Piet van Zyl vertel alles oor daardie têkkel

piet-van-zyl-en-seun

Piet van Zyl (regs) en sy seun Gideon Pieter, alom bekend as Giepie. Hy is nege jaar oud en sê onomwonde sy pa is sy held. Hy hou skeidsregters fyn dop dat hulle nie foute maak nie. Sy ander held is die Suid-Afrikaanse skeidsregter Jaco Peyper. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Daar was ’n tyd toe die media hom verguis het as ’n rampokker en ’n sportboef. Rian Oberholzer het gesweer Piet van Zyl sal nooit weer sy voete by ’n rugbywedstryd in Suid-Afrika sit nie. En dit alles oor hy David McHugh se skouer gebreek het in ’n genadelose toets teen Nieu-Seeland sestien jaar gelede in Durban.

Piet van Zyl en David McHugh se lewenstrajekte sou op 10 Augustus 2002 met soveel geweld bots dat dit internasionaal weerklank sou vind. Die dramatis personae was ’n Ierse skeidsregter van Limerick genaamd David McHugh en ’n boerseun van Namakwaland.

“Die hele skare kon duidelik sien McHugh was besig om ons blatant te beroof. Hy het byvoorbeeld geweier om ’n skoon drie van Breyton Paulse toe te ken oor beweerde obstruksie deur James Dalton – wat loutere kaf was. Hy het ook ’n strafdrie teen ons toegeken ná ’n kamtige hoogvat op Tana Umaga. Toe bestorm ek hom. Ek wou hom nie seer maak nie. Maar ek wou hom wel van die veld af haal”, onthul Piet in ’n openhartige onderhoud met Maroela Media.

Maar kom ons begin voor. Pieter van Zyl van Springbok is rugbymal. Hy was in 1995 by toe die Bokke die Aussies se sterte op Nuweland knoop. En daardie onvergeetlike dag op Ellispark toe Francois Pienaar die wêreldbeker gelig het. Met sy mynverskaffingsmaatskappy is hy saam met die Eerste Nasionale Bank destyds een van die grootste borge van die Luiperds – die ou Wes-Transvaal van Potchefstroom.

Maar terug by daardie wedstryd in Durban…

“Ek moes nooit eers daar gewees het nie,” verduidelik hy. “Die Vrydag voor die toets was daar nog ’n intervarsity tussen die Pukke en Shimlas van die Vrystaat op die ou Olienpark in Potch. Ek het Hendrik Truter (voormalige Transvaal- en Vrystaat-heelagter) wat toe in my diens was, gevra of hy ’n paar kliënte na die toets sou neem. Toe laat weet Hendrik hy is gevra om vir Transvaal se Goue Oues teen die Oostelike Provinsie se Helde van Weleer wat Danie Gerber en dié manne ingesluit het, in Port Elizabeth te speel. Toe vra ek vir Pieter Hendriks wat op Nuweland om die legendariese David Campese van Australië in die Wêreldbeker gehardloop het, om ons maatskappy – Mustang Mining Supplies – te verteenwoordig. Maar toe Pieter hoor McHugh blaas, sê hy, ‘Oor my dooie liggaam sal ek ’n wedstryd bywoon waar daardie Ier ’n fluitjie vashou’. McHugh het die bakleitoets in 1995 teen Kanada hanteer toe hy James Dalton afgestuur het. Hendriks is later gerooikaart, wat hom ’n Wêreldbeker goue medalje gekos het. Die einde van die saak is dat ek op die laaste nippertjie ’n paar manne op die trein gelaai het en Durban toe is.”

piet-van-zyl-tekkel

Piet van Zyl se omstrede doodvat op die onbeholpe Ierse skeidsregter, David McHugh. Hierdie voorval het die internasionale rugbywêreld tot in sy fondamente geskud. “Maar”, sê Piet, “ek het ten minste my arms gebruik, nie soos Owen Farrel teen die Bokke nie.” Piet van Zyl, geharde Springbok-ondersteuner en afkomstig van die dorp Springbok in Namakwaland, was onmiddellik wêreldnuus. Sedertdien het sy twee vrouens Rosemary en Sherine hom ontval. Na sestien jaar gaan hy gaan hy nou seil op sy droomboot, African Dream. Foto: Verskaf.

