsmark. Opleiding geskied aaneenlopend oor drie fases (teoretiese opleiding, praktiese werkwinkelopleiding en indiensopleiding by ʼn goedgekeurde werkgewer) wat deur vaktoets-gereedmaking en dan deur die finale kwalifiserende toets by ʼn geakkrediteerde toetssentrum gevolg word.

Ten spyte van die onseker tye waarin ons leef, bly ambagsopleiding steeds in aanvraag.

“Ons beleef interessante tye waarin niemand presies weet hoe dit ná Covid-19 gaan lyk nie. Wat ons wel weet, is dat die vraag na goed opgeleide ambagslui bly groei. Daarvan getuig die meer as 400 werkgewers wat ons studente in diens neem vir hul praktiese ervaring in die werkplek. Daarom is dit belangrik dat jy by ons sal inskakel op die opedag om eerstehands te ervaar presies hoe Sol-Tech se opleiding werk en om met die lektore kennis te maak. Dit kan die beste besluit wees wat jy nóú vir jou toekoms kan maak,” voeg Minnaar by.

Volgens Xpatweb se nuutste verslag oor krities noodsaaklike vaardighede is daar in Suid-Afrika, en wêreldwyd, steeds ʼn tekort aan goed gekwalifiseerde ambagslui. Die groot tekort aan onder meer bekwame elektrisiëns, sweisers, motorwerktuigkundiges en ketelmakers bring mee dat hierdie beroepe van die hoogste aanvangsalarisse betaal. Ambagslui in Suid-Afrika tel dan ook onder die top beroepe met die hoogste inkomstetrajek namate ondervinding opgedoen word.

Voornemende studente kan tydens die opedag meer te wete kom oor die volgende beroepskwalifikasies:

  • Meulmaker
  • Passer en draaier
  • Elektrisiën
  • Dieselwerktuigkundige
  • Trekkerwerktuigkundige
  • Gereedskapmaker
  • Sweiser

Voornemende studente word uitgenooi om by www.sol-tech.co.za te registreer om die opedag te kan bywoon. Die nodige skakels sal daarna aan hulle gestuur word.

Die verpligte keuringstoets sal ná afloop van die virtuele opedag aanlyn afgelê word.

Stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] vir enige verdere navrae, besoek ons webblad by www.sol-tech.co.za of kom kuier saam met ons op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.