Passie vir kreatiewe bemagtiging lei jong vrou na die Kalahari

Ruth Loewenthal woon buite Askham en werk in die gemeenskap van Andriesvale. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Dis onhebbelik warm hier, selfs in die skadu van die knoetsige kameeldoring wat sy man onwrikbaar staan teen die droogte en die versengende hitte. Die Kalahari se sand is rooi onder my voete. Die donkiegeiser[1] buite die gedeelde waskamer vertel jou van eenvoud.

Ek klop aan die deur. ʼn Vrou in haar laat dertigs maak oop. Sy is verfrissend mooi. Geen grimering nie. Sy is lank, amper vyf voet nege soos die oumense sou sê . En haar glimlag slaan jou asem weg.

Sy is ʼn Engelse Jodin in ʼn eg-Afrikaanse gemeenskap. Sy woon buite Askham in die Noord-Kaap. En haar passie is kreatiewe bemagtiging in die plaaslike Khoi-San-gemeenskap van Andriesvale – bemagtiging deur storievertelling en dramatisering.

Ruth Loewenthal het die blink liggies van Johannesburg verruil vir die sterrehemel en die ver-verlate vlaktes van die Kalahari. Sy lewe in eenvoud, maar het darem af en toe ʼn vleisie of ʼn worsie. Wanneer die groente en vrugte gedaan is, maak sy staat op blikkieskos en verpakte melk. Haar kamertjie in Andriesvale kos haar R1 000 per maand. En haar vervoer? Dié is ʼn fiets! Die plaaslike mense noem haar ook gepas “Die vrou op die fiets.” Sy dink niks daarvan om die 15 kilometer tussen Askham en Andriesvale met haar baiesukkel kaf te draf nie.

Ruth was só aangegryp deur die tragiese geskiedenis van die Khoi-San dat sy besluit het om haar lot by hierdie vertrapte en verstote groepering Suid-Afrikaners in te gooi.

“Die Khoi-San is natuurlike akteurs. Hulle lewe om toneel speel. Om stories te vertel is deel van hul menswees, maar groot gedeeltes van hul volksverhale het egter verlore gegaan.

“Ek gebruik hul liefde vir speel en nabootsing (dramatisering) om die jeug te bemagtig vir die moderne samelewing. Ek herontdek hul sin vir ʼn eie identiteit en hul sin van wat hul erfenis is,” verduidelik Ruth, wat met ʼn meestersgraad in Engels spog.

Die Khoi-San kom uit die Steentydperk en is eintlik ʼn anachronisme in ʼn tyd van rekenaars en selfone. Hulle het hul jagvelde verloor en hul natuurlike leefwyse is feitlik tot niet. Wat Ruth Loewenthal se selfopgelegde taak is om hul kennis oor hul geskiedenis te laat herleef en daarop gemik om die San-kultuur te help bewaar.

“Ek is passievol oor bemagtiging deur kreatiewe uitdrukking.”

Ruth onthul ʼn interessante feit: die meeste van die ouer garde en die meer tradisionele Khoi-San – veral dié wat in die Park gebore is – wil nie Khoi-San genoem word nie, maar Boesmans.

Askham lê in die hartjie van die Kalahari, in die verre Noord-Kaap, min of meer tussen Botswana in die ooste en Namibië in die weste. Dis dorre wêreld hierdie. As jy van die beskawing wil ontvlug, kom na Askham. Die afgesonderdheid is deel van die uitdaging.

“Hier is feitlik geen rekreasie vir jongmense nie. My dramagroep vir minderjariges is, onder meer, daarop gemik om die verveling en leeglêery te oorkom.”

En hoe pas sy vroualleen in hierdie barre omgewing aan?

“Dit was nie maklik nie. Ek het niemand geken nie en alles was, en is, Afrikaans. Toe ek sewe maande gelede hier aangekom het, was my Afrikaans baie sleg. Maar ek moes en het geleer en nou praat ek al lekker, al lag die tieners nog vir my oor ʼn glips hier en daar.”