“En toe lóóp jy vir McHugh?”

Piet van Zyl lag skalks. “Ja en dit was ’n skoon têkkel. Nie sonder arms soos Owen Ferrel nou die dag teen die Bokke op Twickenham nie.”

“Wat presies kan jy van daardie insident onthou, Piet? Ek onthou op jou trui se rugkant het die woord ‘Bokke’ gepryk.”

“Dis reg. Ek het tot vandag toe nog daardie trui. Justin Marshall (All Blacks-skrumskakel) moes die bal in die skrum ingooi. Ek het teen daardie tyd gewonder hoe ’n skeidsregter sulke openlike partydigheid kon openbaar wat mense se lewens onherroeplik raak, en hy kom skotvry daarvan af. Ek kon sy voortrekkery net nie meer ’n sekonde langer verduur nie. Voor ek my kom kry, bevind ek my ná die soveelste blaps van die Ier op die veld. Ek het hom met ’n wettige duikslag aarde toe gesmeer. Daar ontstaan ’n losskrum en ek en McHugh beland heel onder. Met die valslag, toe hoor ek net been klap, toe weet ek, Meneer se skouer is nou morsaf. En McHugh tjank soos ’n maer vark en hy skrou ‘Help me! Help me!” Toe gryp Andrew Mehrtens (All Blacks-losskakel) wat in dieselfde Durban gebore is, my agter die kraag en probeer my wegtrek. En AJ Venter van die Springbokke pot my twee keer en ek kry ’n bloedneus. Richie McCaw lê ook vuis in, maar hy breek sy hand teen my kop, want ek kom van Namakwaland af en is niemand se speelmaat nie. McCaw kon ’n paar wedstryde nie speel nie omdat my kop vir hom te hard was. Intussen probeer Bullet (James Dalton, Springbok-haker wat in 1995 teen Kanada deur McHugh afgestuur is) tot my redding kom. Hy gryp vir Mehrtens en skree ‘Leave him, leave him!’ .”

Ek luister aandagtig want hierdie inligting het Piet van Zyl nog met geen lid van die media gedeel nie.

“En toe arresteer hulle jou.”

“Ja. Dit was so ’n kaalkopmannetjie van Wolf Security en ’n polisiereservis. Hulle druk my arm hoog agter my rug op en sleepdra my van die veld af. Jy kon eers ’n speld hoor val. Maar toe juig die ganse skare my toe. Kaalkop sê vir die reservis ‘Just give me five minutes alone with this guy.’ En ek dag by myself, nee outjie, jy’s te lig in die broek vir my. In die pawiljoen boei Kaalkop my en druk die boeie só hard in my polse in dat my vingers so dik soos eiervrug opswel. Toe daag daar ’n man in jeans en ’n Springboktrui op. ’n Polisiekaptein salueer hom. Ek kom toe agter maar die man is Wessie van der Westhuizen, direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal. Ek pleit toe by hom: ‘Meneer, kyk tog na my hande asseblief.’ Hy vra toe vir Kaalkop, maar wat is hier aan die gang, waar is die boeie se sleutel? Hy weier eers, tot die polisieman laat hom verstaan ‘Kêrel, as jy nie nou saamwerk nie, arresteer ek jou.’ Toe beduie Kaalkop, die reservis het die sleutels. En Wessie kry die lopers in die hande en sluit die boeie oop. Hy gee my ’n Coke, maar my vingers is só opgeswel, hulle lyk soos piesangs, en ek laat val die blik. Toe stuur Wessie iemand om nog ’n Coke te koop. En my neus bloei soos AJ my geslaan het.”

“En toe vat hulle jou die weg Durban-Sentraal toe?”

