Woon, werk en studeer op ʼn plaas in die hoëveld

Foto verskaf deur Mooikrans

“Net ná sonsopkoms begin nog ʼn besige dag op ons mooi hoëveldse plaas waar ons woon, werk en hard voorberei vir ons toekoms.”

Mooikrans Opleiding is naby Amersfoort in Mpumalanga geleë, weggesteek en omring deur bulte eie aan die oostelike hoëveld. Die kampterrein se historiese plaashuis, gebou in 1903, word omring deur reuse-bloekombome en lowergroen grasperke met genoeg spasie vir allerlei lekker aktiwiteite. Mooikrans is bekend vir sy trop geskoolde ryperde wat diep spore in jou hart trap.

Mooikrans bied internasionaal erkende tersiêre opleiding aan in die Landbouwetenskappe en in die Equuswetenskappe. Die kursusse word aanlyn gedoen by Australia Correspondence School (ACS) en studente word ook by die Professional Association of Therapeutic Horsemanship (PATH) International ingeskryf vir perdondersteunde terapie en -leer.

Die Mooikrans Sillabus se teorie en prakties is daarop gemik om die student toe te rus om ná die opleiding op Mooikrans die arbeidsmark te betree met selfvertroue, die nodige kennis en met voldoende ervaring.

Die Landbou-studente moet kan boer en die Equus-studente moet byvoorbeeld weet hoe ʼn perd se kop werk, sodat rylesse, terapie, uitritte, ens., veilig en suksesvol kan plaasvind.

Eksamens en toetse word deurlopend geskryf en ouers kry gereeld verslag van studente se vordering.

Suksevolle studente is reeds werksaam op plase en in ryskole. Van die studente vind werk in oorsese lande of gaan studeer verder op universiteit.

Prakties

Megaboere in die omgewing deel graag hul fasiliteite en kennis met die studente wat deeglike prakties opleiding verseker. Landboudiploma-studente spesialiseer in die tweede jaar in die rigting van sy keuse.

Equus-studente besoek perdetelers en afrigters in die omgewing en besoek jaarliks die Lippizaners, Horse of the Year en ander skoue.

Agri-studente doen ʼn KI-kursus en beide rigtings doen noodhulp en KPR.

Internasionale kursusse

Buiten die Mooikrans-sillabusse, word elke student deur Mooikrans ingeskryf by:

  • ACS Distance Education (Australië) vir landbou en perdehantering, en by
  • PATH International (Amerika) vir perdondersteunde terapie en -leer.

ʼn Internasionaal erkende sertifikaat/diploma open deure in Suid-Afrika en ook in die buiteland. Die standaard van hierdie kursusse spreek vanself.

Persoonlike aandag

In ʼn tyd van onpersoonlike aanlyn kursusse en massa-onderrig, bied Mooikrans die unieke geleentheid vir jou kind om in ʼn veilige en geborge omgewing te groei en tot volwassenheid te ontwikkel. Tussen sy/haar eie mense met dieselfde Christelike waardestelsel en leefwyse.

Huisvesting en studentelewe

Foto verskaf deur Mooikrans

Studente woon op Mooikrans naby Amersfoort in Mpumalanga in enkel- of dubbelkamers met mans en dames in aparte geboue. Drie etes word per dag bedien. Klasse word aangebied in lesinglokale op die perseel.

Sowat 35 studente skryf jaarliks by Mooikrans in. Die Landbou-studente en Equus-studente funksioneer as ʼn hegte eenheid. Equus-studente gaan dikwels saam op landbou-uitstappies, en andersom. Die gewildste ontspanning aktiwiteit is perdry, krieket, netbal en rugby.

Saans word huisgodsdiens gehou wat almal bywoon. Sondae ry studente met die bus kerk toe op Amersfoort of Morgenzon.

Vir meer inligting stuur ʼn epos aan Elna Wahl, die uitvoerende hoof van Mooikrans, by [email protected] of kontak haar by 083 732 8172.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.