Pak skuldberading reg aan

Foto: Pixabay

Skuldberading raak al hoe meer ʼn onvermydelike oplossing vir Suid-Afrikaners se skuldprobleme en met die afgradering van die land se kredietstatus wat krediet al hoe duurder gaan maak, begin meer verbruikers wonder of skuldberading dalk ʼn uitweg is om hul begrotings te laat klop en die wolf van die deur weg te hou. Ina Opperman verduidelik hoe skuldberading werk en waarvoor jy moet ligloop om te verseker dat jy nie nog dieper in die moeilikheid beland nie.

Wat is skuldberading?

Skuldberading is ʼn formele regsproses wat voorsiening maak daarvoor dat ʼn verbruiker as oorbelas verklaar kan word sodat ʼn skuldberader ʼn hergestruktureerde betalingsplan kan uitwerk en ʼn hofbevel kan bekom wat die plan bevestig.

Wanneer jy oorbelas verklaar en aanvaar is vir skuldberading, is jy beskerm teen regstappe vir sestig dae van die dag van jou aansoek en vandat die ooreenkoms gesluit is, solank jy maandeliks betaal volgens die nuwe betalingsplan. Jou krediteure moet dan met jou skuldberader praat en jy word by die kredietburo’s gelys as iemand wat skuldberading ontvang. Jy kan dus nie nuwe krediet kry terwyl die proses vir skuldberading aan die gang is nie. Jy ontvang ʼn klaringsertifikaat aan die einde van die proses dat jy jou pligte nagekom het.

Wie kan skuldberading doen?

Skuldberaders moet registreer by die Nasionale Kredietreguleerder (NCR) en moet ʼn NCRDC-nommer hê. Hul pligte en verpligtinge word vervat in die Nasionale Kredietwet.

Hoe word skuldberading gedoen?

Volgens die Nasionale Skuldberadingsvereniging (NMDA) sal die skuldberader die totale omvang van jou skuld ondersoek en bereken wat jou bates werd is voordat hy ʼn oplossing verskaf wat sal verseker dat jy ʼn aanvaarbare lewenstandaard kan handhaaf terwyl jou skuld afbetaal word, wat indien moontlik insluit dat jy jou huis en motor kan behou.

Hy sal ook vir jou ʼn bekostigbare en relaistiese maandelikse begroting opstel om jou skuldprobleem so gou as moontlik op te los. Verder sal hy ook seker maak dat jou krediteure die plan aanvaar voordat die hof dit bevestig, om te keer dat jou krediteure op jou goedere beslag lê en sorg dat jy, wat skuld betref, gerehabiliteer word vir die toekoms.

Die skuldberader sal ʼn afskrif van jou ID nodig hê, sowel as ʼn afskrif van jou jongste salarisstrokie, die jongste rekeningstate van jou krediteure, die rekeningstate vir die afgelope twee maande vir jou kredietkaarte, die rekeningstate vir jou bank- en beleggingsrekeninge vir die afgelope drie maande, die jongste staat vir jou huislening en ʼn lys van geld wat jy aan familie en vriende skuld.

Wat is jou pligte?

Wanneer jy vir skuldberading gaan, is dit jou plig om eerlik en oop te werk saam met die skuldberader en al jou bates en verpligtinge te openbaar, soos alle inkomste en skuld. Jy moet ook sorg dat jy die registrasie en ander fooie betaal vir skuldberading en al die paaiemente op die dae waarop julle ooreengekom het. Die skuldberader kan ook vereis dat jy jou kredietkaarte oorhandig, rekeninge sluit en van jou bates verkoop. Die NCR stel die fooie vas wat die skuldberader kan vra.

Maandelikse paaiemente

Jy kan jou maandelikse paaiemente betaal aan ʼn betalingsverspreidingsagent betaal, of direk aan elke krediteur. Indien jy ʼn agent verkies, moet jy maandeliks ʼn staat kry wat wys hoeveel jy betaal het. Indien jy self betaal, is dit belangrik om te sorg dat jy alle betalings betyds doen en maandeliks betalingsbewyse vir die skuldberader stuur. Indien jy nie betyds en gereeld betaal nie, kan die betalingsplan opgehef en regstappe ingestel word.