“Ja, maar ek was nooit in die polisieselle nie. Hulle het my vingerafdrukke geneem, maar ek kon al my persoonlike goed behou, van my kontant tot my skoenveters. Ek het die hele nag in ontvangs saam met die polisiemanne deurgebring. Ek het tot vir hulle hamburgers gekoop en saam met hulle in die vangwa rondgery! Intussen reël Wessie dat ek kon borg kry. Maar Sarvu (die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie) wou my in aanhouding laat hou en beweer ek is ’n bedreiging vir skeidsregter McHugh se lewe. Wat belaglik was.”

“En toe kry jy borgtog, Piet?”

“Rian Oberholzer wou om de dood nie hê dat ek borgtog kry nie. Daar was ’n Indiër-landdros wat hom nie deur Sarvu wou laat voorskryf nie. Ek onthou nou nog hy was van Hof B in Durban. Hy het reguit gesê, ek, Pieter van Zyl, het (ook) regte en geen saak sal in ’n hof waar hy in beheer is, gestoomroller word nie. Ek kry vir Rosemary (my oorlede vrou) op Potch in die hande en sy jaag deur die nag Durban toe. My borgtog was toe op R5 000 vasgestel, wat ons die Sondagoggend betaal het.”

“En toe kom jou saak voor?”

“My saak kom ’n maand later voor. Toe moes ek hoor hulle het hierdie simpatieke Indiër verwyder en hom vervang met ’n slymerige vent met sulke slangogies. Hy kon my net een keer in die oë kyk. Sy naam was Russel Hand. My regsadviseurs kon daarin slaag om die aanklagtes teen my te laat wysig van aanranding met die doel om ernstig te beseer tot gewone aanranding. Maar Slangoog bevraagteken my identiteit. Hy glo nie ek is net ou Piet van Zyl van Springbok en Potch nie. Op die ou end gee Hand my R10 000, wat ongehoord was. Sy woorde aan my was dat daar geen verskil tussen my en ’n gewone misdadiger wat inbreek en roof is nie.”

“En jy en Rian Oberholzer?”

“Ja, en hy wat Rian Oberholzer is, sit intussen onverpoosd sy vendetta teen my voort. Hy braak gal teen my en brandmerk my vir die buitewêreld as hierdie ‘brandy drinking, boerewors-eating hooligan”. Hy belowe Suid-Afrika en die internasionale gemeenskap dat Piet van Zyl nooit weer sy voete op ’n rugbyveld in Suid-Afrika sal sit nie. En hy was maar net die magtige Louis Luyt se skoonseun. Op Potch het die stories dik geloop dat hy niks beters as Potch Gimnasium se derde span kon bereik nie.”

“Maar jy het laaste gelag?”

“Ja my vriend. ’n Week later nadat ek my standpunt oor McHugh gemaak het, was ek terug by rugby – op daardie selfde Ellispark waar Oberholzer koning kraai! Dis die toets teen die Aussies wat Werner Greeff vir ons wen. Toe ons daar opdaag, sien ek ’n golfkarretjie pyl reguit op ons groepie af. Ek weet toe onmiddellik, ek moet myself maar vetsmeer, hulle soek my. Daar klim twee netjies aangetrekte manne uit. Een van hulle kom na my en steek sy hand uit. Hy sê ‘Ek is Willie Geldenhuys, bestuurder van Ellispark. Baie welkom op Ellispark, mnr. Van Zyl.’ Geen waarskuwings van jy moet jou gedra of wat ook al nie.”

“Piet, die media het dit uitgebasuin dat jy smoordronk was toe jy McHugh bestorm het. Maar vertel my nou, hoeveel het jy daardie dag gedrink?”

“Ja, Pierre Massyn, jy moes daardie vraag vra. Maar ek kan jou nou met my hand op my hart belowe ek het daardie Saterdag net een driekwartbier uitgedrink! Ons het uitgewerk dat dit was nie meer as 280 milliliter was nie! En ek het hom gedrink tweeuur die middag toe ons die hekke van die stadion binnegegaan het – minstens twee uur voor my en McHugh se paaie gekruis het! Dus kan ek jou eerlikwaar verseker ek was nie gesuip nie!”