En die toekoms?

“Die Khoi-San is die mees ontmagtigde mense in Suid-Afrika. Polities word hulle grotendeels misken. Dié mense het ʼn stuk grond by Andriesvale gekry juis oor hul identiteit as die Khoi-San. Een van hul tale – N|uu – word as krities bedreig bestempel. Dit blyk ook dat dit die oorspronklike taal van die “Boesmans” was. Daar heers  ʼn gevoel van algehele hooploosheid. Sowat 90% van die ouers van die kinders met wie ek werk, is werkloos. Ek probeer hierdie siklus van negatiwiteit verbreek. Dis hoekom my werk vir my so belangrik is.”

Ruth se selfopgelegde missie sny egter dieper: deur haar dramalesse, leer sy ook die jeug basiese lewensvaardighede aan.

“Ek leer hulle oor selfvertroue en dissipline en spanwerk. Bakleiery en ’n gekoggel tussen die kinders is ʼn groot probleem, en dit is dit baie moeilik om verskoning te vra aan ʼn ander kind. Nou kry ek hulle sover om uit hul harte vir mekaar te kan sê: ‘Ek is jammer’.”

En die groep se eerste opvoering vir ʼn beduidende gehoor?

“Ja, ons het op die Kalahari Woestynfees opgetree en die eerste stukkie wat ons op die planke gebring het, was Tussen drome en verlies. Ons het deksels hard gewerk en ek is baie trots op ons verhoogstuk!

Maar nou kom die skokkende mededeling: Ruth Loewenthal praat van haar “werk”, maar sy word nie ʼn bloue duit betaal vir haar dramawerk onder die Khoi-San van Andriesvale nie!

“Dit is suiwer mededoë vir die Khoi-San en hul lot wat my aangespoor het om hiernatoe te kom.”

Sowat van selfopoffering en toegewydheid het ek lanklaas in my lewe teëgekom. En die Khoi-San lê my ook na aan die hart, seker omdat ek my kinderjare in die Kalahari geslyt het.

  • Pierre Massyn is ʼn skrywer en navorser wat al sy laerskooldae op Upington deurgebring het.

Voetnota:

[1] ’n Donkie-geiser is ’n waterverhittingstelsel vir huishoudelike gebruik wat buite geïnstalleer moet word. Die heel eenvoudigste “donkie” bestaan uit ’n metaal- of koperdrom wat met water gevul is en bokant ’n vuur verhit word. Die woord kom uit die tyd toe ’n “donkey boiler”, “steam donkey of “donkey engine” op die dek van skepe gebruik is om stoom aan, byvoorbeeld, ’n hystoestel op die skeepsdek te verskaf om vrag op of af te laai wanneer daar by ’n hawe aangedoen word. Maar na regte kom die woord uit die tyd voor stoomkrag toe trekdiere, soos donkies, gebruik is om soortgelyke werk te verrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Hierdie vrou is dapper.
Ek het ook al baie gedink om alles agter te laat en iets te doen wat n verskil maak, maar die moed het nog altyd ontbreek!

Leon ·

In die VSA het die Britte die Indiane verneder en in reservate gesit.
In Kanada het die Britte en die Franse dieselfde gedoen.
In Australië het die Britte die Inboorlinge uitgeroei en die res in reservate gesit.
In Suid Afrika misken die ANC die Boesman/Khoi/San.
Die les wat ons leer is dat as jy die oorspronklike inwoner is, gaan jy onderdruk word en misken word.

Kwagga ·

Sport sal ook n lekker ontwikkelingsprogram vir die jongmense wees. Ek sal dit wil doen

Katryn ·

Wow. Wens so ek kon dit doen. As daar erens kapitaal was om my medies en aftree-dae te cover het ek more my sak en my kat gevat…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.