Beskerm jouself só

ʼn Paar verbruikers het al deurgeloop onder gewetenlose skuldberaders wat teen die bepalings van die Kredietwet optree. Oppas dus vir skuldberaders wat nie hul registrasienommers kan gee nie en bel die NCR-oproepsentrum op 0860 627 627 om ʼn skuldberader se registrasie na te gaan.

Dit is ook beter om iemand te gebruik wat geregistreer is by ʼn organisasie soos die NDMA, wat ʼn gedragskode het. Dit is ook belangrik om ʼn betalingsagentskap te gebruik wat deur die NCR geakrediteer is. Dit is verder baie beter om iemand te gebruik wat ʼn sagtewarestelsel inspan om te help om jou betalingsplan tot op die sent uit te werk om verdere probleme te voorkom.

Vra ook die skuldberader of die NCR sy bedrywighede tans ondersoek en of hy werk volgens die reëls van die Skuldberadingsreëlstelsel, wat gebruik kan word om voordeel te trek uit fooi en heffingskonsessies. Dit is ook belangrik om te vra of sy fooie voldoen aan die riglyne van die NCR en wie die prokureur is wat jou in die hof verteenwoordig en of hy die nodige ondervinding het. Hoewel dit vreemd klink, vra ook of die skuldberader beplan om die bedryf te verlaat. Indien wel, kan die oordrag van sy kliënte na ʼn ander skuldberader veroorsaak dat jou paaiemente laat betaal word.

Volgens die NCR moet verbruikers ook lig loop vir misleidende advertensies vir skuldberading, soos dat hulle tot 60% kan bespaar nog voordat hulle jou finansies nagegaan het. Oppas ook dat jy nie meer vir die skuldberader se dienste betaal as op jou skuld nie.

Kla oor skuldberaders of vra vir meer inligting van die NCR op 0860 627 627 of besoek die webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Josua Keys ·

Ek deel al baie jare met al die banke in SA en het by almal n goeie naam dank Onse Vader daarvoor, het ook krediet kaarte, huis en motor skuld en betaal my skuld gereeld af kan met trots sê dat geen instansie het ooit nodig gehad om my te dagvaar vir agterstallige skuld nie, my skuld word eerste betaal en dan volg die res. My vraag, Indien die Regering aangaan soos nou is hulle mos duidelik die DIREKTE oorsaak dat al hoe meer goeie skuld vereffende landsburgers nie meer hul skuld kan vereffen nie en goeie betalers soos ons wat ook help om ander se salarisse te betaal en werk help verseker gaan dan metertyd outomatiese ‘n slegte naam kry of die gevaar staan om jou goedere te verloor a.g.v die Regering se wanbestuur van die land se ekonomiese sake, rentekoerse word belaglik verhoog maar salaris verhogings word ingekort omdat maatskappye ook swaar trek aan die Regering se onvermoe en wanbestuur dan het ons mos ‘n die REG/RIGHT as mede landsburgers om ons eiendom en besittings teen die regering te verdedig? Niemand in SA kan sonder skuld klaarkom nie en niemand dwing jou om skuld te maak nie maar tog het instansies skuld verleen op VERDIENSTE en is deur diè Regering as wettiglik aanvaar, swak regerings bestuur, korrupte onbevoegde amptenare perk dit nou in en gebruik inflasie as verdedigging. WIE HET NOU EINDELIK SKULD BERADING NODIG??????? MORE JOB LOSSES…..Thank you ANC

Antie ·

Nee, dit werk nie. Vir 10 jaar probeer, ons skuld het verdubbel. Hulle kom ooreen om ‘n eiser R200 per maand te betaal maar skuld eiser looi jou met R215 rente elke maand en dan vat hulle nog hulle “cut” ook. Ek sal dit nie aan enigiemand voorstel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.