“En hoe voel jy nou, sestien jaar nadat jy ongevraagd op die voorblaaie was?”

“Ek het wonderlike vriende gemaak. Advokate het aangebied om my kosteloos te verteenwoordig. Mense het geld namens my ingesamel. Ek het tot twee jaar gelede nog ’n losie op Ellispark gehad. Ek was ’n gereelde gasspreker op manne-aande. Ek het geld help insamel vir skole om jong spelers te help. Ek en Thys Lourens en Toy Danhauser en wyle Dirk de Vos. Ek het dikwels nie geld gevra vir my optredes nie. Dis hoe passievol ek oor rugby was en is. Maar die rugbyowerhede waardeer nie die toeskouers genoeg nie. Dis ouens soos ek en jy wat ten duurste betaal vir ’n kaartjie om ’n wedstryd by te woon. Kaartjies raak onbetaalbaar duur. Hulle moet na ons kyk voor rugby ’n natuurlike dood sterf.”

En wat is Piet van Zyl se planne?

“Ek het twee vrouens aan die dood afgestaan, Rosemary en Sherine. Daar is agtien maande gelede ’n ernstige hartprobleem by my gediagnoseer. Ek is nou sestig. Ek het van al my sakebelange in die mynbou en die vissersbedryf op St. Francisbaai ontslae geraak. Ek besit geen vaste eiendom meer nie. Ek bly soms by my kinders op Krugersdorp. Ek het vir my ’n boot gekoop. Sy naam is African Dream en hy’s ’n 52-voeter. Jy ken bote. Om te gaan seil, was my en Sherine se droom. Hy was ’n kaag – tweemaster – maar ek het van sy besaansmas ontslae geraak. Ek gaan met hom Mosambiek toe seil en my lewe daar geniet. Jy kan saamgaan. Dan gesels ons oor rugby.

“En steek jy nog ’n dop, Piet?”

“Nee man, die dok het my mooi laat verstaan my hartkwaal en drank hou nie saam braaivleis nie. Ek drink nou net een sopie brandewyn per maand.”

En op hierdie noot moet Piet van Zyl terug na Houtbaai vertrek om aan sy African Dream te werk. Daar wag ’n nuwe lewe vir hom ná rugby en smaad en onwelkome roem. Ek gun hom dit.

  • Pierre Massyn is ’n oudjoernalis, seiljagvaarder en skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

brens ·

Dankie hiervoor! Eks nog altyd n Piet aanhanger! Eintlik moet ek bieg; eks nog altyd heimlik verlief gewees op hom! Lekkerrrr Pieta!!

Frans C ·

Dit is nie die eerste keer dat ‘n skeidsregter openlik een span bo ‘n ander bevoordeel nie Op 12 September 1981 Eden Park, Auckland .,is die wedstryd en die reeks gelykop,maar die All Blacks wen 25-22 toe die skeidsregter Allan Hewson besluit om ‘n beseringstyd ‘n omstrede strafskop aan die All Blacks toe te ken.

Die toets was bekend as die meelblombom toets.Die All Blavk stut Gary Knight was ‘n slagoffer toe ‘n meelblombom hom tref wat uit ‘n Cessna-vliegtuig gegooi is.
Wynand Claassen wat toe Springbokkaptein was het na bewering beleefd verneem of New Zealand ‘n lugmag het.

Hierdie Springbokke het onder uiters moeilike betogings goed presteer.Wen al die toerwedstryde met een gelykop en verloor reeks omstrede 2-1.Hierdie ouens het murg in hul pype veral as ‘n mens in agneem dat daar waar hul ook al was, deur betogings geteister is, een van die beste toerspanne.

Ruan Steyn ·

Enigste boelie van die die dag was ou AAA JEE, wat grootmeneer “polisieman” probeer speel het op die dag!

