Pendoring-inskrywings nou oop

Pendoring (Foto: Facebook)

Opwindende en verrykende ervarings is vir vanjaar se Pendoring-wenners beskore, aangesien dié toekennings se hoogste eerbewyse vanjaar elk ʼn oorsese studiereis ter waarde van R100 000 behels.

Legendes soos Joao Countinhou (Grey, New York), Tom Paine (Y&R, Nieu-Seeland) en Erik Vervroegen (TBWA Chiat Day, New York) is by vanjaar se toekennings betrokke.

Carl Willough, die uitvoerende skeppende hoof van OpenCo, die reklame-agentskap wat by vanjaar se Pendoring-veldtog betrokke was, sê dié toekennings word van ander toekennings in Suid-Afrika onderskei omdat dit eiesoortig en eie aan Suid-Afrika is.

“Om op die 2017 Pendoring-veldtog te kon werk, was ʼn groot voorreg en het ons in staat gestel om ons skeppende spierkrag te wys. Pendoring was die afgelope tyd toenemend in die kollig omdat die toekennings nou oop is vir alle inheemse tale en dit onderskei die toekennings van enige ander toekenningsgeleentheid.

“Dit het ons ook in staat gestel om plaaslike insigte te benut wat net uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt werk en ons is verheug dat ʼn paar groot kanonne in die internasionale reklamewêreld bereid was om mee te doen om hierdie punt te bewys. Trouens, nadat ons die rede en missie van Pendoring en die toekennings se posisionering as eg en uniek Suid-Afrikaans aan hulle verduidelik het, was hulle onmiddellik aan boord,” sê Willoughby.

Só lyk die pryse

Slegs goue wenners kom in aanmerking vir die twee hooftoekennings – die Prestige- en die Umpetha-toekenning. Elke goue wenner in elke kategorie ontvang R6 000 en silwer wenners ontvang R2 500 elk. Daarbenewens ontvang die handelsnaam agter die algehele wenner van die Prestige-toekenning gratis lugtyd ter waarde van R550 000 op kykNET, ’n platinum-Pendoring-borg.

Albei algehele wenners in die studentekategorie – vir die beste Afrikaanse werk én die beste werk in een van die ander inheemse tale – ontvang elk R10 000.

Advertensies wat van 1 Augustus 2016 tot 31 Julie 2017 uitgesaai of gepubliseer is, mag ingeskryf word.  Inskrywings moet vóór 1 Augustus 2017 op Pendoring se webwerf ingedien word.

Finaliste word op 19 September 2017 aangekondig en die wenners op 27 Oktober 2017 by die gala-aand by Vodacom World, Midrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.