Worstel jy of jou spruit met uitbranding?

Argieffoto (Foto: Base Formula)

Sukkel jou kleuter met moegheid, lusteloosheid, asosiale gedrag en chroniese of herhalende infeksies? Hy kan dalk ʼn slagoffer van uitbranding wees.

Kinders van so jonk soos vier jaar worstel deesdae met uitbranding weens onder meer stres in die kleuterskool, swak eetgewoontes en spanning in die ouerhuis.

Ander simptome van uitbranding by kinders sluit in ʼn onvermoë om te leer, belemmerde groei, ʼn swak eetlus, allergieë, ʼn lae selfbeeld, geïrriteerdheid, depressie en selfs selfmoordneigings. Hulle sal ook dikwels vir hul moegheid en uitputting kompenseer deur aggressiewe gedrag, geweld, wangedrag of kompulsiewe gewoontes.

Wat kan jy doen as jy dink jou kind loop ʼn gevaar om uit te brand?

  • Gee ʼn mineraalaanvulling soos sink – dit bevorder eetlus en groei, help die spysverteringstelsel aan en het ʼn kalmerende effek.
  • Kyk na jou kind se dieet. Kies vars, tuisgemaakte kos, en sit dit voor in ʼn rustige, kindervriendelike omgewing.
  • Vermy suiker – dit sal uitputting vererger. Buierigheid is ʼn groot probleem by kinders met hoë bloedsuikervlakke.

As dit kom by volwassenes, loop jong werknemers in hul vroeë twintigs die grootste risiko vir uitbranding. ʼn Studie deur Afriforte, die kommersiële afdeling van die WorkWell-navorsingseenheid by die Noordwes-Universiteit se fakulteit vir ekonomiese en bestuurswetenskappe, het getoon 17% mense tussen 20 en 29 loop ʼn ernstige risiko vir uitbranding.

Daar is ’n verband tussen uitbranding en kardiovaskulêre siektes, hoë bloeddruk, depressie en angssteurnisse. Iemand wat die gevaar loop om uit te brand, is ook meer vatbaar vir verkoue, griep, diabetes en slapeloosheid.

Nog snellers wat uitbranding aanhelp, sluit in ʼn gevoel van ʼn gebrek aan beheer, ʼn gebrek aan erkenning, onduidelike verwagtinge, onrealistiese spertye en eentonige werk.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Medihelp se Élan-tydskrif vir lede verskyn en word met vergunning op Maroela Media geherpubliseer.

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erika ·

Hoekom jong werknemers wat baie tyd het om te oefen, rus en slaap? Wat van werkende ma’s? As ek dink aan alles wat ek elke dag moet doen met seker 5 ure slaap en geen tyd vir rus en oefen nie.

K ·

Maak vir my sin – want tussen 20 – 29 is die meeste werkende mense ouers wat moet leer aanpas en als doen met 5 ure se slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.