Herman ·

Bavo! Bravo! Bravo!
Piet, ons het slegs 300 man van jou kaliber nodig om die felistyne te verslaan en weer hierdie land op die regte pad te kry. Dankie vir daardie têkkel.

James ·

Salute Piet van Zyl! Ons almal haat eenoog refs! Jy het gedoen wat ons almal graag op een of ander staduim wou doen! Sterkte vorentoe! In my boek is Piet van Zyl van Potch en Mannetjies Roux op gelyke veld! N.S. Oberholzer se……..

Swartwolf ·

Jy beledig vir Mannetjies. Vir ‘n begin kon hy tackle en sy pens het nooit by sy trui uitgehang nie. Dink nie hy was ooit gesuip op ‘n rugbyveld nie.

chrissie ·

Ek ken oom Piet baie goed, en hy het maar net gedoen wat almal daai dag wou nie!! Jy is n yster my oom!!!

Swartwolf ·

Daai dag was ‘n skande vir SA rugby toe ‘n dronk boepens man met ‘n springboktrui wat sleg pas ‘n toets onderbreek om ‘n skeidsregter wat hom nie sien aankom het nie kamstig te “plettervat”. Die video wys die tackle was half mis en net een arm het die ref laat val. Nou praat hy soos ‘n grootmeneer oor die skandelike optrede. Is dit die gedrag van ‘n “yster” ? Nie ‘n rolmodel vir my nie.

Boerseun ·

Ek stem saam. Hy het daai dag daai dag elke liewe negatiewe stereotipe rondom Afrikanermans gestand gedoen, en ons almal deur die modder gesleep.

Die ware ysters wat ek ken dring nie soos ‘n klomp suiplap boepens-narre ‘n rugbyveld binne en duik ‘n onverwagtende skeidsregter nie.

Dit is nie verteenwoordigend van die Calvinistiese Christen-Afrikaner waardes waarmee ek grootgemaak is nie!

Jaco ·

Boerseun en Swartwolf, hoekom skryf julle onder skuilname? Seker bang Piet duik julle ook, ek haal my hoed af vir “YSTER PIET” dit dit definitief nie in julle 2 se broeke om so iets te vermag nie, wat nog te sê die man was dronk. Was julle daai spesifieke dag daar en is hy getoets dat hy gesuip was? Dis sulke mense soos julle wat met toe oë deur die lewe gaan wat nie n dooie Duit omgee oor wie ons in doen nie. Ek is seker as so iets weer gebeur sal Piet dit weer doen, ek sal dit ook doen.

Smirre ·

Ritchie McCaw en AJ moes hom nog harder gemoker het. Wat ‘n skande vir ‘n Afrikaner man. Was daai dag so skaam om die Springbok trui aan so dronk nar te sien. En die hele rugbyspelende wereld het vir ons gelag. Nou verkoop hy hom as ‘n held? Met al sy geldinsameling praatjies etc. Het hy al publiek om versioning gevra ? Het hy al vir McHugh gese hy is jammer hy het sy skouer gebreek ? Nee hy spog daarmee. Swak tipe.

Jaco ·

Smirre as jy so skaam kry wat soek jy nog in RSA??? AJ is en was n kapok haantjie elke keer wanneer hy op die veld draf. Later is hy uitgesort dis hoekom hy pad gekies het Durban toe. Wat Richie betref hy het slegter daarvan afgekom, wat het hy gedink gaan met n man van Namakwaland gebeur(sterk soos n bees) om vir Piet met die vuis teen die kop te slaan, tipies All Black speler. Nogal interessant dat jy opkom vir n All Black en n Shark(ooreenkomste is daar albei arrogante spelers, albei speel in swart en wit) jy ondersteun seker altwee daai spanne.

Martin ·

Ek is n afrikaner man. Albeit jonk….nogsteeds. Ek is nie skaam oor die insident nie….was nie reg nie. Hier is goed waaroor ek skaam is. Opmerkings soos hierbo van manne wat agter hulle christenskap skuil en ander mense oordeel. Ek is skaam dat ons teen Japan verloor het. Ek is skaam dat springbok wedstryde leeg is. Ek is skaam om te erken dat ons land so paar cm van die onderkant van n toilet is. En ek is skaam om afrikaans te wees want die manne hierbo maak die naam afrikaner sleg.

Leef en laat leef ..sterkte met die gesondheid oom Piet

Jakes ·

Ai man die oom is n legende…
Almal wat gal braak oor hoe hy afrikaners n leed angedoen het is belaglik….. .. en al hierdie goed opgevoede kerk ooms is maar BAIE judgemental oor oom Piet…
Se dit nie in die bybel “thou shalt not judge”? Of is dit nou Mark Twain or miskien Voltaire wat dit kwyt geraak het.

En sulke gedgrag is niks nuut aan sport…. wereldwyd.
So ooms… sit maar julle kanale dan op boer soek n vrou, en drink n koppie tee……

Die oom is n yster…. lekker oom piet.!!!

En die berif was baie lekker om te lees.

Lekker lag ·

Niks met judge uit te waai nie. Meer met skandelike gedrag wat die skuldige nou kamstig in ‘n heldedaad wil omskep. Dit was swak, ongevraagd en ongemanierd. Boonop onbeholpe en pateties uitgevoer. Swak lae vlak optrede en oordeel. So ook die wat dit goedpraat.

Deon ·

Jaco, ‘n nugter volwasse mens doen nie so iets nie. Hy was storm dronk.

AndreDP ·

Wel, die oom is nogsteeds besig om sy eie beul oor die insident in die media te blaas. Wat moet mense doen? Stilbly en maak of dit reg is? Nee.

Die oom kan gerus maar doen met ‘n bietjie nederigheid, en daar is niks daarmee as mense hom daarop wys dat sy gedrag afstootlik is nie.

En al die mense wat hom ‘n “yster” hits net verder sulke gedrag aan.

Vra jouself bietjie af – daar was outjies op die grens wat hulle lewe vir hulle land gegee het. Hulle was ysters. Steratlete wat dag-in en dag-uit oefen om die onmoontlike reg te kry. Hulle is ysters. ‘n Man wat ‘n bullebak wat sy vrou slaan aanvat, al weet hy hy gaan tweede kom. Dit is ‘n yster.

Wanneer iemand op die veld hardloop en ‘n skraal ou skeidsregtertjie van agter af têkkel. Nie in my boekies in die kategorie van “yster” nie. En niemand koop die storie dat hy nie dronk was nie.

Ek wens die oom alle vrede en geluk toe in die toekoms, maar hy moet liefs nie verder sy swak gedrag probeer goedpraat nie. Dit stel ‘n swak voorbeeld vir ons kinders.

Nico ·

Wel ek kan net sê dat Piet ‘n wonderlike mens is met ‘n uiters aangename persoonlikheid. Ek het hom later daardie jaar ontmoet toe hy daar op vakansie was en by die kantoor was waar die bote te water gelaat is en ons het baie lekker gesels. Niks aansitterig en grootdoenigheid aan hom nie. Geniet jou boot Piet.

AndreDP ·

Ek glo hy is en dat hy ander goeie kwaliteite het. Hy lyk soos ‘n nice persoon op die foto daar saam met sy seun.

Maar die insident was verkeerd en dit moet nie goedgepraat word nie. Dis al.

Swartwolf ·

Jaco jy laat my lag. Het jy die video van die insistent gesien ? Sterk soos ‘n bees….??? Ha ha wat ‘n grap. Die ref het hom amper afgestamp…..Wat het skaamkry vir die liederlik gedrag met in SA bly uit te waai? Vir elke nar wat hom so gedra is daar tien ordentlike mans met ruggraat. Vergelyk Ritchie se waarde sisteem, sy leierskap en optrede met wat jy jou probeer goedpraat. Jy kom sleg tweede. Dat die boepens dronkaard ‘n legende is is seker so in julle lokale kroeg. Res van die eereld sien hom as ‘n dronk nar.

Nico ·

Swartwolf. Staan dit vir ANC under cover? Al wat ek vir jou wil sê VIVA PIET.

Henry ·

Goed gestel Swartwolf.
Daar is nog heelwat toepaslike beskrywings vir hierdie siel en sy ondersteuners se manewales. MM se woordspietkop smyt dit egter in die snippermandjie.
Feit is dat hierdie boepens met ‘n Boktrui, ons Afrikaanse ouens ‘n reuse onguns bewys het – asof enige mens so iets nodig het.

Amanda ·

Hoe swak om te dink hierdie is legende materiaal. Ek neem aan dit het te doen met opvoeding en waardes. Swartwolf ek stem saam met jou, dis eerder ‘n absolute skande. Hoe iemand helde verering het vir dié tipe gedrag gaan mens se verstand te bowe.

LHS ·

Beslis nie reg nie maar uiters komies gewees, die insident met alles daarna. Piet wees eerder bly AJ en Ritchie het jou nie behoorlik getref nie want jy so verseker n rukkie langer in Durban hospitaal moes aanbly.

Swartwolf ·

Ha ha berig se alles definetief ‘n legende op meer as een gebied. Karakter skyn uiteindelik deur op alle gebiede van die lewe. Van rugby pawiljoen tot tjokka vang…..

Jittete ·

Indien die berig akkuraat is, hoop ek ay skuldeisers spoor hom op. Dit is horribaal hoe swendelaars families se lewens verwoes en dan daarmee wegkom.

Henry ·

Was die skrywer van hierdie skryfsel onbewus van die inligting wat Lekker lag oor ‘John Smith’ verskaf???
Vreemd.
Om dit sagkens te stel.
:-)

Frans C ·

Was dit die regte ding om te doen.Nee dit was nie.Al wat die video wys is dat almal op
die ou toesak en drie ‘veiligheid’ personeel sukkel om hom onder beheer te kry en van die veld te verwyder.

Maar dat skeidsregters in belangrike wedstryde foute maak wat spanne wedstryde kos
blyk duidelik uit:’https://www.timeslive.co.za/sport/rugby/2018-11-28-referee-angus-gardner-makes-shocking-admission-about-owen-farrells-tackle-on-andre-esterhuizen’

‘In a shocking admission that’s bound to make his officiating life difficult in South Africa‚ Australian referee Angus Gardner admitted to making an error by not penalising England flyhalf Owen Farrell for his illegal tackle on Springbok centre Andre Esterhuizen earlier this month.’

En nieteenstaande dit word die man aangewys as ‘skeidsregter van die jaar’ deur niks minder as Wêreldrugby voorheen (IRB).

Johann ·

Beslis geen rolmodel nie. Pateties dat hy en ander hom nou as held voorhou. Lees hoe beskryf hy onder andere die regter(s). Nee wat die ou video spreek boekdele.

Swartwolf ·

@Nico: dis jou reg jy kan viva Piet tot die perde horings kry. Gooi sommer ‘n paar amandlas en awethu’s ook in aangesien jy nou politiek ook wil praat. Nee ek is nie anc under cover nie net doodgewone persoon wat dronk onbeskofte gedrag kan onderskei van publieke aanvaarde, wel opgevoede gedrag. Dis maar al.

Piet ·

Dankie, Brens. Jy sou my laat bloos, as ek nog kon. Maar op 60 is ek uitgebloos. Lekker om jou te ontmoet. Al is dit deur Maroela.

barend ·

ou swartwolf wens ek het geweet waar jy bly sou jou graag wou duik

Swartwolf ·

Barend los die geduikery vir ouens soos Piet netnou breek jy dalk jou skouer of jy duik mis en daar is nie eers kameras om jou heldedaad af te neem nie.

?/? ·

As die intellek en argument ontbreek, is geweld seker al wat oorbly om ‘n punt te bewys. Tragies.

Smirre ·

As jy soos Piet duik na ‘n paar doppe, wat ek vermoed, het Swartwolf niks te vrese nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.